Boonop lyk vooruitsigte vir drastiese prysstygings maar skraal. Die landboumaatskappy GWK se statistieke bevestig dat pryse al maande lank hardnekkig onder verlede jaar se vlakke in die ooreenstemmende tyd voorthink. Die prys van swaar speenkalwers (201-250 kg) het al in November 2018 in Kimberley begin val en teen Maart op R28,50/kg gestaan. In die ooreenstemmende tyd in 2017-’18 was die gemiddelde prys daar bokant R33,50/kg. Teen middel Mei was die gemiddelde veilingsprys R23,52/kg.

GWK sê in een van sy jongste veiling-nuusbriewe dat die aanbod van slagdiere beter is en voorraad gelykmatig in die mark vloei. Kopers is egter steeds nie bereid om ’n hoër prys te betaal nie, grootliks weens onsekerheid of voorraad aan hul kant sal aanhou beweeg. Verwagtinge van ’n sterker vraag blyk ongegrond te wees weens ekonomiese toestande. “Slagpryse sal waarskynlik op kort termyn sywaarts of effens opwaarts beweeg,” lui dié markkommentaar.

OORSAKE

Prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom, beskou die oorsaak van die heersende lae pryse as ’n sameloop van omstandighede, waarvan twee vir hom voorop staan: Bek-en-klouseer en die sukkelende landsekonomie.

Hy wys daarop dat Suid-Afrika tradisioneel byna 4 000 ton beesvleis per maand uitvoer. Bek-en-klouseer het egter hierdie mark toegemaak, en ál daardie vleis het op die plaaslike mark beland. Voorts is voerkrale skrikkerig om aan te koop, want hulle weet nie of daar ’n mark gaan wees om aan te verkoop nie. Benewens die swak ekonomie is voerpryse ook hoër as verlede jaar.

Intussen looi die droogte nog die hele gebied wes van Kimberley, asook Suid-Afrika se buurlande, soos Namibië en Botswana, sê hy. Groot veeboere soek weiding om vir hul vee te huur.

Willemse het onlangs gehoor van ’n koei wat op ’n veiling in Namibië teen net R400 van die hand gesit is. Die belangrikste oplossings is dus om bek-en-klouseer in bedwang te hou en die ekonomie te laat groei. Oor die moontlikheid van invoertariewe op rooivleis uit lande soos Namibië en Botswana sê Willemse dis nie ’n opsie nie, want Suid-Afrika is deel van ’n vryehandelsooreenkoms met dié lande. Boonop voer Suid-Afrika op sy beurt groot hoeveelhede vleis na hulle uit.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.