Die onderhandelinge tussen Amerika en van sy handelsvennote om bestaande handelsooreenkomste te wysig – soms eensydig deur Amerika met nuwe, hoër invoertariewe – het wêreldmarkte onkant betrap.

As pres. Donald Trump voortgaan met die instelling van hoër invoertariewe en China met hoër invoertariewe op veral Amerikaanse landbouprodukte reageer, sal dit die handelspatrone van die wêreld verander.

Handel tussen Amerika, die Europese Unie (EU), Suid-Amerika en China oorheers die wêreld se handelspatrone. Trump is besig om veral die leiers van die EU en China te ontstel met sy dreigmente van eensydige handelsoptrede om Amerika te beskerm.

Die kommersiële landbou in Suid-Afrika het die afgelope 15 jaar toenemend geïntegreerd geraak met wêreldhandel. Verskeie plaaslike bedrywe se pryse en markmeganismes is ineengevleg met internasionale markte.

Dit is ’n resultaat van die deregulering van landboubemarking in die laat 1990’s, wat plaaslike boere gedwing het om hulle by ’n mededingende internasionale mark aan te pas. Die verswakking van die rand teenoor ander geldeenhede het boere al hoe meer laat neig na uitvoerprodukte.

Dit stel die Suid-Afrikaanse landbou baie meer bloot aan internasionale markte as wat die geval tot in die laat 1990’s was.

Verloop van handel

Die in- en uitvoer van landbouprodukte in Suid-Afrika het verlede jaar sowat R181 miljard beloop, wat gelykstaande is aan sowat twee derdes van Suid-Afrika se landbouproduksie verlede jaar. Hierdie verloop oor die laaste 15 jaar word getoon in grafiek 1, wat die totale landbouhandel (in- en uitvoer) teenoor die groei in landbouproduksie toon.

Daarby moet ’n mens voeg dat Suid-Afrika van die laagste invoerbeskerming ter wêreld vir die landbou het. Boonop kry die plaaslike kommersiële landboubedryf van die minste staatsteun wêreldwyd. Grafiek 2 toon hoe die landbouhandel (in- en uitvoer saam) as persentasie van Suid-Afrika se binnelandse landbouproduksie toegeneem het.

Net ná deregulering was die landbouhandel gelykstaande aan sowat 44,3% van Suid-Afrika se landbouproduksie. Verlede jaar was die waarde van landbouhandel gelykstaande aan sowat 77% van Suid-Afrika se landbouproduksie.

Uitvoer was in 2002 sowat 23% van Suid-Afrika se landbouproduksie en dit het nou toegeneem tot 46% van die landbouproduksie. Dit is ’n groot sprong. Daarom behoort die plaaslike landbou baie meer debatte te voer oor hoe die bedryf hom in markte posisioneer en die noodsaak om infrastruktuur vir uitvoer op te knap.

Landbou blootgestel

Omdat landbouhandel so oorheersend is, moet ’n paar werklikhede onder die oog gebring word. Eerstens is die plaaslike landbouproduksie blootgestel aan die internasionale mark en meegaande ontwikkelinge. Dit beteken dat plaaslike boere hulself sonder staatsteun op die internasionale mark kan handhaaf wat gehalte en prysmededingendheid betref.

Tweedens moet Suid-Afrikaners besef dat die plaaslike pryse van voedsel en landbouprodukte mededingend is met die wêreldmark. As plaaslike produkte nie mededingend is nie, word dit ingevoer. Dit geld natuurlik ook uitvoer.

Die feit dat Suid-Afrikaanse landbouprodukte mededingend uitgevoer kan word en dat uitvoer bly groei, bevestig dat binnelandse pryse in pas is met internasionale pryse. Derdens moet plaaslike boerderye en waardekettings só bedryf word dat hulle internasionaal mededingend is met kundigheid en tegnologie van wêreldgehalte.

Uitvoer versnel

Grafiek 3 toon die verloop van invoer en uitvoer sedert 2002 aan. Dié grafiek toon aan dat uitvoer gedurende die afgelope drie jaar begin versnel het.

In dié tydperk het invoer met 473% gestyg (van sowat R15 miljard in 2002 tot sowat R86 miljard verlede jaar), maar uitvoer het met 296% gestyg van sowat R32 miljard in 2002 tot sowat R127 miljard verlede jaar. Die sterker groei in uitvoer kan aan ’n paar faktore toegeskryf word.

Die prestasie is gelewer in ’n vryemarkomgewing met die absolute minimum staatsteun. Dit toon dat die Suid-Afrikaanse landbou oor die kundigheid beskik in sy kommersiële landbou om suksesvol internasionaal te kan meeding en sy markaandeel te laat groei.

Dit beteken ook dat boere op kommersiële vlak die jongste internasionale kundigheid en tegnologie gebruik.

Die pogings van die Regering om nuwe swart boere op klein skaal te vestig, sal daarvan kennis moet neem dat die Suid-Afrikaanse landbou op internasionale vlak blootgestel is aan sterk mededinging en dat nuwe toetreders ook aan die ongenaakbare wêreld van internasionale mededinging blootgestel sal word.

Die vereistes van internasionale verbruikers word al hoe strenger.

Belangrikste landbou-handelprodukte in suid-afrika in 2017 (R miljard)

In- en uitvoerprodukte

Die tabel toon die vyf belangrikste landbouprodukte wat verlede jaar in- en uitgevoer is. Invoer het verlede jaar sowat R77 miljard beloop. Van die vernaamste produkte was rys, palmolie en alkohol, produkte wat Suid-Afrika nie juis lewer nie. Die palmolie word hoofsaaklik as kookolie gebruik.

Die ingevoerde vleis is hoofsaaklik hoendervleis. Wat plantolies betref, kan die produksie van sonneblom- en sojaboonolie aansienlik uitbrei met die oprigting van nuwe verwerkingsaanlegte, mits die olie mededingend gelewer kan word.

Wat sojabone en, in die winterreënstreek, kanola betref, is daar aansienlike geleentheid vir groei. In die komende jare kan verdere invoervervanging verwag word namate die plaaslike produksietegnologie vorder. Suid-Afrika het vanaf ’n selfvoorsienende produsent van koring onder beheerde bemarking geskuif na ’n groot netto invoerder van koring.

Die meeste ingevoerde koring kom uit Rusland. Die plaaslike bedryf voer ’n opdraande stryd teen invoer, selfs met invoertariewe. Uitvoer het sterk gegroei; veral in die meer intensiewe bedrywe. Die tabel toon die uitvoer vir verlede jaar met sitrus, wyn, druiwe en ander sagtevrugte as die belangrikste produkte.

In 2016-’17 jaar was wol ter waarde van R4,2 miljard en neute ter waarde van R3,6 miljard onder die topvyf produkte. Al twee hierdie bedrywe – veral neute – is in ’n baie sterk uitbreidingsfase. Suid-Afrikaanse uitvoer skuif toenemend na hoëwaardeprodukte.

Na verwagting gaan Suid-Afrika in die komende dekade redelike groei in die uitvoer van neute, bessies en ander vrugte sien. Dit bevestig dat die Suid-Afrikaanse landbou met verskeie nismarkprodukte internasionaal mededingend is.

Dit gaan die plaaslike landbou nog meer integreer met wêreldmarkte en van plaaslike boere kundigheid en tegnologie van wêreldgehalte vereis. Suid-Afrika sukkel om mee te ding met kommoditeite, soos mielies, koring en rys, waar groot oppervlaktes vrugbare grond nodig is en skaalekonomie ’n rol speel.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.