Nou weet almal dit: Die markwaarde van die reusemaatskappy Steinhoff was ’n fundamentele leuen, want dit het die onderliggende waarde van die maatskappy ver oorskry.

Steinhoff International Holdings NV is ’n multinasionale kleinhandelsgroep. Dit het aanvanklik as ’n meubelhandelaar sake begin doen, maar mettertyd vele ander kleinhandelsbesighede oorgeneem en uiteindelik ook skoene, rekenaars, teëls, kinderklere, kombuismeubels, selfoontoepassings, matrasse, badkamerbenodigdhede en korttermynversekering verkoop.

Dit is ’n massiewe maatskappy met meer as 12 000 winkels in 30 lande en meer as 130 000 mense in sy diens. In Suid-Afrika sluit dit handelsmerke soos Ackermans, Pep, Tekkie Town, Russells, HiFi Corp, Incredible Connection en Hertz-motorhuur in.

Dit was ’n gesogte beleggingsmaatskappy vir vele fondsbestuurders en het op die oog af baie welvaart vir sy aandeelhouers geskep. So was dit tot en met 6 Desember 2017 toe Markus Jooste, die maatskappy se uitvoerende hoof, ná bykans 20 jaar aan die stuur met onmiddellike effek bedank het.

Jooste se bedanking, te midde van gerugte van ondersoeke deur die Duitse owerheid na ongerymdhede in die maatskappy se finansiële state, het daartoe gelei dat Steinhoff se aandeelprys van R46,24 tot minder as R6 gedaal het. Die gevolg was dat meer as 80% se kapitaalwaarde in ’n oogwink uitgewis is en beleggers het miljarde rande se welvaart byna oornag verloor.

Hoewel ’n groot aantal fondsbestuurders aan hul neus rondgelei is, het party tog snuf in die neus begin kry.

Dit was toe maar net nog een van die “te goed om waar te wees”-wolhaarstories. Hoewel ’n groot aantal fondsbestuurders aan hul neus rondgelei is, het party tog snuf in die neus begin kry.

Steinhoff het net te aggressief en ondeursigtig ander besighede met geleende geld oorgeneem en het by deeglike ontleding nie regtig netto waarde tot sy aandeelhouersbelang gevoeg nie. Die illusie is gewek dat Steinhoff ’n voortvarende besigheid is en sodoende het die markwaarde van sy aandele die fundamentele waarde daarvan by verre oorskry, soos tipies in ’n beleggingsborrel gebeur.

WAT IS ’N BORREL?

Die term “borrel” is ’n erkende ekonomiese uitdrukking wat veral in die beleggingswêreld gebruik word. Die amptelike definisie daarvan is dat wanneer die prys van ’n bate skerp en langdurig styg en die fundamentele waarde daarvan oorskry, maak dit die skielike ineenstorting van die prys ’n wesenlike moontlikheid.

By die ineenstortingspunt bars die borrel dus. Die grootste probleem met borrels is dat dit nie vooraf geïdentifiseer kan word nie. Eers by die bars daarvan kan by terugblik bevestig word dat die prysstygings ’n borrel was en nie die resultaat van fundamentele ekonomiese groei nie.

As pryse wel ’n borrel was, is die uiteindelike bars daarvan baie skouspelagtig en kom die beleggerspubliek dán eers agter dat dit wel ’n borrel was.

Volgens prof. Christopher Sims van die departement ekonomie aan die Princeton-universiteit in Amerika het ’n finansiële borrel verskeie karaktertrekke:

