Hoekom aard knoffel goed in jou omgewing?

Water is skaars in die Karoo en ’n mens het ’n baie groot oppervlakte nodig om winsgewend te boer. Knoffelverbouing verg nie baie water nie en ons kan genoeg water met sonkrag na die oppervlak bring om daarmee te boer.

Wat is ’n knoffelboer se grootste probleme?

Finansiering is ’n struikelblok met ’n produk soos hierdie. Dit kos 10 maande om dit te verbou, verg baie arbeid in oestyd én om die knoffel skoon te maak, te pekel en te verpak.

Finansiële instellings stel nie daarin belang om nuwe ondernemings met onbekende produkte sonder waarborge te finansier nie. Elke sent wat tans inkom, word weer net so gebruik om voorraad te koop en voor te berei vir meer feeste en groter markte. Lone het ook ’n groot invloed op ons winsgewendheid.

Hoe werk die produksiesiklus?

Ons plant in Februarie en oes in Desember en Januarie. Terwyl die knoffel in die grond is, moet ons so goed as moontlik daarvoor sorg.

My knoffel word twee tot drie keer per week, na gelang van die weer, met drupbesproeiing natgelei. Ons gee blaarvoeding en hou ook ’n oog op insekte. Deur die jaar help twee werkers my, maar in oestyd, wanneer die groot werk begin, neem ek tien mense in diens.

Lewer knoffel ’n goeie opbrengs?

Dit bly ’n probleem om winsgewend te boer, veral namate lone, voorraadkoste en diesel styg. Maar ek onderhou ’n gesin op die plaas en kan vir al die dagloners kos op die tafel sit.

Voeg jy waarde toe tot die onverwerkte produk en waar bemark julle die produkte?

Ek bemark rou knoffel, wat ek nie self verwerk nie, aan winkels soos OK, Pick n Pay en ander kettingwinkels. Ek het ’n jaar gelede ’n winkeltjie op die plaas oopgemaak waar mense my produkte, asook vars knoffel, kan koop.

Oskopvlakte is reg langs die N1 geleë en dis maklik vir mense om af te draai. Ons reeks produkte sluit in verskillende geure gepiekelde knoffel, knoffelblatjang, knoffelmosterd, marinades, knoffelvlokkies, slaaisouse en olywe wat met knoffel gestop is.

Wat is jou gunstelingresep waarin knoffel voorkom?

My seun, Francois Botes van Klaarstroom, se snoek, wat hy op die kole voorberei en met ’n knoffel-mosterdsous bedien. Dit is ongelooflik lekker!

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.

Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.