Suid-Afrika se landbou is bloot nie sterk genoeg om teen die groot spelers in die bedryf staande te bly nie. Bedrywe moet nou al besin oor hoe om plaaslike boere te beskerm teen dié ontwrigting en met die staat begin onderhandel.

Daar is al baie debatte gevoer oor die nodigheid dat die staat sy steun aan die landbou in Suid-Afrika moet vergroot. ’n Mens hoor soms op kongresse nog versoeke dat die staat sekere dinge moet subsidieer. Natuurlik is daar sekere dinge wat ’n regering behoort te doen.

Een daarvan is om ’n gesonde beleidsraamwerk daar te stel met duidelike doelwitte en watter aksieplanne gevolg gaan word om dié doelwitte na te streef. Die tweede aspek is dié van ’n ramphulp- bystandskema vir die landbou wat nie na willekeur deur staatsamptenare toegeken word nie.

Derdens is daar die staatsbegroting wat as deel van die staat se funksies ’n begroting vir die departement van landbou het wat sekere administratiewe en beheerreëlings moet toepas. Dit raak aspekte, soos die bekamping van siektes, inspeksies en nog meer. In Suid-Afrika sluit dit ook bedrae in vir navorsing en voorligting.

Die vraag is dan: Hoe vergelyk Suid- Afrika met ander lande wat suksesvolle kommersiële landbousektore het? Het plaaslike boere soortgelyke staatsondersteuning of is hulle op hulself aangewese?

Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) doen jaarliks ’n studie waar staatsteun aan die landbou in 51 lande gemeet word en bepaal word of die steun toe- of afneem. In die laat 1980’s is in die sogenoemde Uruguay-ronde onderhandelings binne die nuwe Wêreldhandelsorganisasie (WHO) gevoer.

Daarvolgens het lande ooreengekom om staatsteun aan hul landboubedrywe te verminder. Die besluit is ook geneem om veral eerder na onregstreekse steunmaatreëls te beweeg, pleks daarvan om ontwrigtende subsidies aan hul landboubedrywe te gee wat gekoppel is aan produksie en/of uitvoer.

Daar is ook ooreengekom hoe tariewe verlaag moes word (ook in Suid-Afrika se geval). ’n Duidelike stel internasionale handelsreëls is ingestel om handel vryer te maak.

Tyd vir herbesinning oor handelsbeleid in SA?

Ek dink hierdie debatte raak weer belangrik, want Amerika is besig om eensydig die internasionale reëls en ooreengekome grondslag waarop handel gedryf en dus meegeding word, te verander met dreigemente van ’n sogenoemde tariefoorlog.

Amerika besluit eensydig watter nuwe en verhoogde invoertariewe moet geld om sy bedrywe teen mededinging te beskerm en lande wat na Amerika uitvoer, in die proses te straf.

Amerika se sekretaris van landbou het ook bekend gemaak hy oorweeg dit om ekstra subsidies aan sy boere te gee as China voortgaan om tariewe teen Amerikaanse landbouprodukte in te stel, wat Amerikaanse boere finansiële verliese sal laat ly. Dit is strydig met die ooreengekome WHO-reëls en verdrae.

Dit raak elke dag duideliker dat die afgelope twee dekades se beweging na ’n vryer handelstelsel en minder ontwrigtende steun aan die landbou besig is om te verval. Dit is ’n nuwe bedreiging vir ’n land met ’n onbeskermde handelstelsel soos Suid-Afrika en sy landbou.

Dit help nie die landboubedryf vra die Suid-Afrikaanse Regering om meer regstreekse subsidies aan die landbou te gee nie. Ons weet immers die staat se kas is leeg. Grafiek 1 hierbo toon die verloop van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se begroting as persentasie van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP).

Die dalende neiging is duidelik te sien. Dit beteken egter ons moet vroegtydig debat begin voer oor die regte beleidsmaatreëls wat Suid-Afrika behoort in te stel, want internasionale reëls word tans op groot skaal verbreek.

As die Regering wil voortgaan om baie nuwe boere te vestig wat kan meeding teen die verwagte en stygende handelstariewe en -subsidies, asook die daarmee gepaardgaande verwringings in markpryse, sal hy vroeg al baie meer aandag daaraan moet gee om die tariefbeleid en beskerming aan te pas teen die ontwrigtende mededinging.

