Daar word baie oor belasting en uittree-annuïteite gepraat, maar ek meen dít is juis die rede vir al die verwarring oor die onderwerp. Ek begin met ’n leser se navraag. Hy skryf dat baie finansiële raadgewers aanbeveel dat slegs voorbelaste geld in ’n uittree-annuïteit gespaar moet word en nie nabelaste geld nie.

Moet jou nie laat verwar met voor- of nabelaste geld nie. Ek weet wat hiermee bedoel word, maar jy het nie ’n keuse om te bepaal wat voorbelaste of nabelaste geld is nie. Alle inkomste word bymekaar getel vir die berekening van die belasting wat daarop betaalbaar sal wees. Om by die belasbare bedrag uit te kom, word wetlike vrystellings eers bereken en dan toelaatbare aftrekkings. Jou belasting word daarna volgens ’n skaal bereken op dit wat oorbly.

’n Voorbeeld van ’n belastingvrystelling is individue se jaarlikse rentevrystelling – R23 800 vir diegene onder 65 jaar oud en R34 500 vir die bó 65 jaar. ’n Voorbeeld van ’n belastingaftrekking is die aftrekking wat jy kry vir die bedrag wat jy in ’n uittree-annuïteit spaar. Dit is 27,5% van jou inkomste per jaar (tot hoogstens R350 000). Dit is na hierdie geld wat verwys word wanneer mense praat van voorbelaste geld. Nábelaste geld is wat oorbly uit jou inkomste nadat jy alle vrystellings en aftrekkings bereken het en nadat jy belasting daarop betaal het.

Hoekom moet jy jou bydraes tot ’n uittree-annuïteit beperk tot net dít wat jy vir belasting kan aftrek, die sogenoemde voorbelaste geld? Hoekom kan jy nie geld waarop jy reeds belasting betaal het, ook tot jou uittree-annuïteit bydra nie? Ek dink dit het te doen met die feit dat die inkomste wat jy later gaan onttrek – jou pensioen – belasbaar is.

Nou meen sommiges jy moet net sogenoemde voorbelaste geld daarin belê om sodoende dubbele belasting te probeer vermy. ’n Paar dinge word egter misgekyk. In die uittree-annuïteit, byvoorbeeld, en benewens die aftrekbaarheid van jou geld vir die berekening van inkomstebelasting soos hierbo genoem, is ál die groei ook belastingvry.

Daar is dus twee voordele – die aftrekking van die premie en die belastingvrye groei in die belegging self. Wanneer jy ná die ouderdom van 55 jaar uit die uittree-annuïteit tree, kan jy een derde in kontant neem. Met die res moet jy die pensioen aankoop soos vroeër genoem. Die een derde kontant is belasbaar – die eerste R500 000 teen ’n nulkoers en enigiets meer as dit teen 18-36%. Die pensioen wat jy koop, is belasbaar teen die gewone koerse vir inkomstebelasting.

Nou kom ek by die vraag oor hoekom jy nie ook nabelaste geld in die uittree-annuïteit moet belê nie. Natuurlik kan jy, maar kom ons kyk na die belastinggevolge. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens hou aantekeninge van jou aftrekkings, en die bedrag wat jy nie vir belasting kon aftrek nie – dit is die 27,5% per jaar waarna ek hierbo verwys – is by aftrede belastingvry vir jou beskikbaar.

Jy kan dit gebruik as ’n verdere belastingvrye deel (benewens die R500 000) van jou kontantbedrag van een derde as jy dit wil onttrek, óf jy kan dit gebruik vir ’n belastingvrye pensioen.

Jou belastingvrye pensioen is tot soveel as die bedrag wat jy bykomend gespaar het en waarop jy nie die belastingaftrekking (27,5% per jaar) kon kry nie. Die geld wat jy nie in ’n sekere jaar kon aftrek nie – dit wat meer is as die toegelate 27,5% – kan jy in daaropvolgende jare aftrek.

’n Uittree-annuïteit is ’n uitstekende spaarinstrument vir boere en mense wat hul eie ondernemings bedryf. Dit is veral vir ’n boer ’n groot risiko indien ál sy bates in die boerdery opgesluit lê. Een droogte kan alles uitwis. Droogte het egter nie ’n invloed op ’n uittree-annuïteit nie. 

Mnr. Nico van Gijsen is lid van Fisa en besturende direkteur van Finlac, ’n onafhanklike finansiëlerisiko-bestuursmaatskappy.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.