Tannie Kokkie het ’n manier gehad om ons kinders te troos met die woorde: “Ag, vee af daardie trane. Die Boere-oorlog was veel erger.” Dit het my aan die dink gesit. Was sy reg? Ek maak die boeke oop en sien dinge wat kinders nie behoort te sien nie, maar hulle hét. Uitgeteerde liggaampies. Lewelose moeder-oë. Seuns met sannas, groter as hulself.

Ek lees We have a good story to tell deur dr. Phillip Theunissen. Eintlik moet al ons boere dit lees. Dit bewys die murg in hul pype. Die oorlog het in 1902 geëindig, nadat 90% van die veestapel in die Vrystaat vernietig is. Altesame 26 dorpe is verwoes. Alles, van huise tot oeste op die lande, is afgebrand. Asof dit nie genoeg is nie, gooi die vyand sout op Boere se lande om toekomstige hoop te kniehalter.

Lord Milner skryf: “Even if the war is to come to an end tomorrow, it would not be possible to let the people in the concentration camps go back at once to their former homes. They would starve there. The country is for the most part a desert. The country is quiet. It is a complete wreck. It is a melancholy spectacle. Now a country which the war had converted into a absolute wilderness. These old fellows, quite uneducated in our sense, who have never read a book except their Bibles, and very frequently cannot write an ordinary letter, are yet the landed aristocracy and are Gentlemen in the best sense: dignified, courteous, hospitable, and amasingly self-controled.”

Vyf jaar! Dit is hoe lank dit ons voorouers gekos het om uit niks op te staan, die landboukapasiteit te herstel en welvaart te herwin.

’n Brief aan Milner

In 1902 skryf JA Hobson: “The Free Staters knew what they were doing and what they wished. They are proud of their country and have good reason for their pride. On a poor soil, unable to support its population, except by assiduous toil, they have built up one of the most successful nations the world has ever seen.”

Ek wil bars van trots. Ons is voorwaar ’n unieke nasie, wat aanmekaargesit is met spesiale karaktereienskappe. Dié van wenners. Daarom wil ek vir Milner terugskryf (hulle sê mos it’s not over till the fat lady sings): Mister Milner, Ek sal liewer nie ‘lord’ sê nie, want net God is ons ‘Lord’. Ek voel net genoodsaak om iets te verduidelik. “This old fellas” sou geleerd gewees het as iemand nie ons skole afgebrand het nie. Briewe skryf was vir niksdoeners, ons boere moes werk.

Briewe skryf was vir niksdoeners, ons boere moes werk.

As daar wel ’n ruskans was, is dit deurgebring op knieë in gebed en met Bybel lees. Dit is waar ons mans geleer het om gentlemen te wees. Die eer kom ons nie toe nie. Dit is die Bybel wat ons geleer het om dignified, courteous, hospitable en self-controlled te wees. Rus in vrede, Sus Sanna (agter-agterkleindogter van die Dafels en Venters) Tannie Kokkie was reg.

Die Boere-oorlog was erger. Maar danksy hulle weet ons waar ons deursettingsvermoë en dryfkrag vandaan kom. As hulle kon, kan ons ook. Dieselfde bloed wat in hulle are gebruis het, leef vandag in ons voort.

Hulle pyn en smart was nie verniet nie. Ons gee betekenis aan hul trane deur die stof van ons broeke af te skud en weer te probeer. Net soos hulle dit sou gedoen het.

Sanet woon al meer as 20 jaar op ’n plaas in die Oos-Vrystaat waar haar man ’n gemengde boerdery bedryf. Hulle het vier seuns. Sy het onderwys op Potchefstroom gestudeer en het ’n ruk gelede ’n skryfskool in die Wes-Kaap voltooi.