Zimbabwiese Brahmantelers onthou met nostalgie die goeie ou dae toe daar baie boere was wat met dié beesras met die lang ore geboer het. Vandag is net vier van die boerderye oor wat al tydens die Ian Smith-era Brahmane gehad het, dié van mnre. Dirk Odendaal van Harare, Paul en Grant Pilossof van Bulawayo, Cois Joubert van Chipinge en Jeff en Henry Sommer van Bulawayo.

Tog maak Brahmane en Brahmankruisings steeds sowat 70% van die land se beesbevolking uit. Daar is nou 5 600 geregistreerde Brahmane wat aan 57 telers behoort in dié land. Daarvan is 40% nuwe boere. Landbouweekblad het gaan kyk hoe Jeff deesdae boer noudat private grondbesit feitlik nie bestaan nie en diegene wat wil boer, dit met enkele uitsonderings ná op huurgrond doen.

Hy vertel hy het na skool op sy pa, Ludwig, se klein plasie naby Bulawayo begin werk. Hulle het ook ’n slaghuis gehad. Hy het besluit om eers aan die Gwebi-landboukollege naby Ha- rare te studeer. Van 1975 tot 1980 het hy diens in die weermag verrig en tussendeur geboer en as raad- gewer vir ander boere opgetree. “Met die regeringsverandering in 1980 het ek besluit om te waag. Ek het niks gehad om te verloor nie,” sê Jeff.

Hy en sy twee broers, Henry en Mark, het saam grond gehuur en met beeste geboer. Cold Storage Commission was die regering se uitvoer-onderneming en het boere gefinansier om speenkalwers en aanteelbeeste te koop, groot te maak en aan hulle terug te verkoop sodat die vleis uitgevoer kon word. Dit het die Sommer-broers in staat gestel om vinnig te groei.

Grond was baie goedkoop; gevolglik het hulle begin om grond aan te koop. Einde 1985 is Mark deur oproerige mense op een van die plase vermoor. Nóg boere het mettertyd só gesterf. Daardie era is deur ’n ander, stormagtige tydperk voorafgegaan.

Volgens South African History Online het mnr. Ian Smith in 1964 die eerste minister van die destydse Rhodesië geword toe dit nog ’n selfregerende Britse kolonie was. In 1965 het Smith eensydig onafhanklikheid verklaar, en het Brittanje ’n volskaalse handelsboikot teen die land ingestel.Smith het 14 jaar lank regeer, ’n tydperk wat deur ’n bitter bosoorlog tussen meesal wit burgers en ontevrede swart inwoners gekenmerk is. In 1979 het ’n nuwe regering die land begin regeer en die naam is na Zimbabwe verander.

BOER OP 190 000 HA

Die Sommer-broers het in ’n stadium 190 000 ha in Matabeleland, die Laeveld en die gebied suidwes van Harare besit, en met 23 000 beeste geboer. Jeff sê in 1988 het hulle ook krokodille en volstruise by die boerdery gevoeg om buitelandse valuta te verdien.

Toe begin die gerugte dat die regering dit oorweeg om boere tot slegs een plaas elk te beperk. Hulle het dus hul grond oor die volgende tien jaar tot 15 000 ha verminder. Die meeste plase is volgens die beginsel van ’n gewillige koper en ’n gewillige verkoper aan die staat verkoop. “Die onteiening van grond in Zimbabwe het in 2000 begin, maar ons is eers in 2002 geraak toe ons van ons grond afgeskop is,” sê Jeff.

Nou huur hulle grond van sowat 3 000 ha vir hul beesboerdery. Hulle vergoed vir die kleiner boerdery deur streng vir hoë gehalte te selekteer, en gebruik slegs die beste stoetbulle om die koeie te dek. Jeff konsentreer op vrugbare koeie en geharde bulle om sy beeste in alle toestande te laat gedy. Hy pas kunsmatige inseminasie toe by 10% van die vroulike diere, met saad wat hy vanaf Suid-Afrika en Australië invoer. Die res word gedek.

’n Jong Brahmanbul met die bouvorm waarvoor Sommer selekteer. As bulle te groot is, kom hulle nie die mas op in moeilike toestande nie.

GEHARDE BRAHMANE

Die plaas kry gemiddeld 600 mm reën per jaar en beskik oor semisuurveld – tipiese, goeie hoëveldweiding. Die beeste se kondisie tydens Landbouweekblad se besoek aan die einde van die winter was tekenend van dié weiding se waarde. Hulle kry in die winter ’n proteïenlek en in die somer net ’n fosfaatlek.

“Ons het ’n reputasie vir uiters geharde beeste. Bulle kan in alle toestande dek en steeds kondisie behou. Ek het by Theo Dicke geleer hoe belangrik dit vir gehardheid is om vir breëborsbulle met ronde bespiering te selekteer, in teenstelling met lang bespiering wat kenmerkend is van groot bulle wat nie hul kondisie hier kan behou nie.”

Jeff verkoop die stoetbulle op die jaarlikse nasionale bulveiling en die kommersiële bulle aan kommersiële beesboere. Hy het in 2018 ’n stoetbul vir VSA$8 300 (sowat R116 000) op Zimbabwe se nasionale bulveiling verkoop. Hy het ook sy eie veilingkom- pleks gebou, met krale, ’n drukgang en ’n veilingsring. Vir die veilings rig hy ’n markiestent op om die kopers in gerief te huisves. Sy jongste veiling het 250 mense gelok.

