Watter kruie lewer jy alles?

Ons boer hoofsaaklik met basiliekruid en ook ’n hele reeks koskruie, soos tiemie, oreganum en pietersielie. In die winter is daar ook koljanderblare, wat so lekker smaak saam met kerries. Ek verbou ook ’n bietjie blare, soos wilde roket, bronkors en krullerige blaarslaai. Ons pluk somertyd elke week 500 kg tot 700 kg kruie.

Hoekom plant jy in tonnels en onder skadunet pleks van oop landerye?

Ons begin altyd die seisoen in September in die tonnels, wanneer dit nog koud is. Namate dit warmer raak, verskuif ons produksie en dan boer ons onder skadunette. Die hele oppervlak is sowat 2 ha groot. Die blare vaar net baie beter onder die een of ander vorm van bedekking, want dit bied beter beskerming teen son en wind.

Waar bemark jy jou kruie?

My grootste kopers vir die vars produkte is Ina Paarman, Mediterranean Delicacies en Pesto Princess.

Doen jy enige waardetoevoeging?

Ja, alles wat nie geskik is vir die vars mark nie. Dié kruie wat al byvoorbeeld blommetjies gemaak het, knip ons af en droog dit. Ons lewer dit aan Ina Paarman. Sy voer heelwat gedroogde kruie in, maar ons plaaslike produk se gehalte is baie beter. Die rede daarvoor is dat die kruie oorsee in oonde gedroog word, wat die geur laat verlore gaan.

Ons droog nog die kruie op die outydse manier in die son. Jy kan nie die twee produkte vergelyk nie. As jy met ons gedroogde kruie werk, wéét jy sommer waarmee jy werk omdat dit so geurig is.

Jy volg ook die praktyk van saamplantery (companion planting). Watter voordele bied dit?

Ons moet baie gereeld pluk – weekliks – daarom kan ons nie gif spuit nie, want die onthoudingsperiode laat dit nie toe nie. Deur gewasse te plant wat mekaar aanvul, het ons nie nodig om enigiets te spuit nie, want dit werk regtig om plae te bekamp. ’n Goeie voorbeeld is om stinkafrikanertjies te plant, wat sommer vanself saad skiet.

By ons staan die hele wêreld toe onder die blomme en ons ken nie plantluise nie. Ons spuit wel ’n organiese middel op basiliekruid. Ek het al in 2008 ’n groentetuin begin. Destyds was dit ’n formele tuin waar alles in rytjies geplant is. Deesdae druk ek enige groente in op enige kaal kolletjie.

Die omgewing se boere is ook deel van die proses en hier hou tydig en ontydig ’n bakkie stil om ’n vrag botterskorsies of uie af te laai. Ek het verskeie sopkombuise in die plakkerskampe begin en ek neem dan die groente na die tannies toe wat vir my sop kook en daar versprei.

Elke keer as ek daar kom en ek sien die ou kleintjies wat niks anders as armoede ken nie, inspireer dit my om weer te help. Dis vir my baie lekker.