Belanghebbendes is bekommerd dat hierdie stap die einde van die bedryf kan beteken. Mense wat by die bedryf betrokke is, het só heftig gereageer dat die departement vroeg in Maart ’n verklaring uitgereik het om sy standpunt te verdedig. “Forelle is indringers in geskikte water in Suid-Afrika en daar is geen wetenskaplike bewyse tot die teendeel nie,” sê die departement.

Die departement het verduidelik dat dít is waarom verskeie staatsdepartemente en instellings, waaronder die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, almal aanbeveel dat forel as indringer op die lys geplaas moet word. Die forelbedryf is bekommerd dat dit die einde van dorpe, soos Dullstroom in Mpumalanga, kan beteken waar byna die hele ekonomie op toerisme met besoekende forelhengelaars as die fokus geskoei is.

Kommer oor toerisme

Een hengelaar, mnr. Ian Cox van Natal, het op ’n sosiale netwerk vir hengelaars geskryf dat omtrent 5% van alle binnelandse toeriste wat KwaZulu-Natal elke jaar besoek, daar kom vlieghengel. “Die oorgrote meerderheid van dié hengelaars is forelhengelaars,” sê hy.

Dit kom neer op 209 500 besoeke aan KwaZulu-Natal met vlieghengel as die doel van die besoek. Die besteding van dié besoekers is na raming meer as R232 miljoen per jaar. Cox en ander belanghebbendes is bekommerd dat die departement se besluit om forel as indringers op die lys te plaas dié lonende nis in die toerismebedryf sal vernietig.

Verspreiding beperk

Die departement wys egter daarop dat hy beplan om forel as ’n kategorie 2-indringersoort op die lys te plaas. Dit beteken dié vissoort kan met ’n permit benut word, nes die bosboubedryf toegelaat word om sekere uitheemse boomsoorte aan te plant en te benut. Daar sal op gebiede ooreengekom word waar hierdie kategorie 2-soorte aangehou mag word.

Die departement sê sy klem lê eerder daarop om die verspreiding van dié soorte te voorkom as om hulle uit te roei. Visteelstasies sal kan aansoek doen om ’n 40-jaar permit. Toerismebestemmings waar forel in damme vrygelaat word, sal ook moet aansoek doen om permitte.

Die departement sê hy wil nie forelle uit damme verwyder in die gebiede waar hulle reeds gevestig is nie. Daar sal egter druk op die forelbedryf wees om aan te pas. Die departement sê sy besluit behoort nie ’n nadelige impak op die forel-waardeketting te hê nie en glo dit is die regte besluit om dié vissoorte as indringers op die lys te plaas.