Die pryse van graan en oliesaad is betreklik hoog en in sommige streke word goeie opbrengste behaal. Dit geld die huidige oes in die somerreëngebied en die vorige oes in die winterreëngebied.

Ná jare van stagnasie het die inkomste per hektaar gestyg en saaiboere begin vergoed vir hul risiko’s en stygende insetkoste. Bruto marges het vanjaar heelwat verbeter met goeie opbrengste nadat talle saaiboere ’n paar moeilike jare beleef het met swak opbrengste en lae marges, wat boere gedwing het om hul reserwes te gebruik.

Die dilemma is dat die nuwe koringproduksieseisoen binne ’n paar weke begin en oor ’n paar maande die nuwe somerproduksieseisoen. Dit gaan heelwat meer produksiefinansiering verg omdat insetkoste skerp gestyg het. Omdat die Land Bank disfunksioneel is, is daar minder produksiekrediet beskikbaar. Handelsbanke se aptyt vir risiko is baie konserwatief met die ekonomie wat nog sukkel om te herstel.

Die Land Bank het verlede jaar sowat R50 miljard landbouskuld gedra en die kraan reeds teen Desember begin toedraai, midde-in die somerproduksieseisoen. Verskeie somersaaiboere kon nie hul insetverskaffers betaal nie weens die onttrekking van die Land Bank. Die verskaffers moes noodgedwonge die produksiekrediet dra tot die nuwe oes nou inkom.

In gesprekke met saaiboere is dit duidelik dat daar kommer is oor die beskikbaarheid van krediet vir die nuwe produksieseisoen, maar veral oor baie skerp verhogings in belangrike insetpryse wat in die nuwe produksieseisoen gefinansier moet word.

Kredietmodelle aangepas

Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het met sy vergadering in Maart te kenne gegee sy ekonomiese modelle toon daar kan in die derde en vierde kwartaal van die jaar rentekoersverhogings verwag word.

Die president van die Reserwebank het gesê die bank gaan probeer om die rekordlae rentekoerse so lank moontlik laag te hou. Finansiers het egter reeds begin om hul kredietmodelle aan te pas vir die verwagte hoër rentekoerse. Dit beteken dat besighede se terugbetaalvermoë gaan krimp teen hoër rentekoerse. Dit gaan krediet ook taai maak.

Dit raak toenemend duidelik dat die Land Bank nie in staat gaan wees om voldoende finansiering te verskaf vir vanjaar se produksiekoste vir saaiboere nie, hetsy regstreeks of deur die landboubesighede wat as kanaal vir geld van die Land Bank opgetree het. Die dilemma hiermee is dat die betrokke boere se verbande ten gunste van die Land Bank as sekuriteit dien.

As hulle ’n nuwe finansier moet kry (wat raadsaam is), moet die proses so gou moontlik aan die gang gesit word. Die indruk is dat die Land Bank enersyds nie die kapasiteit het om regstreeks aan boere produksiekrediet te verskaf nie, en andersyds duur dit skynbaar maande om die verband by die Land Bank gekanselleer te kry, wat dit moeilik maak om nuwe finansiering te bekom.

Koste-elemente

Boere is bekommerd dat die insetkoste van die nuwe seisoen ’n groot hap gaan vat uit die oes se goeie bruto marges, waarvoor voorsiening gemaak moet word.

In lande soos Argentinië waar die wisselkoers onstabiel is en meestal neig om vinnig te verswak, is die strategie van boere om hul graan so lank moontlik op te berg, want die pryse styg namate die wisselkoers verswak. Hulle verkoop dan voorraad wanneer insette aangekoop moet word.

Sodoende verseker hulle dat hulle nie te groot spronge hoef te waag met die aankoop van nuwe insette nie.

Daar is Suid-Afrikaanse boere wat ook die benadering volg en selfs probeer om ’n reserwevoorraad graan in silo’s (sertifikate) oor jare op te bou om as buffer vir ’n slegte jaar te dien. Die dilemma is tans dat die rand in ’n versterkende fase van die siklus is en daarom gaan dié strategie nie noodwendig goed werk nie.

Chemiese insette

Die ander faktor is dat veral chemiese insette wat ingevoer word en aan internasionale grondstofpryse gekoppel is, reeds ’n paar maande voordat die plaaslike produksieseisoen begin, ingevoer word. Dit beteken daar is ’n sloertydperk van ’n hele paar maande vandat die grondstowwe oorsee aangekoop word totdat dit op die plaas aangewend word.