Amerika steur hom beslis nie aan die WHO se reëls nie. Daar is ’n lang lys ander produkte, maar kyk byvoorbeeld na Amerika se sojaboonpryse wat reeds in Junie met bykans 22% gedaal het.

Dit is weens China se verwagte instelling van ’n nuwe invoertarief van 25% (as strafmaatreël teen Amerika se optrede) op sowat 40 miljoen ton sojabone wat Amerikaanse boere jaarliks na China uitvoer. Suid-Afrika se sojaboonpryse word regstreeks gekoppel aan pryse op die Chicagograanbeurs.

Dit beteken plaaslike sojabone verhandel ook teen aansienlik laer pryse as wat dit hoort. Dit benadeel plaaslike saaiboere finansieel baie en het niks met normale markkragte te doen nie. Dit is weens regstreekse staatsinmenging deur Amerika en China teen die WHO-reëls.

Daar kan nie van plaaslike boere verwag word om in reeds moeilike marktoestande met baie min staatsteun ook die nuwe ontwrigtende handelsomgewing aan te durf nie. Dit is ontstellend dat die Departement van Handel en Nywerheid byvoorbeeld nagelaat het om suiker-invoertariewe af te kondig.

Dit het die plaaslike suikerbedryf groot skade berokken omdat goedkoop suiker ingevoer is uit lande wat staatsteun kry.

Staatsteun aan landbou

Die OESO-studie het bevind Amerika bestee ongeveer $620 miljard per jaar aan landbousteun, wat meestal regstreeks na sy boere gaan. Dit is die ekwivalent van sowat 15% van die bruto waarde van sy landbou- produksie. Dit beteken die boere het regstreekse staatsteun ter waarde van 15% van hul omset gekry.

Die ondersoek het ook bevind sowat twee derdes van die ondersteuning versteur die werking van markkragte en beïnvloed besluitneming. Grafiek 2 toon die maatstaf wat alle steun saamvat ten opsigte van die landbou en nie net dít wat regstreeks op boere betrekking het nie.

Dit sluit byvoorbeeld die staatsbegroting vir steun aan die landbou in, asook tariefbeskerming en ander maatreëls wat nie noodwendig die regstreekse oorbetaling van geld is nie. Daar is bevind dat die steun aan die landbou sedert die middel-1990’s stadig afgeneem het van sowat 1,3% van die BBP van die OESO-lidlande tot sowat 0,7% in 2015-’17.

Daar is ook uiteenlopende neigings, waar party lande se steun aan die landbou toegeneem het. Die OESO-verslag het bevind daar was drie lande waar die totale steun aan die landbou (wat ook gesien word as ’n las op die ekonomie) die kwaaiste gedaal het, naamlik Colombia, die Russiese Federasie en Suid-Afrika.

Daar is lande, soos die Oekraïne en Argentinië, wat by tye meer belasting uit hul landbou verhaal (byvoorbeeld met uitvoerbelasting) as die steun wat die landbou kry. Effens ontstellender is China wat sy steun aan sy landbou skerp laat toeneem het van sowat 1,4% van sy BBP in die laat 1990’s tot 2,3% in die 2015-’17-periode.

Onthou, dit sluit ook maatreëls, soos invoertariewe en ander subsidies, in om uitvoer te stimuleer. Die grafiek illustreer duidelik dat Suid-Afrika onder die lande tel met die laagste totale staatsteun (al die lande kan nie getoon word nie).

Daar is net drie lande waar minder steun aan die landbou gegee word, naamlik die Oekraïne, Viëtnam en Australië. Kanada se landbousteun is effens meer as dié van die Suid-Afrikaanse landbou. Mense wat dink die Australiese regering steun sy landboubedryf, moet hul vergewis van die feite.

Boere daar is net so uitgelewer aan internasionale markkragte en droogtes. Die groot verskil is natuurlik dat Australië ’n baie stabiele beleid het, wat andersins die landbou steun.

Die uitvoer-infrastruktuur is byvoorbeeld van wêreldgehalte, die koste daarvan is laag en dit is uiters doeltreffend omdat sowat 80% van hul landbouproduksie uitgevoer word. Dit geld ook navorsing, waar bedrywe toegelaat word om heelwat verpligte heffings by boere in te vorder en dit te bestee aan navorsing en markontwikkeling.