Kolisi en sy spanmaat Pieter-Steph du Toit, die internasionale Rugbyspeler van die Jaar, gaan albei Landbouweekblad en Witzenberg-PALS se grondsimposium op Ceres op 14 en 15 November bywoon.

Kolisi gaan tydens die simposium vertel van sy belangstelling in en hart vir die landbou. Hy glo die landbou kan ’n belangrike rol speel om Suid-Afrikaanse jong mense hoop op ’n beter toekoms te gee en sosiale harmonie te bewerkstellig. Dis alombekend dat jeugwerk een van die speler se groot passies is. Sy kinderjare was swaar. Hy het by sy ouma in die Zwidi-township buite Port Elizabeth grootgeword.

“Hy wil graag iets doen vir die jeug, maar het ook ’n belangstelling in die landbou, veral in die Oos- en Wes-Kaap. Hy het al vir my gesê hy sal baie gelukkig wees as hy kan boer,” sê mnr. Gerrit van Vuuren, prokureur van Ceres wat die Witzenberg-PALS-inisiatief staangemaak het.

Kolisi se belangstelling in die landbou is aangevuur deur mense soos Du Toit, wat op die wingerd-en-olyfplaas Kloovenburg in die Swartland grootgeword het. Du Toit en sy familie het laat weet hulle wil nie die simposium misloop nie.

Mnr. Gerrit van Vuuren saam met Siya Kolisi. Foto: Verskaf
Siya Kolisi (middel) saam met werknemers van Joubert Van Vuuren Prokureurs op Ceres. Van links staan me. Yongama Femele, mnr. Attie Heyns, me. Reinette van Staden en mnr. Altus Joubert. As deel van die PALS-regspan help hulle onder meer om PALS-direkteure en -aandeelhouers op te lei. Foto: Verskaf

Laaste kans om te bespreek!

Landbouweekblad en Witzenberg-PALS se grondsimposium is die opvolg op die suksesvolle Bela-Bela-grondberaad. Bykans 50 sprekers gaan praktiese oplossings en suksesverhale oor grondhervorming bespreek. Die simposium is ’n samevatting van die lesse wat deur PALS se projekte en boerderye geleer is. Kenners (van prokureurs tot energiespesialiste), kommersiële boere en begunstigdes gaan vertel hoe hulle die knoop deurgehak het.

Dit vind by die Kaleo-gasteplaas in die Koue Bokkeveld plaas.

Dis nog nie te laat om jou plek op die simposium te bespreek nie, maar jy moet gou spring. Besprekings sluit op 6 November om 09:00.

Vir die simposium, aandgeselligheid en plaasbesoeke kos dit R1 200. As jy slegs die simposium en aandgeselligheid gaan bywoon, sal dit R1 000 kos.

Bespreek aanlyn op Quicket. Stuur ’n e-pos aan Jacolette Kloppers by jacolette.kloppers@landbou.com vir nog besonderhede.

Hortgro