Die gebied het, na gelang van wie jy vra, ’n droogte van vyf tot sewe jaar beleef totdat dit laat in Desember op plekke begin reën en die reën tot in Januarie voortgeduur het.

Op Foto 1, wat in Oktober 2020 geneem is, is ’n landskap te sien wat lyk asof die droogte dit finaal gebreek het. Die meerjarige boesmansgrasspesies (Stipagrostis spp.), wat normaalweg oral in die veld sou groei, het almal gevrek. Net dowwe tekens van hul dooie polle het oorgebly. Party bosse en bome het ook gevrek.

Dieselfde landskap op 20 Januarie 2021.

Drie maande later was die herstel egter merkwaardig (Foto 2). Al is heelwat van die nuwe plante suurgras (Schmidtia kalahariensis) en dubbeltjies (Tribulus spp.), sal hulle taamlik gou vrek.

Wat belangrik is, is dat die meerjarige boesmansgrasspesies ook teruggekom het. In Februarie het die gras sowat 4% van die oppervlakte van die veld bedek. As dit opvolgreën kan kry en die veld goed bestuur word, kan daar gou weer ’n see van goue gras staan.

HERHAALFOTOGRAFIE

Herhaalfotografie bied ’n manier om verandering in die veld treffend uit te beeld. Landbouweekblad begin in hierdie uitgawe met ’n maandelikse reeks oor veranderinge op verskillende plekke. Dit word geskryf deur dr. Justin du Toit, ’n navorser aan die Landbou-ontwikkelingsinstituut Grootfontein op Middelburg in die Oos-Kaap.