Mnr. Hentie Spangenberg, Shell se tegniese bestuurder in Suid-Afrika, het op die Nampo-oesdag aan Landbou.com gesê Shell is die enigste vervaardiger van gas-tot-vloeistofprodukte in die wêreld. Die maatskappy is die afgelope 12 jaar die markleier van smeermiddels in die wêreld. Die Shell Lubricant Services- en Shell LubeExpert-programme was die afgelope paar jaar op veral die mynbedryf in Suid-Afrika toegespits. Dit het goeie suksesse aangeteken om myne te help om koste te bespaar deur hulle by te staan met nuwe strategieë en produkte. “Sowat 2% van ’n groot myn se instandhoudingsbegroting word op smeermiddels bestee.”

Spangenberg het gesê van die myne wat deelgeneem het, het ’n besparing van meer as $5 miljoen die afgelope vyf jaar op smeermiddelds aangeteken. “Hul masjinerie se leeftyd het ook verdubbel terwyl hul brandstofverbruik ook verbeter het.” Hy sê met die korrekte gebruik van die regte smeermiddels kan tot meer as 40% op instandhoudingskostes bespaar word, terwyl verdere internasionale toetse 'n besparing van 2,2% op brandstofkostes aandui.  

Olie-aftapping

Die gebruik van hul smeermiddels het die myne in staat gestel om die tussenposes van olie-aftappings van elke 500 uur tot elke 2 000 uur te verleng.

Spangenberg het gesê smeermiddels maak tussen 2% en 4% van die instandhoudingsbegroting van ’n boerdery met ’n groot aantal werktuie uit. Volgens ’n opname van Shell onder boere het sowat 58% van die boere aangedui dat die ondoeltreffende gebruik van smeermiddels daartoe lei dat hul werktuie ’n tyd lank buite werking is.

Shell wil dus die landbou blootstel aan sy suksesse in die mynsektor. “Ons wil boere ook bystaan om ’n trekker se aftappingsinterval tot 2 000 uur te verleng, tot meer as 40% op instandhoudingskoste te kan bespaar en hul komponente se leeftye te kan verdubbel.”

Koolsuurgasvrystelling

Spangenberg het gesê Shell het hom internasionaal tot die verlaging van koolsuurgasvrystelling verbind. As deel daarvan bestee die maatskappy jaarliks $1,3 miljard aan navorsing om sy produkte so te verbeter dat voertuie en werktuie minder brandstof verbruik en komponente se leeftye verleng word.

“Al is die smeermiddels dalk duurder as dit wat elders op die mark is, kan jy op die lange duur spaar met jou werktuig se verrigting. Met ons totale vloeistofbestuursprogram kan ons boere dus help om op lang termyn geld te spaar.”

Spangenberg het gesê met die onsekerheid oor internasionale oliepryse en die uitwerking wat wisselvallige handelsomstandighede daarop het, moet ’n boer alles in die stryd werp om hom te help om minder geld op brandstof en instandhouding te bestee.

“Elke boer benodig ’n betroubare instandhoudingsplan, veral as hy ’n groot vloot landboumasjinerie besit.” Volgens Spangenberg kan Shell ook ’n diens lewer waarvolgens die werking van ’n plaas se werktuie nagegaan kan word sodat bepaal kan word waar tekortkominge bestaan. Raadgewers en 'n tegniese span van meer as 30 kundiges staan dan reg om boere by te staan met raad oor hoe om hul werktuie optimaal te laat funksioneer.

Vir nog inligting kan Spangenberg en sy span gekontak word by 011 996 7444 of stuur 'n e-pos na shelltechnical-za@shell.com.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.