  • Die bate is “nuut” en beleggers glo dat hulle van die eerstes is wat hierdie nuwe geleentheid om ’n wins te maak, raakgesien het.
  • Beleggers leen dikwels geld om die bate aan te koop en terselfdertyd is krediet geredelik beskikbaar daarvoor.
  • Deelnemers in die mark is baie bewus van die koers waarteen pryse styg en koop tot ’n groot mate vir kapitaalgroei en in ’n mindere mate vir die inkomste wat die belegging kan oplewer.
  • Deelname aan die betrokke mark groei met rasse skrede en beleggers word ingetrek op grond van die waarneembare sterk kapitaalgroei.
  • Party deelnemers erken dat die bate se kapitaalwaarde hoër as die rentabiliteit is, maar glo dat hulle ’n opbrengs uit kapitaalgroei kan realiseer deur betyds uit te klim.
  • Daar is geloofwaardige kommentators wat aanvoer dat die bates oorgewaardeer is.
  • Daar is uiteindelik ’n duidelike ineenstorting van pryse.
  • Daar is ’n kullery en selfs bedrog wat ná die bars van die borrel eers sigbaar word.

In wese is die deurslaggewende kenmerk van ’n borrel die feit dat die enigste rede vir hoë pryse vandag gegrond is op die veronderstelling dat pryse môre nog hoër gaan wees. Dan bestaan daar beslis ’n moontlikheid dat pryse ineen kan stort.

FASES VAN ’N BORREL

Dr. Jean-Paul Rodrigue van die departement van wêreldstudies en aardrykskunde aan die Hofstra-universiteit in New York verduidelik dat ’n borrel in sy eenvoudigste vorm deur vier onderskeibare fases gaan, soos wat in die grafiek voorgestel word.

Onbekend. Gedurende die aanvanklike fase ontdek die “slim beleggers” ’n geleentheid waar ’n bateklas in ’n mate onder sy fundamentele waarde waardeer is en wat dus die potensiaal het om in waarde toe te kan neem.

Hierdie beleggers beskik oor inligting wat nog nie algemeen bekend is nie en begin om ongesiens sulke bates op te koop. As gevolg daarvan begin die pryse van die bateklas geleidelik styg, maar steeds sonder om ander beleggers se aandag te trek. Namate hierdie aanvanklike beleggers die mark beter verstaan, koop hulle steeds meer van die bates en dan begin dit gesog raak.

Bewustheid. Ander beleggers, veral groter korporatiewe beleggers, raak bewus van die bateklas se momentum en bring addisionele beleggings in wat die markwaarde daarvan opstoot. Dit gaan dikwels met ’n kortstondige prysdaling gepaard wanneer die “slim beleggers” hul bates verkoop om wins te neem en hul posisies te konsolideer.

Sodra die korporatiewe beleggers tot sulke bateklasse toetree, begin dit ook die aandag van die sakemedia te trek en hulle begin positief daaroor te berig. Nuwe beleggers reageer nou op die mediaberigte en is nie noodwendig so goed ingelig soos die “slim beleggers” nie. Dit lei daartoe dat minder gesofistikeerde beleggers impulsief ook die bateklas begin aankoop.

Gier. Nog positiewe mediaberigte volg en die breë publiek begin ook agterkom dat die betrokke bateklas se markwaarde aanhoudend styg. Die gewone mens begin skuld maak of aftreegeld gebruik om ook in hierdie “eenmalige” belegging te kan deel. Aannames oor toekomstige winste is nou nie meer rasioneel nie, maar emosioneel.

Groot hoeveelhede geld word in die bateklas belê wat die markwaarde tot vlakke ver bokant die fundamentele waarde opstoot. Hierdie laaste groep beleggers het geen idee wat die werklike fundamentele onderbou en dinamika van die bateklas is nie en die tipe belegging raak dus ’n gier waaraan ’n groot aantal oningeligte mense deelneem.

As die finansiering van hierdie aankope nog met geleende kapitaal ook gedoen kan word, hou hierdie fase langer aan en dryf dit pryse nog hoër op. Terselfdertyd klim die aanvanklike “slim beleggers” ongemerk uit die mark. Op hierdie punt het die borrel sy spanning bereik en is dit gereed om te bars.

Afblaas. Die prik van die borrel is gewoonlik skielik wanneer die uiteindelike beleggers op een slag agterkom dat die omstandighede wat die bate se prys bepaal, verander het. Verwagtinge oor die bateklas ondergaan ’n vinnige paradigmaskuif en pryse begin skerp daal namate beleggers dit probeer verkoop.

