“Onteiening sonder vergoeding” was só dikwels in die nuus dat die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad dit in Oktober selfs as die uitdrukking van die jaar bestempel het.

In April het mnr. Dave Steward, voorsitter van die FW de Klerk-stigting se raad, die aanvaarding van die mosie dat die Grondwet verander moet word om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak, beskryf as die belangrikste verwikkeling in Suid-Afrika sedert 1994.

Hy het op ’n spitsberaad daaroor gesê dit bedreig elke inwoner van die land, wat 7,5 miljoen swart huiseienaars, aandeelhouers, sake-ondernemings en pensioenhouers insluit. Kenners het deurentyd op die gevare gewys. Die Land Bank sê as sy regte as krediteur nie beskerm word nie, kan dit daartoe lei dat hy dadelik R41 miljard aan sy finansiers sal moet betaal.

Ekonome wys daarop dat weens boere se skuld aan banke sowat R160 miljard van banke se balansstate uitgewis kan word. Die ekonoom mnr. Roelof Botha het in November daarop gewys dat die debat oor onteiening sonder vergoeding reeds tot ’n daling van 7% in kapitaalvorming gelei het.

’n Daling van 10% beteken dat die BBP-groei sowat R455 miljard minder sal wees, en die Tesourie se inkomste R262 miljard minder.

TEENSTRYDIGE SYFERS

Teenstrydige syfers oor grondbesit is deurlopend genoem. Terwyl die staat volhou dat nog net 10% van landbougrond oorgedra is, het me. Maite Nkoana-Mashabane, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, in die Parlement erken haar departement besit 13 588 879 hektaar grond en het verder eksklusiewe reg tot sowat 2 222 920  hektaar.

Twee van Suid-Afrika se voorste landbou-ekonome, mnr. Wandile Sihlobo en dr. Tinashe Kapuya, sê volgens data in die openbare domein kan tot 21% van die landbougrond buite kommunale gebiede in Suid-Afrika al in swart besit wees.

Die ekonoom mnr. Johann Bornman sê gegrond op die grondoudit van ADS, Agri SA en Landbouweekblad verlede jaar is 38% van die bruikbare oppervlakte van Suid-Afrika in mense van kleur se besit, en 26,7% van die landbougrond.

STOOMROLLER

Intussen stoomroller die proses rakende onteiening sonder vergoeding voort. Steun daarvoor in ’n reeks landwye openbare sittings van Junie tot Augustus was oorweldigend, maar uit meer as 700 000 geskrewe kommentare was maklik 80% téén ’n grondwetwysiging gekant.

Laasgenoemde is geïgnoreer in die grondwetlike hersieningskomitee se aanbeveling ten gunste van die wysiging. Vroeg in Desember is die aanbeveling deur die Parlement aanvaar. ’n Wetsontwerp sal nou opgestel word.

’N KEERPUNT

Landbouweekblad en Agri SA se grondberaad einde Augustus was ongetwyfeld ’n keerpunt in die hele gronddebat. Meer as 600 belanghebbendes in die landbou het geluister hoe 65 sprekers vertel het watter planne hulle al beraam het om van grondhervorming ’n sukses te maak.

Dit het die gesprek oor grond meer rasionele gemaak en die klem op werkbare en volhoubare oplossings geplaas. Verskeie grondindaba’s met die oog op oplossings en finansiering het gevolg, asook ’n ooreenkoms binne die georganiseerde landbou om saam ’n landboustrategie uit te kerf.

’n Paneel kundiges is saamgestel om die Regering te adviseur, en die ANC en Agri SA het in gesprek getree.Tydens hierdie gesprek in September het die ANC by herhaling gesê eiendomsreg word nie bedreig nie, grondgrype sal nie geduld word nie en grond sal net in uitsonderlike gevalle sonder vergoeding onteien word.

AKKERLAND

AfriForum het in Augustus ’n storm ontketen toe hy ’n lys name van plase wat vir onteieningstoetssake geoormerk word, bekendgemaak het. Nkoana Mashabane het die bestaan van die lys ontken, maar bo-aan die lys was twee plase van die Akkerland-boerdery in Limpopo waarop die dag voor Paasnaweek ’n uitsettingbevel bedien is.

Die staat het R20 miljoen vir die twee plase aangebied, maar die eie- naars wou R200 miljoen hê. Die plase speel ’n sleutelrol in die sukses van ’n multimiljarddollar-projek omdat 46% van die steenkool wat daarvoor nodig is, op dié plase is. Dit volg ook nadat die minister in haar begrotingsrede gesê het bestaande grondwetlike bepalings sal gebruik word om “beperkte vergoeding” te betaal by die aankoop van grond vir hervormingsdoeleiendes.

In September het die Grondeisehof die uitsettingbevel permanent tersyde gestel, en in November het MC Mining die dooiepunt opgelos deur die plase vir R70 miljoen te koop.

TRUSTGROND-stryd

Die Ingonyama-trust se poging verlede jaar om sowat 5 miljoen inwoners se wetlik erkende bewoningsreg na huurooreenkomste om te skakel, het vanjaar verder opslae gemaak. Die parlementêre komitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming het vroeg vanjaar die omskakelings tydelik gekeer.

Volgens die komitee bedreig dit mense se bewoningsreg omdat hulle afgesit kan word as hulle agter raak met hul huurbetalings, en die trust wil net sy inkomste verhoog. Die trust sê die kontrakte sal aan inwoners meer beskerming bied, omdat huurooreenkomste glo dien as bewys van woonadres vir wanneer inwoners wil stem, selfone koop of bankrekeninge open.

’n Hoëvlakpaneel onder leiding van oudpres. Kgalema Motlanthe het verlede jaar aanbeveel dat die Ingonyama-trust herroep word. Dit is sodat KwaZulu-Natal in ooreenstemming met die res van die land se grondbeleid gebring kan word en om gemeenskappe en inwoners se besitreg te verseker.

Koning Goodwill Zwelithini is die enigste trustee van die trust en die grootste grondeienaar in KwaZulu-Natal met die 2,8 miljoen ha wat die trust beheer. Zwelithini het later op ’n grond- imbizo wat hy in Ulundi belê het, gewaarsku hy sal druk uitoefen vir die onafhanklikheid van KwaZulu-Natal indien die Regering die paneel se voorstelle aanvaar.

Pres. Cyril Ramaphosa het die dag ná die imbizo ingespring om die koning te verseker dat die ANC nie die trustgrond sal onteien of die trust ontbind nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.