Uiteindelik weet ons watse skade die grendeltyd aan die Suid-Afrikaanse ekonomie berokken het. Statistieke SA het bekend gemaak dat die ekonomie in 2020 met sowat 7% gekrimp het.

Sommige ontleders meen dit is die ergste ekonomiese inkrimping sedert 1920, wat beteken Suid-Afrikaners het ’n gebeurtenis beleef wat een keer in honderd jaar voorkom. In die versekeringsbedryf word dit as ’n totale uitskieter gesien; dit kan kwalik slegter gaan.

Dit is dus te verstane dat baie maatskappye en besighede in 2020-’21 ernstige geldelike probleme ondervind. Verskeie genoteerde maatskappye moes bykomende kapitaal bekom om hul besighede staande te hou. Die erns van die diep ekonomiese insinking op ekonomiese produksie, verlies aan welvaart en verlies aan werkgeleenthede moet nie onderskat word nie.

Hierteenoor het die landbou se bydrae tot die ekonomie in 2020 met 13,1% gegroei omdat – met die uitsondering van die drank- en tabakbedryf – met produksie voortgegaan kon word. Mense het kos nodig gehad.

Huishoudings se besteding het met 5,4% gedaal, terwyl die amptelike, eng gedefinieerde werkloosheidkoers tot 32% gestyg het.

Die maatskaplike toelae wat die staat vir sowat 18,5 miljoen mense betaal, is volgens die staatsbegroting wat in Februarie ingedien is, nie veel aangepas nie, wat beteken arm mense gaan nie meer geld beskikbaar hê om op kos en drank te bestee nie.

Ekonomiese ontleders meen die ekonomie kan vanjaar met 3-5% groei, maar dit is van ’n baie laer basis en gaan nie die verlore werkgeleenthede en welvaart opmaak nie.

Veral die mynbou het baie goed presteer. Die vraag na minerale en metale het in die afgelope maande skerp gestyg en pryse (gegewe die randwisselkoers) is baie gunstig. Mynboubelastings het grootliks bygedra tot ’n kleiner tekort op die begroting.

Die ontwrigting van 2020 en die inkrimping in ekonomiese aktiwiteit deur feitlik al die sektore het die invoer van goedere en masjinerie laat afplat, terwyl uitvoer stewig gebly het en selfs gegroei het. Die Reserwebank het bekend gemaak dat die plaaslike ekonomie in 2020 die grootste handelsurplus sedert 2002 op sy lopende rekening, sowat R200 miljard, gerealiseer het.

Die skerp insinking in ekonomiese aktiwiteite weens die grendeltyd en gebrek aan koopkrag was ook voordelig vir die ekonomie. Omdat minder produkte ingevoer is, het Suid-Afrika minder buitelandse kapitaal nodig gehad om vir invoer te betaal. Uitvoer verdien buitelandse valuta en ondersteun die ondernemings en sektore wat wel kon uitvoer. Dit geld natuurlik ook landbou-uitvoer.

Verlore welvaart

Grafiek 1 toon die produksiewaarde in die ekonomie (BBP) in konstante pryse (sonder inflasie). Die ekonomie het in 2020 sowat R200 miljard verloor in produksie.

Statistieke SA beraam dat die ekonomie nou teruggekrimp het tot dieselfde grootte as in 2012. Suid-Afrika het dus amper agt jaar se welvaart ingeboet. Daarom moet ’n mens maar die opgewonde ekonome wat voorspel dat die ekonomie vanjaar met 3-5% gaan groei, met ’n knippie sout vat. Die groei kom van ’n baie lae basis.

Daar is ramings dat dit Suid-Afrika 3-5 jaar gaan kos om die verlore welvaart en werkverliese te herwin. Die ramings is gegrond op die aanname dat die regeringsbeleid wel ekonomiese groei gaan stimuleer, waaroor daar baie twyfel is. Die persentasie verandering dui aan hoe ekonomiese groei al hoe stadiger geword het voor Covid-19 en dan die insinking van 7%.

Wat beteken dit vir die welvaart van die land? Statistieke SA het gaan kyk na die BBP per capita. Dit is die grootte van die ekonomie gedeel deur die amptelike bevolking. Dit is algemeen bekend dat die bevolking erg onderberaam is.

Die BBP per capita word ook as ’n maatstaf gebruik om lande se ekonomiese welvaart teen mekaar te meet, maar veral om die vordering in welvaart oor jare heen te meet. Die BBP per capita van welvarende lande is hoër as armer lande.

Die BBP per capita van Suid-Afrika het in 2020 na die vlakke van 2005 teruggeval. Daar is dus 15 jaar se bou aan welvaart verloor. Die dilemma is dat Statistieke SA aantoon dat die BBP per capita sedert 2014 deurlopend gedaal het, wat beteken Suid-Afrikaners het armer geword weens die ANC se anti-privaatsektorbeleid. Suid-Afrika is wat BBP per capita betref, nommer 94 op die ranglys van lande wêreldwyd.

Kortom, ekonomiese groei hou nie naastenby tred met die bevolkingstoename en onwettige immigrante nie. Nou het die staat nie meer geld om te bestee nie en die vraag is of die ANC in staat is om beleid vinnig te verander om die private sektor te ondersteun.

As voorbeeld toon grafiek 2 die begrotingsyfers vir die maatskaplike toelaes wat die staat betaal. In die vorige jare het die bedrag en die aantal begunstigdes skerp gestyg. Daar word verwag om in die 2021-’22-boekjaar sowat R229 miljard aan 18,5 miljoen begunstigdes te betaal, alles in ’n poging om armoede te help verlig. In 2020 is R256 miljard aan toelaes betaal vanweë bykomende toelaes met die grendeltyd, wat sekerlik gehelp het om armoede te bestry en die voedselmark te ondersteun.

Navorsing toon dat meer as 50% van die maatskaplike toelaes aan voedsel bestee word, wat uiteindelik ook tot voordeel van die landbou is vanweë die groter vraag.

Die feit dat die staat nie meer geld het nie, blyk duidelik daaruit dat in die volgende drie jaar vir geringe verhogings in toelaes begroot word nadat dit altyd baie vinniger as inflasie gestyg het. Dit sal druk plaas op arm mense se vraag na voedsel.

goeie jaar vir die Landbou

Grafiek 3 toon die produksiewaarde van die landbou. Die waarde van produksie het taamlik sywaarts beweeg, maar as ’n mens na persentasie verandering kyk, is dit duidelik dat 2020 ’n goeie produksiejaar was ná die vorige jare se droogte en swak pryse.

Landbou-uitvoer lewer ’n groot bydrae in die groeisyfer. Sowat 40% van die waarde van landbouproduksie in Suid-Afrika word uitgevoer. Dit is sagte- en subtropiese vrugte, druiwe en wyn, wol en neute, en in die afgelope jare beesvleis wat skerp groei toon. Die uitvoer van sitrus groei ook sterk en dit kan vanjaar digby R25 miljard wees.

Grafiek 4 toon hoe verbruiksbesteding deur huishoudings in 2020 gedaal het, wat beteken die koopkrag is bykans R100 miljard minder. Die feit dat rooivleispryse hoog bly, is nie vanweë ’n groter vraag en besteding in die ekonomie nie, maar vanweë ’n baie kleiner aanbod.

Die landbou het die diep ekonomiese insinking vrygespring en soos die ekonomie weer begin groei, sal die vraag na landbouprodukte verder groei, want mense word meer en moet eet, binnelands en in uitvoermarkte.