Dit blyk uit ’n studie in die vaktydskrif Scientific Reports. Dit is een van die eerste studies wat die impak van bestraling deur sonlig self op breinfunksionering in ag neem, en nie net die blote invloed van hoë temperature op die mens se fisieke vermoëns nie.

Die studie toon as ’n mens sonder ’n hoofbedekking in die son werk, dit die dominante breinfunksies en die koördinering van komplekse motoriese take belemmer.

Volgens prof. Lars Nybo van die Universiteit van Kopenhagen in Denemarke is ’n afname in dié funksies gesien teen 38,5 °C – ’n hele graad minder as wat ander studies dit wou hê. “Dit is ’n wesenlike verskil,” sê hy.

Die navorsers sê dit speel ’n rol by die veiligheid, gesondheid én produktiwiteit van werknemers.

Prof. Andreas Flouris van die Thessaly-universiteit in Griekeland sê weens klimaatsverandering moet veral die landbousektor en die boubedryf toenemend beter beplan rondom werk wat in die buitelug gedoen word.

Nybo het aan Landbouweekblad gesê hy reken groot én klein belanghebbendes in die landbousektor moet toepaslike aksieplanne gereed hê wat hitte en werk in die son betref.

Werknemers moet gepaste voorkomingsmaatreëls vir warmer dae aanleer, en elke somer herhaaldelik daaraan herinner word. Hulle moet veral in die eerste week van ’n warmer tydperk kans kry om geleidelik aan stygende temperature gewoond te raak.

Hy stel voor mense dink slimmer oor wanneer sekere take verrig word om sodoende onnodige blootstelling aan die son te vermy.

Fisiek swaarder take in die buitelug moet vroeër of later in die dag aangepak word. Dit is belangrik om ’n hoed te dra wat genoeg skadu oor die gesig en nek gee, asook klere wat genoeg ventilasie bied. Dit sluit die gebruik van oorpakke met ventilasiegate in.