Dít is luidens ’n onlangse artikel in die South African Journal of Science deur dr. Adriaan van der Walt van die Universiteit van die Vrystaat se departement geografie en prof. Jennifer Fitchett van die Universiteit van die Witwatersrand. Dit is die eerste studie in sy soort wat temperature inspan om seisoene binne ’n Suid-Afrikaanse konteks statisties te klassifiseer.

Die daaglikse minimum en maksimum temperatuur wat by 35 weerstasies van die Suid-Afrikaanse Weerdiens van 1980 tot 2015 aangeteken is, is ontleed.

Hulle het daaruit bevind dat Suid-Afrika vanaf Oktober tot Maart byna ses maande lank somer geniet. Herfs beslaan beswaarlik April en Mei, en winter strek van Junie tot Augustus. ’n Tipiese lente word eintlik net in September ervaar.

Volgens Van der Walt moet meer as net reënvalpatrone gebruik word om seisoene in Suid-Afrika te bepaal omdat te veel veranderlikes op dié benadering inspeel. Daarby is Suid-Afrika halfwoestyn, met streke soos die woestyngebiede langs die Weskus wat nie eens genoeg reënval ontvang om as aanduider van seisoene te kan dien nie.

“Die gebruik van temperature werk goed, want dit is ’n voortdurende veranderlike. Suider-Afrika ervaar ’n groot genoeg verandering tussen seisoene sodat ’n mens ’n suksesvolle klassifikasie kan maak,” sê Van der Walt luidens ’n verklaring deur die Universiteit van die Vrystaat.

Hy sê wat mense gewoonlik as seisoene ervaar, is grootliks gegrond op sekere verskynsels, soos bloeisels wat in die lente verskyn, blare wat in die herfs verkleur en die migrasie van voëls. “Hierdie sogenoemde fenologiese skuiwe is gevoeliger vir temperatuur as ander klimaatsveranderlikes.

“Dit is nodig om krities te dink oor hoe seisoene verloop pleks van om seisoene arbitrêr volgens maande in te deel.”

Hy meen dit is belangrik om die jaar volgens temperature op te deel, sodat aanpassings gemaak kan word om seisoenale veranderinge in temperatuur weens klimaatsverandering korrek te monitor.