Stellenbosch Kaas – meer bekend as Roulou – het ’n lang geskiedenis in die kaasbedryf. Hoe het dit begin?

Sowat 26 jaar gelede het die behoefte ontstaan om iets anders as net wyn op die plaas te produseer. Die plaaseienaar, Willem Louw, en ons voormalige kaasmaker, Ters Smit, het begin om fetakaas te maak. Hulle het sowat 3 ton feta per maand gemaak. Willem was ook ’n groenteboer en het die feta saam met groente aan varsproduktemarkte gelewer.

Deur die jare het die kaasmakery gegroei en het ons begin om kaas aan kettingwinkels landwyd te versprei. Ons handelsnaam het ’n huishoudelike naam geword en ons maak nou sowat 3 ton kaas per dag.

Hoekom juis feta?

Daar was destyds ’n gaping in die mark vir feta. Ons het al met ander kase geëksperimenteer, maar feta bly ons eerste liefde. Boonop is ons fabriek goed ingerig daarvoor.

Feta is gewild in Suid-Afrika omdat Suid-Afrikaners daarvan hou om gesellig saam te braai, en dan eet hulle slaai met feta in saam met hul braaivleis. Soos resepte mettertyd meer modern geraak het, het mense feta ook in ander geregte begin gebruik.

Watter soort melk gebruik julle om feta te maak?

Ons gebruik suiwer Jersey-melk omdat dit ’n hoë persentasie vastestowwe bevat. Dit dra by tot die smaak van die kaas en verseker ook goeie opbrengste.

Hoeveel melk gebruik ’n mens om ’n kilogram feta te maak?

Jy het 6,25 liter melk nodig om 1 kg feta te maak. Die opbrengs is gemiddeld sowat 16%.

Is dit ’n moeilike kaas om te maak?

Dis een van die makliker kase om te maak, maar jy moet jou storie ken om die regte pH-waarde te bereik. Tekstuur en smaak is ook baie belangrik. Suid-Afrikaners verkies sagter feta as die eg Griekse feta, wat nogal droog en hard kan wees. Ons gebruik uitgesoekte fetakulture om ’n lekker romerige tekstuur te verseker.

Moet feta verouder?

Dit hoef nie te verouder nie, maar ons glo daarin om elke lot te toets. Dit duur dus sowat ’n week vanaf produksie voor ons die kaas begin versprei. Dit is waarskynlik binne twee weke nadat dit gemaak is, op die winkelrak beskikbaar.

Wat is jou gunsteling-gereg met feta?

Die lekkerste wat ek al geproe het, is seker die restaurant Gino’s, een van ons kliënte, se pizza met feta op. Wat ook baie lekker is, is as jy feta met spinasie meng en ’n hoenderborsie daarmee vul. Draai dan die borsie in spek toe voor jy dit in die oond bak