Die daling word gewoonlik onderbreek met ’n kortstondige oplewingsperiode waar geglo word dat die prysdaling tydelik van aard was. Dan dring die werklikheid finaal deur en beleggers verwag nou eerder verdere prysdalings as prysstygings en almal wil van die bates ontslae raak.

Pryse daal nou teen ’n vinniger koers as waarmee dit gestyg het, wat verdere verkope aanmoedig. In baie gevalle daal die pryse uiteindelik tot selfs laer as die fundamentele waarde van die bateklas. Nou begin die “slim beleggers” weer die bateklas aankoop en die markwaarde styg geleidelik terug na wat die oorspronklike fundamentele waarde sou wees as die borrel nooit plaasgevind het nie.

FUNDAMENTELE WAARDE

Prof. Joseph Stiglitz, ekonoom aan die Stanford-universiteit in Amerika, voer aan dat die bepaling van ’n bate se fundamentele waarde deur drie probleme gekenmerk word. Die potensiële inkomste wat die bate oor ’n redelike tydperk kan realiseer, moet bepaal kan word, soos in die geval van huur vir grond of ’n dividend op ’n aandeel.

Die herwinningswaarde aan die einde van die bate se ekonomiese leeftyd moet bepaal kan word. ’n Verdiskonteringskoers moet vasgestel kan word om toekomstige inkomste in ’n huidige waarde te kan omskakel. Wanneer daar nie genoeg inligting oor ’n bateklas bestaan wat die inkomstestroom ver in die toekoms kan aandui nie, is dit altyd moeilik om die fundamentele waarde daarvan te bepaal.

In die geval van Steinhoff is die fundamentele waarde skynbaar doelbewus van beleggers weerhou deurdat inkomste opgeblaas is, terwyl verliese in ander entiteite, waarvan beleggers nie bewus was nie, weggesteek is. Stagnerende of agteruitgaande besighede is voortdurend tot Steinhoff se lys van handelsmerke gevoeg.

Hulle het dan ná die oorname op bedenklike wyse skouspelagtig beter begin vaar en die maatskappy se aandeelwaarde verhoog. Dit het tot gevolg gehad dat die maatskappy se finansiële struktuur al meer onverstaanbaar begin raak het.

Hoewel sommige fondsbestuurders ongemaklik daarmee geraak het, het ander bly glo dat die bestuur van Steinhoff weet wat hulle doen, en nog geld na die maatskappy gekanaliseer. Daarom het die markwaarde aanhou styg, terwyl die fundamentele waarde in werklikheid gedaal het.

'Die fundamentele waarde van enige bate, hetsy dit ’n aandeel, ’n koningswildebees of ’n kriptogeldeenheid is, se langdurigheid daarvan gaan die belegging bepaal.'

Die les wat uit Steinhoff te leer is, is dat die fundamentele waarde van enige bate, hetsy dit ’n aandeel, ’n koningswildebees of ’n kriptogeldeenheid is, die langdurigheid van die belegging gaan bepaal. Soms word die fundamentele waarde doelbewus vir ’n belegger weggesteek, maar soms is ’n belegger net bloot te blind om die waarskuwingstekens raak te sien.

Die kern van die saak is derhalwe dat as beleggers onmoontlike groei in die waarde van hul beleggings najaag, sal daar altyd ’n leuenaar wees wat hul aptyt daarvoor gaan versadig.

Dr. Philip Theunissen is ’n rekenmeester en landbou-ekonoom van Bethlehem.

BRONNE:

  • A Steinhoff guide for dummies: Where it all started. Jan Cronjé. 8 Desember 2017.
  • How long before billionaires lose their wealth? Financial Planning with assistance from Jeffrey Vögeli and Jack Witzig. 16 Desember 2015.
  • How did short seller Viceroy dig out the info to make a killing on Steinhoff? Business Day. 15 Desember 2017.