Jeff hou die kommersiële en stoetkuddes afsonderlik aan. Hy het altyd die mooiste versies visueel geselekteer om die ou en onproduktiewe koeie te vervang. Vanjaar pas hy een van die belangrike lesse met die seleksie van vrugbare verse toe wat hy op die afgelope ZHB-beesskool geleer het, die eerste een wat hy bygewoon het.

Dit begin by die visuele seleksie van verse om ooglopende strukturele foute uit te skakel. Dan laat hy dié dek wat gekeur is. Uiteindelik behou hy slegs dié verse wat tydens hul eerste hittesiklus by die bulle dragtig raak, om die druk op genetiese vordering te verhoog. Kenners het op die beesskool beklemtoon dat sulke verse die vrugbaarste diere is. “Die vrugbaarste verse gaan hulself se- lekteer en die res gaan ek verkoop,” sê Jeff.

’n Brahmankoei wat pas gekalf het. Dié boerdery, met stoet- en kommersiële beeste, handhaaf ’n kalfsyfer van 85% danksy goeie bestuur.

SELEKTEER BULLE

Die boerdery verkoop in die algemeen nie speenkalwers nie, maar voeg eers waarde toe deur die stoetbulle tot op 28 maande te hou, wanneer seleksie plaasvind. Soms verkoop Jeff wel ongeregistreerde bulle van ’n jaar of anderhalwe jaar vir sowat $1 000 (sowat R14 000) aan kleinboere om hulle te help om hul kuddes te verbeter.

Sy algemene manier van bulseleksie is egter om die speenbulletjies te hou en eers aan die einde van hul derde somer te selekteer – in April wanneer hulle sowat 28 maande oud is. Dan besluit Jeff visueel watter stoetbulle struktureel korrek is en op 36 maande as werkende stoetbulle verkoop kan word.

In 2017 het Jeff skielik 35 kruiskalwers in die stoetery gehad weens naburige boere se bulle wat oor die draad gespring en koeie gedek het – meer as 20% van die kalwers. Nou los hy sy bulle effens langer by die koeie vir omtrent ses maande sodat hulle die koeie wat nie vroeg dragtig geraak het nie, kan dek wanneer hulle weer op hitte kom. Dan kry die draadspringers nie ’n kans nie.

Hy beskou die kalwers wat in September gebore word as die bestes, want dan wei hul ma’s al op veld wat begin bot het. Dus het hulle al baie melk en het hy ook somerkalwers om te verkoop. Jeff speen ook die kalwers vroeg op vier maande sodat hul ma’s kondisie kan herwin.

Mooi, wit Brahmanbulletjies. Sommer speen sy kalwers vroeg sodat die koeie nog in ’n goeie kondisie is om gou weer dragtig te raak.

SPEENPERSENTASIE

Weens die veld se relatiewe lae voedingskrag was die kalfsyfer in die stoet- en kommersiële kuddes vir lank ongeveer 65-70%, “wat goed vir sulke toestande was”. Dit het intussen verbeter deur die dektyd te verleng en die kalwers vroeg te speen. “Ek het ’n waardevolle les geleer — speen vroeg wanneer die koeie nog ’n goeie kondisie het. Dan raak hulle makliker weer dragtig,” sê Jeff.

Bosluise is talryk en hy ondervind reeds weerstand teen bloubosluismiddels in sy kuddes, al wissel hy die aktiewe bestanddele af. Weerstand kom wêreldwyd voor. Hy pas reg deur die jaar weeklikse behandelings toe met rugsakspuite om bosluise te bestry, sê Jeff. Wurmbestryding geskied aan die begin en einde van die somer.

KROKODILVELLE

Jeff boer nie meer met volstruise nie, maar die krokodilboerdery duur steeds voort. Hy voer die pensvelle grootliks na Singapoer en Italië uit, waar gebruiksgoedere, soos handsakke en skoene, daarvan gemaak word. Die boerdery is in die suidooste naby Chiredzi en Mwenezi en bestaan uit 70 000 krokodille. Die velle word op die ouderdom van drie jaar geoes.

Jeff verkoop 25 000 velle per jaar. Velle van ’n goeie gehalte behaal gemiddeld $300 (R4 200), maar velle met letsels verkoop vir so min as $40 (R560). Jeff beoog nog ’n krokodilplaas by Binga aan die Karibadam, waar hy die jong krokodille een-een in hokkies sal huisves om beserings weens bytmerke te voorkom. Dan kan hy velle sonder letsels teen die hoogste pryse verkoop.

Dit is ’n ingewikkelde boerdery en ’n mens moet weet wat jy doen om winsgewend te boer. Alles draai om goeie bestuur, voeding en siektebestryding. Só doen Jeff danksy goeie plaasbestuur ’n balanseertoertjie met stoet- en ongeregistreerde volbloedbeeste en krokodille, om die maksimum waarde uit sy min boerderygrond te put. ’n Boer maak mos elke dag ’n plan.

NAVRAE: Mnr. Jeff Sommer, e-pos: sommer@netconnect.co.zw, +263 772 601 034.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.