Die wisselkoers kan in sulke tye moles maak as dit vinnig verswak. Heelparty maatskappye wat chemiese grondstowwe invoer, verkies dan ook om hul blootstelling aan die wisselkoers te verskans.

Suid-Afrika is tans in ’n omgekeerde situasie omdat die rand sterker neig, maar waarskynlik het invoerders reeds hul wisselkoers verskans toe die bestellings geplaas is. Dit sal dus ’n wyle duur voordat die sterker rand na die plaaslike pryse deurwerk.

Die ander faktor is internasionale seisoenale vraagneigings. Die Noordelike Halfrond is nou in sy plantproses, wat beteken die vraag na chemiese insette is tans baie hoog. As ’n mens in ag neem dat nagenoeg 32 miljoen ha in Amerika met mielies beplant word teenoor sowat 2,6 miljoen ha in Suid-Afrika, is dit duidelik waarom die internasionale vraag na chemiese insette siklies is en pryse aandryf.

Internasionale skeepsvragtariewe het ook oor die afgelope jaar met meer as 200% gestyg, wat invoerkoste opjaag.

Die tabel toon as voorbeeld die persentasie wat chemiese insette (brandstof, kunsmis, insek- en plaagdoders) uitmaak van die direkte produksiekoste van gewasse in twee streke. Dit sal natuurlik effens wissel tussen streke en bewerkingsmetodes, maar dit gee ’n duidelike antwoord: Chemiese insette is sowat die helfte tot twee derdes van ’n saaiboer se insette. Prysstygings in die insette vir die nuwe seisoen is daarom ’n groot knelpunt.

CHEMIESE INSETTE AS % VAN DIREKTE KOSTE (BRANDSTOF, KUNSMIS, INSEK- EN PLAAGDODERS)

Olieprys en wisselkoers

Die internasionale olieprys en die wisselkoers van die rand speel ’n groot rol in die prys van chemiese insette. Grafiek 1 toon die verloop van die internasionale olieprys ($/vat) en die randwisselkoers. Sedert die begin van die somergraanproduksieseisoen verlede Augustus het die rand bly versterk en behoort ingevoerde chemiese insette se pryse laer te word.

Die internasionale olieprys het oor die grafiek se tydsverloop met 48% gestyg, terwyl die rand met 20% versterk het. Die opwaartse druk op pryse kom dus vanaf die internasionale mark. Die herstel in die groot internasionale ekonomieë ná die Covid- 19-grendeltydperk het die vraag na baie insette aansienlik laat styg en pryse het hoër geneig. Dit is natuurlik ook een van die redes vir die hoër brandstofpryse in Suid-Afrika: Die olieprys het vinniger gestyg as wat die rand versterk het.

Grafiek 1: Randwisselkoers en internasionale olieprys

Kunsmispryse

Grafiek 2 toon die stygings in internasionale kunsmispryse (Februarie 2020 tot Februarie 2021) en die pryse in Suid-Afrika (Maart 2020 tot Maart 2021) soos deur Graan SA verskaf. Plaaslike kunsmispryse was in Maart 2021 aansienlik hoër as ’n jaar gelede, maar het nie soveel gestyg soos die dollarpryse van kunsmis oorsee nie.

Grafiek 2: Kunsmisprysstygings

Daar kan verskeie redes hiervoor wees, maar vermoedelik is dit ’n sloereffek omdat die Noordelike Halfrond nou ’n baie sterk vraag na groot hoeveelhede insette het te midde van sy produksieseisoen.

Ander stygings in insetkoste wat saaiboere in die nuwe produksieseisoen in ag moet neem, is die styging van sowat 16% in minimum lone vir die komende jaar. In die geval van besproeiingsboere bly elektrisiteitskoste styg en dit raak ’n knelpunt.

Internasionale skeepstariewe het die afgelope jaar aansienlik gestyg, deels as gevolg van die hoër brandstofpryse, maar ook omdat ’n agterstand in verskeping ontstaan het weens die ontwrigting van die internasionale grendeltyd.

Landbouprodusente is in ’n voortdurende stryd gewikkel om stygende insetpryse te probeer klop met beter produksietegnologie om hoër opbrengste te behaal. Dit verg slim beplanning om reserwes op te bou vir swak jare (en jare met groot insetprysstygings). Daarom moet daar ’n doelbewuste langtermynplan wees om reserwes op te bou.