Wêreldmarkte is onstabiel weens al die politieke onstabiliteit binne lande en veral weens meningsverskille tussen die groot moondhede. 

Mnr. Donald Trump, Amerika se president, is daarop uit om sy land se bestaande beleid teenoor sy handelsvennote ernstig te bevraagteken ten opsigte van vele aspekte. Saam met Brittanje se beoogde uittrede uit die Europese Unie (EU) skep dit baie onsekerheid in die markte.

Intussen groei die Amerikaanse ekonomie besonder sterk. Werkloosheid het gedaal tot sowat 4% en maatskappywinste bly groei weens Trump se verlaging van maatskappybelastings wat die Amerikaanse aandeelpryse hoër laat bly neig.

Daarmee saam het Amerika se federale reserwebank begin met ’n baie duidelike beleid om rentekoerse te normaliseer en tot heelwat hoër vlakke te bestuur. Dit is in teenstelling met die nul-rentekoersbeleid wat in 2008 van stapel gestuur is om ’n wêreldwye depressie af te weer.

Die stygende rentekoerse in Amerika en sterk ekonomiese groei wat verder gaan styg, maak Amerika weer eens ’n aantrekliker bestemming vir kapitaal. Daarteenoor staan die ontluikende markte waar die vertroue begin taan en die rentekoersdifferensiaal – soos in Suid-Afrika – kleiner geword het.

Beleggers meen hulle word nie voldoende vergoed vir die risiko’s verbonde aan opkomende markte nie en neem hul kapitaal na Amerika. Amerika het weer ’n aantreklike beleggingsopsie geword en heelwat kapitaal het in die loop van vanjaar uit ontluikende markte (wat Suid-Afrika insluit) begin terugvloei na die Amerikaanse ekonomie.

Dit het die dollar laat bly versterk (ook teenoor die rand). Internasionale oliepryse het ook sterk begin styg in dollarwaarde, wat weer eens ontluikende markte swaar tref, veral met hul verswakkende geldeenhede. In Suid-Afrika het beleidsekerheid vanjaar nie juis veel verbeter nie.

Selfs mnr. Trevor Manuel, voormalige Minister van Finansies, het erken die meerderheidsbesluit van die Parlement om ’n ondersoek van stapel te stuur om die Grondwet te verander om grond sonder vergoeding te nasionaliseer, maak dit baie moeiliker as wat verwag is om buitelandse beleggings hierheen te lok.

Die feit is dat Suid-Afrika ’n groot netto invoerder is wat te min binnelandse spaargeld het. Die land is dus afhanklik van buitelandse kapitaal om die begrotingstekort van die staat en so ook die tekort op die lopende rekening te help finansier, wat sowat R200 miljard per jaar beloop.

Reserwebankbesluit

Die monetêre beleidskomitee (MBK) van die Reserwebank het besluit om rentekoerse onveranderd te hou, ten spyte van stygende inflasie. Die komitee waarsku dat inflasie na verwagting verder gaan styg. Hul modelle dui daarop dui dat rentekoerse sowat vyf keer in die volgende jaar behoort te styg om vir die verwagte stygende inflasieneiging voorsiening te maak.

Die feit dat die rentekoersdifferensiaal tussen Amerika en Suid-Afrika ál kleiner word namate Amerikaanse rentekoerse styg, laat die rand verder verswak. Dit is sekerlik nóg ’n rede waarom rentekoerse in Suid-Afrika verhoog behoort te word.

Grafiek 1 toon die verloop van die Reserwebank se repokoers (wat handelsbanke as grondslag vir die prima uitleenkoers gebruik) en die inflasiekoers. Inflasie het sy onderste draaipunt bereik en die jongste syfer van 4,6% is hoër as ’n paar maande gelede se onderste draaipunt van nagenoeg 4%.

Die Reserwebank se eie voorspellings toon dat inflasie in die res van die jaar gaan versnel tot net so onder 6%. Onthou, dit is ook die boonste teikenband vir inflasie wat deur die Reserwebank nagestreef word. Die groot vraag is dan waarom rentekoer- se nie verhoog word as al die seine daarop dui nie.

