Wat was jou beste boerderybesluit?

Ek het my boerdery binne die beperkings van Nardouwsberg se klimaat en water ontwikkel. Dit gaan dalk stadig, maar hier moet ’n boer groei en ontwikkel soos wat sy inkomste toelaat. Ek maak planne wat hier werk en boer vir die omstandighede hier.

Hoe lyk jou produksiejaar?

Ons begin altyd op 25 Februarie rooibossaad saai. Teen 15 Junie is die saailinge gereed vir plant. Ons kan met 1 kg saad saailinge maak vir 12 hektaar tee. Ons volg ’n agtjaar-rotasiestelsel. Ná die vierde oes in ses jaar slaan ons die rooibosplante met ’n bossiekapper fyn, daarna ploeg ons alles uit en laat die plantasie vir drie jaar rus.

Met watter klimaatsprobleme het jy te make?

Ons jaarlikse reënval van 270 mm tot 300 mm is ’n beperking, maar ons moet ook met die wind rekening hou. Die oostewind is die heersende wind, daarom maak ek rooiboslande teen die wind en sorg dat daar windlanings is. Jy moet ook altyd grondbedekking hê om die vog in die grond te bewaar.

Watter rol speel arbeid in ’n rooibosboerdery?

Ons saai rooibossaad met die hand. Ses heeltydse werkers plant ook saailinge met die hand, terwyl vroue tussen die rye tee skoffel. Daar is rooibosboere wat oesmasjiene gebruik, maar ek glo nie ons sal handsny met sekels vervang nie. ’n Span Tswanas kom sny jaarliks tee en hulle is só produktief dat hulle omtrent die span by die kerwer en op die teebaan laat bontstaan.

Kan jy enigsins meganiseer?

Dis nie juis ekonomies vir vervaardigers van landbouwerktuie om werktuie vir so ’n klein bedryf te ontwikkel nie. Ek hou gelukkig van ysters en hou my oë oop vir werktuie wat vir die rooibosboerdery van nut kan wees. Ek het onder meer ’n selfvoerder vir die kerfmasjiene en ’n tee-opteller laat maak. Ek gebruik ook ’n werktuig en ’n trekker om die rye waarin die rooibostee fermenteer, oop te sprei. Só droog ek meer tee met minder mense.

(Dié boerebrokkie is ’n uittreksel uit ’n artikel wat verlede jaar in Landbouweekblad verskyn het.)