Uittree-annuïteite is waarskynlik die beleggingsproduk wat die grootste debat ontlok. ’n Dagblad het weer onlangs geskryf jy verloor 10% per jaar van jou potensiële groei as jy daarin belê.

Indien jy nog belastingvoordele vir die jaar 2018-’19 wil kry, het jy net tot einde Februarie kans om ’n uittree-annuïteit uit te neem. Maar hoe gemaak met al die onsekerheid?

Kom ons begin met wat baie sensasiesoekers uitwys as die probleem met uittree-annuïteite, naamlik Regulasie 28 ingevolge die Wet op Pensioenfondse. Dit verbied jou om 100% in aandele te belê en laat jou toe om net 30% in die buiteland te belê. Die vraag is egter of Regulasie 28 die opbrengs beperk wat jy op ’n uittree-annuïteit kan verdien. Die antwoord is ’n onomwonde “nee”.

Ons het ’n fonds geskep wat aan ál die vereistes van Regulasie 28 voldoen. In die afgelope vyf jaar het dit 1% beter as ’n gematigde fonds presteer en byna 2,5% beter as ’n fonds wat 100% in aandele belê is. Daar is dus geen rede om te dink dat jy potensiële groei binne ’n uittree-annuïteit verloor nie. Dit hang alles af van die betrokke fonds wat jy kies. Uittree-annuïteite is om dié redes goeie beleggings:

Beskerming teen jouself

Met die uitsondering van emigrasie het jy nie toegang tot die geld in jou uittree-annuïteit voor die ouderdom van 55 nie. Terwyl sommige mense dit as ’n nadeel sien, toon navorsing dat geld wat geredelik beskikbaar is, bitter selde gespaar bly tot met aftrede. Die druk van vandag se behoeftes is net te groot, en ongelukkig is die meeste van vandag se behoeftes onnodig. ’n Uittree-annuïteit beskerm jou dus teen jouself.

Beskerming teen krediteure

As jou boerdery of onderneming in moeilike ekonomiese omstandighede ondergaan, kan jy ook jou persoonlike bates verloor. Die bates in jou uittree-annuïteit is egter ten volle beskerm.

Beskerming teen jou kinders

Deesdae moet mense beplan vir ’n lewensduur van 95 jaar. Lank voor daardie datum gaan jou kinders of hul gade egter beheer oor jou finansies kry. As dit in ’n diskresionêre enkelbedrag beskikbaar is, kan dit maklik wegraak. Dit is egter moeiliker as die uittree-annuïteit ná aftrede vir jou ’n maandelikse bedrag in jou rekening inbetaal. Ongelukkig wys ervaring eersgenoemde gebeur baie meer as wat ons wil erken.

Staatsubsidie

Die staat dra 45c by vir elke 55c wat ons beste belastingbetalers neersit. Dit is omdat jou bydraes (tot ’n sekere maksimum) van jou inkomstebelasting afgetrek kan word. As jy R100 000 tot ’n uittree-annuïteit bydra, sal jy R45 000 in belasting terugkry. Iemand wat R25 000 per maand verdien, sal R26 000 in belasting terugkry. Hoewel dit jou dus effektief net R55 000 kos, kry jy die groei op die hele R100 000.

Jy gaan wel eendag belasting betaal op jou maandelikse pensioen uit die uittree-annuïteit, maar navorsing toon dat die gemiddelde belasting op jou pensioen 17,5% laer gaan wees as die belasting wat jy op die bydraes gespaar het. Jy het boonop die rente op die belasting vir die hele termyn gekry.

Belastingvry

Geen inkomste-, kapitaal- wins- of dividendbelasting is binne ’n uittree-annuïteit betaalbaar nie. Dit beteken die fonds kan tot 2,5% per jaar beter groei hê. Dit klink dalk nie na baie nie, maar oor 15 jaar is dit ’n bykomende 50% se groei.

Boedel

Met sekere uitsonderings is ál die geld binne jou uittree-annuïteit van jou boedel uitgesluit. Jy kan dus jou uittree-annuïteit aan jou kinders nalaat sonder om 25% boedelbelasting daarop te betaal.

BYDRAES

Minder as 6% van Suid-Afrikaners het voldoende voorsiening vir aftrede. Wat jy dus ook al spaar, is nie genoeg nie. Jy benodig R1 000 000 by aftrede vir elke R4 000 per maand. Dra soveel moontlik tot die uittree-annuïteit by. Vir belastingvoordele is 27,5% van jou belasbare inkomste of R350 000 die maksimum bydrae wat jy tot alle aftreefondse kan maak. Probeer dit bydra as dit enigsins moontlik is.

As jy ouer as 35 is en nou eers begin spaar, het jy in elk geval nie ’n keuse nie. Uittree-annuïteite kan nie in jou korttermynbehoeftes, soos vakansies, voorsien nie. Dit is ook nie ’n noodfonds nie. Jy gaan egter vir 40% van jou lewe van jou aftreegeld afhanklik wees. Daarvoor is daar geen beter spaarmetode as ’n uittree-annuïteit nie.

Adv. Ronald King is hoof van strategiese navorsing by PSG

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.