Die MBK wys egter daarop dat Suid-Afrika se ekonomiese groei onder druk verkeer. Dus het die komitee sy ekonomiese groeikoersvoorspelling vir vanjaar verlaag van 1,7% tot 1,2 %. Die afwaartse aanpassing in die groeiverwagting volg nadat die ekonomiese groei in die eerste kwartaal met 2,2% negatief was.

Die verwagting is nie baie goed vir die tweede kwartaal se groeisyfers nie. Die MBK het wél die ekonomiese groeikoersvoorspelling vir volgende jaar effens verhoog vanaf 1,7% tot ’n moontlike groeikoers van 1,9%. Dit maak dit polities moeilik vir die Reserwebank om die rentekoers te verhoog in die aanloop tot ’n verkiesingsjaar, terwyl werkloosheid toeneem, inflasie styg weens BTW en brandstofpryse bly styg.

Dit gaan nie ekonomiese groei aanhelp nie en dit is ook nie asof verbruikers te veel bestee nie. Dit is die huidige stand en siening, maar daar word gewaarsku oor risiko’s op die pad vorentoe, wat die Reserwebank kan noop om rentekoerse te verhoog.

Daar is veral ’n paar risiko’s wat die MBK aandui vir die volgende jaar, wat eerder daartoe kan aanleiding gee dat rentekoerse kan styg, pleks van daal. Dit sal boerderye loon om in hul nuwe produksietyd se kostebegroting voorsiening te maak vir produksiekoste wat effens kan toeneem weens stygende inflasie en die rand wat verswak.

Dit sal dan ook goed wees as ’n mens met jou finansiers kan ooreenkom dat die rentekoers vasgepen word vir die jaar. Wees egter op jou hoede: Die finansiers wil gewoonlik ’n groot premie vra as jy só ’n finansieringskontrak wil sluit, maar dit kan die moeite werd wees.

OLIEPRYS EN Risiko’s

Die stygende olieprys plaas toenemende druk op koste via vervoerkoste en natuurlik boerderykoste, wat alles mettertyd deurwerk na verdere stygings in inflasie. Sedert Januarie 2016 het die internasionale olieprys in dollarwaarde tot nou toe met sowat 160% gestyg, wat ’n wye impak op ontluikende ekonomieë het en ekonomiese groei strem.

Onthou, die stygende olieprys verplaas ’n groot som geld van die olie-invoerlande, soos Suid-Afrika, na die olie-uitvoerlande. Dit vererger Suid-Afrika se buitelandse kapitaaltekort, wat eerder vereis dat rentekoerse moet styg om kapitaal na die land te lok. Die MBK wys ook daarop dat interna- sionale risiko’s hoog is en bly toeneem.

Dit kan verg dat rentekoerse opwaarts aangepas moet word as daar ’n krisis sou ontstaan. Argentinië het byvoorbeeld vroeër vanjaar sy rentekoerse tot 40% verhoog in ’n poging om sy geldeenheid te stabiliseer.

Die onstabiliteit wat veroorsaak word deur Trump se dreigende handelsontwrigting teenoor Amerika se handelsvennote, het reeds tot gevolg gehad dat internasionale handel afgeneem het sedert April en die risiko’s is dat ekonomiese groei wêreldwyd volgende jaar stadiger kan raak. Intussen word die dollar ál sterker.

Dit beteken ontluikende markte se geldeenhede verswak, wat weer hul inflasie opjaag en hoër rentekoerse verg. Grafiek 2 toon hoe die rand-dollar-wisselkoers vanjaar verswak het en eintlik uit sy versterkende neigingslyn beweeg het.

Die verswakking van die rand word deur die Reserwebank beskou as een van die grootste risikofaktore wat die ekonomie en dus inflasie bedreig, wat vinnige optrede kan verg om rentekoerse te verhoog.

Daar is internasionale ontleders wat meen ontluikende markte se geldeenhede gaan verder onder druk kom na die einde van die jaar toe. Daar is selfs vooruitskattings wat die moontlikheid noem van R16 teenoor die dollar.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.