Hoe het Lavender SA ontstaan?

Ons het ’n paar Franse laventelplante om die huis geplant. Een verjaardag het Martyn ’n bossie van die stingels vir my bymekaargesit as geskenk. Ek was gaande daaroor en die gedagte het by Martyn ontstaan dat talle vroue van so ’n bossie blomme sal hou. Hy het plante begin kweek om die landerye uit te brei. Die besigheid het elke jaar gegroei.

Watter kultivars verbou julle?

Ons kweek vyf soorte, naamlik Franse laventel, Margaret Roberts-laventel, Hollandse laventel, Australiese varing-laventel en Spaanse laventel. Dit floreer in ons klimaat.

Watter produkte bemark julle alles?

Ons bemark plante aan kwekerye, Spar, Pick n Pay en die publiek. Ons verkoop ook die blomme aan bloemiste en kettingwinkels. Dan voorsien ons bosse laventel aan mense wat rangskikkings maak vir onthale.

Bruide kan vars of gedroogde Franse laventel-konfetti by ons kry en ons voorsien ook gedroogde blomkoppe van die Margaret Roberts-kultivar wat gebruik word om produkte, kos en drankies mee te maak.

Wat is ’n geskikte klimaat vir laventel?

Warm en droog! Margaret Roberts het die kultivar wat na haar genoem is, spesifiek vir ons klimaat gekweek uit die Ou Engelse kultivar.

Wanneer is blomtyd?

Die Franse en Margaret Roberts-plante blom dwarsdeur die jaar. Die blomme sal tydens die oorgangseisoen effens verbruin. Dit moet aan die einde van die winter gesnoei word om die plant se leeftyd te verleng en om nuwe blomme kans te gee om te groei.

Wat is jou gunsteling-laventelkultivar?

Ek kan nie een uitsonder nie, want elkeen is spesiaal. Die Franse laventel het ’n pragtige, vol blom wat wonderlik werk as snyblom of versiering van enige aard. Die Margaret Roberts is weer heerlik in kos en drankies, maar ’n bos vol daarvan lyk vir my net so mooi as snyblomme in ’n mooi blompot.

Die Spaanse laventel werk nie as snyblom nie, maar die kultivar blom drie tot vier maande lank en is pragtig om in jou tuin te geniet. Hollandse laventel het weer die wonderlikste geur en sy grysgroen blare bevat heelwat olie. Die Australiese varing-laventel aard redelik goed in die skaduwee. Dis gevoeliger as die ander, maar ideaal vir ’n tuin met meer skadu.

Hoe span jy laventel in die kombuis in?

Ek hou baie van laventel-brosbrood.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.