Daar sal in die volgende 30 tot 50 jaar nie ’n politieke oplossing vir die grondkwessie kan wees nie, omdat die Grondwet die hervormingsproses kompliseer. Wat grondhervorming betref, sal daar net wenners en verloorders wees, sonder enige middelgrond.

Só het dr. Piet Croucamp, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, by die werksessie op die Noordwes-Universiteit se kampus in Potchefstroom gesê. “Die Grondwet vergemaklik nie die proses nie. Die enigste manier om werklike grondhervorming te doen, is deur nasionalisering. As jy 70% van die grond vir swart Suid-Afrikaners wil gee, sal jy die grond moet nasionaliseer, want met die bestaande Grondwet en wetgewing gaan ons waarskynlik nooit daarby uitkom nie.”

Hy het gesê dit is egter nie ’n opsie nie, want dít sal die pad van Zimbabwe wees, en sal Suid-Afrika geheel en al vernietig. “Daar is volgens my glad nie hierdie massiewe grondhonger in Suid-Afrika nie. Daar is ’n noodsaaklikheid dat grondhervorming moet geskied en swart mense grond moet kry, maar as ’n ekonomiese werklikheid en nie ’n politieke doelwit nie.

“In die land met sy uiterste armoede kan jy mense net bemagtig deur vir hulle bates te gee, nie net die gebruiksreg van bates nie, want dan moet hulle nog steeds bygestaan word om die bate te kan benut. Hulle moet eienaarskap kry en dit gaan ook nie gou gebeur nie.”

Prof. Johann Kirsten

GEDULD

Croucamp het gesê selfs in ’n doeltreffende staat is grondhervorming moeilik en verg dit baie geduld. Binne ’n onbekwame staat is daar geen kans om die proses suksesvol te bestuur nie. “Ons sal in die volgende 30 jaar in onsekerheid leef, wit en swart kinders sal die land verlaat en die ekonomie sal verder uitgemergel word sonder groei.”

Hy glo die kans om in die volgende 10 jaar selfs die ekonomie net teen 2% per jaar te laat groei is nul.

Prof. Johann Kirsten, direkteur van die buro vir ekonomiese navorsing aan die Universiteit Stellenbosch, wat uit ’n landbou-ekonomiese perspektief gepraat het, het met Croucamp saamgestem oor die lae ekonomiese groei. Hy het gesê die klem in die voorgestelde wysigings op onteiening teen nul vergoeding bedreig eien- domsregte en die onsekerheid het ’n uiters nadelige invloed op beleggings. Die tekort tussen belastinginkomste en regeringsuitgawes in die derde kwartaal trek al by R40 miljard.

Kirsten sê die skade wat die debat oor onteiening sonder vergoeding aanrig, is ook reeds duidelik. Sake- en verbruikersvertroue het tot rekordlaagtepunte gedaal, grondtransaksies in al die provinsies bly daal en beleggings het opgedroog. “Daar is ’n sterk korrelasie tussen beleggings, groei, werkskepping en vertroue. As daar nie vertroue is nie, belê niemand nie en dan is daar nie ekonomiese groei nie.”

Hy het gesê twee aspekte wat belangrik is by vergoeding met onteiening is die skuld wat daar nog op die grond kan wees en die kwessie van vaste verbeteringe. Volgens hom voer kommersiële banke aan dat die grondeienaar vir die skuld verantwoordelik bly, al neem die staat die grond af. “Die grond is die bron van die boer se inkomste en sonder dit is hy nie in staat om sy verband te betaal nie.”

Mnr. Lengane Bogatsu

VERLIESE

Kirsten het gesê die Land Bank sal R53 miljard verloor, en as die kommersiële banke se finansiële stelsels in duie stort, is dit ’n verlies van R1,4 biljoen (trillion). “As die grondhervormingsproses nie doeltreffend en omsigtig bestuur word nie, sal ons nog slegter af wees as Zimbabwe.”

Hy het gesê al sou ’n mens kon argumenteer dat die grond gesteel was weens apartheid en onteien kan word, wat word van al die verbeteringe soos pakhuise, boorde, ens. wat deel van die vaste bates is en wat nie weggeneem kan word nie? “In die Oos- en Wes-Kaap sal jy uitbreidings van hektare en hektare se vrugteboorde sien wat eers oor vier of ses jaar ’n inkomste sal lewer. Om ’n boord te vestig kos by die R400 000/ha. Is daar vergoeding daarvoor?”

Mnr. Lengane Bogatsu, die hoofdirekteur van restitusie in Noordwes, sê die groot probleem met die bepaling van vergoeding is dat daar volgens die Grondwet vyf faktore in ag geneem moet word, en daar in die verlede hoofsaaklik net na markwaarde gekyk is. Die ander faktore is die huidige benutting van die eiendom, die geskiedenis van verkryging, die mate waartoe die staat belê en bygedra het tot die verkryging, kapitaal-verbeteringe op die grond en die doel van die onteiening.

Nog bydraende probleme was ’n tekort aan historiese dokumente wat van toepassing is op die bykomende faktore en die feit dat die kantoor van die waardeerder-generaal eers taamlik onlangs (2013) geskep is. Van 1996 tot 2003 is gebruik gemaak van onafhanklike professionele waardeerders wat net na markwaarde gekyk het.