Die voortdurende styging in brandstofpryse word nie net veroorsaak deur verhoogde belastings nie, maar is hoofsaaklik die resultaat van internasionale faktore wat lei tot hoër oliepryse en ’n verswakkende rand.

’n Aansienlike deel van die kleinhandelsprys van brandstof bestaan uit verskeie heffings en belastings, soos die brandstofheffing (337c/l), die Padongelukkefonds (193c/l), doeane en aksyns van 4c/l, die kleinhandelaars se gereguleerde winste van 187,2c/l, die groothandelaar se 34c/l en vervoerkoste.

Belastingverhogings wat in Februarie vanjaar se begroting afgekondig is, het ’n eenmalige impak gehad. Die grootste aanspoorder is tans die prys van ruolie wat ’n invloed op die basiese brandstofprys het. Gauteng se kleinhandelsprys is tans R16,02/l. Die belastingdeel is meer as 50%.

Die troos is dat alle padgebruikers dié belasting betaal en nie net dié wat inkomstebelastingopgawes voltooi nie.

beter kostebestuur nodig

Die nadeel van dié hoë olieprys is die uitkringeffek op inflasie. Die verwagting is dat Suid-Afrika se inflasiekoers opwaarts gaan neig namate die stygings in vervoerkoste ’n invloed het op die winkelrakprys en die produksiekoste van alle goedere en dienste.

Die landbou het weliswaar ’n dieselrabat, maar die vervoerkoste weens die stygende brandstof raak die landbou besonder erg omdat boerderye op die platteland is en die mark in stedelike gebiede. Die stygende ruolieprys en die verswakkende wisselkoers gee aanleiding tot die stygende koste in die landbou en plaas die boerdery se kontantvloei onder druk.

Onthou, dit is nie net brandstof nie, maar ook kunsmispryse (waarvan heelwat ’n neweproduk van olie is) wat regstreeks deur die stygende oliepryse beïnvloed word.

Grafiek 1 toon die verloop van die landbou se besteding aan brandstof en kunsmis sedert 2010. Die skerp styging in veral brandstofuitgawes die jongste paar jaar is duidelik. Die landbou behoort vanjaar sowat R14 miljard te bestee aan brandstofaankope en sowat R7 miljard aan kunsmis.

Die feit dat die land se spoorstelsel baie duur, hopeloos ondoeltreffend en nie meer by byvoorbeeld die meeste graansilo’s in werking is nie, beteken die meeste landbouprodukte moet padlangs vervoer word. Die koste daarvan word nie weerspieël in die R14 miljard wat net op plase bestee word nie.

Dink daaraan dat ’n 10%-styging in die brandstofprys die primêre landbou ’n ekstra sowat R1,4 miljard binne die plaashek kos. Indien ’n mens verder dink aan die Safex-vervoerdifferensiaal se aardige bedrae van enkele honderde rande per ton, gee dit jou ’n aanduiding wat dit boere buite die plaashek kos om produkte by die mark te kry.

Vanaf 2015 tot nou is die raming dat die landbou sowat R2 miljard ekstra per jaar aan brandstof betaal. Dit is een van die grootste enkele produksiekoste-items en vir ’n somersaaiboer is brandstof en kunsmis sowat 40% van sy regstreekse produksiekoste.

Minimumbewerking en ander praktyke vir ’n saaiboer om brandstofkoste laer te hou is deel van finansiële beplanning en oorlewing. Dit geld ook vir baie ander boerderye. Brandstofkoste is een van die grootste enkele uitgawes wat ernstige aandag aan bestuur kort.

Internasionale faktore

Die groot vraag is: Wat is die vooruitsigte vir die komende jaar vir die olieprys en wisselkoers wat ’n uitwerking op die plaaslike brandstofprys kan hê?

Grafiek 2 toon die verloop van die Brent-ruolieprys op die internasionale mark in Amerikaanse dollar per vat, asook die randwisselkoers.

Sedert Julie verlede jaar het die internasionale ruolieprys met sowat 60% gestyg tot net onder $80/vat (sowat R1 085/vat) in Julie vanjaar. Suid-Afrikaners is grootliks teen die styging gebuffer omdat die rand in die tweede deel van verlede jaar versterk het.

Die rand het egter sedert begin vanjaar skerp verswak, wat regstreeks aanleiding gegee het tot die styging in brandstofpryse. Die grafiek toon hoe die internasionale oliepryse en die rand sedert Maart vanjaar teen Suid-Afrika gedraai het. Die vraag na ruolie groei die laaste jaar of wat aansienlik vanweë die ekonomiese groei in Europa en Amerika en in Asiese lande.

Die vorige winter was ook besonder koud, wat verbruik opgejaag het. Die internasionale olievoorraad het gevolglik gedaal en dit het pryse oor die afgelope jaar opgejaag. Daarteenoor het die ontginning van nuwe gas en oliebronne tot stilstand gekom met die olieprys wat onder $50 (sowat R680) per vat was.

Dit was veral skaliegasontwikkeling in Amerika en Kanada wat afgeskaal is omdat dit nie ekonomies ontgin kon word nie. Die Opul-lande het ook hul produksie effe ingekort om voorraadvlakke laer te dwing en pryse op te stoot. Die aanbodkant van olie is besig om te verbeter en voorraad behoort na verwagting stadig te styg.

Met die laer verbruik tydens die Noordelike Halfrond se somer kan pryse op kort termyn sywaarts beweeg. Die langertermynvooruitsigte is minder rooskleurig ná die Noordelike Halfrond se somer. Oliemarkontleders meen veral twee faktore kan produksie ontwrig.

Eerstens is die ekonomie en olieproduksie van Venezuela (een van die groot olieuitvoerders) besig om in duie te stort weens die uitwerking van die populistiese ekonomiese beleid. Die tweede faktor is ’n gevolg van mnr. Donald Trump, president van Amerika, se eensydige beleid om sanksies teen Iran in te stel en die Europese Unie (EU) te dwing om dié voorbeeld te volg.

Die resultaat is dat ’n belangrike olieprodusent uit die mark gedwing word. Dit kan verdere ontwrigting in die aanbod veroorsaak en later vanjaar en volgende jaar die voorraad laat krimp en pryse opstoot. Teen dié hoër oliepryse word nuwe olieontginning en skaliegasproduksie in Amerika gestimuleer, wat sy ekonomiese groei verhoog.

Daar is ook toenemende spanning aan die oplaai in die Midde-Ooste wat tans ’n premie van $7/vat (sowat R95/vat) tot $10/vat (sowat R135/vat) op die olieprys veroorsaak. Internasionale ontleders verwag dus nie dat die olieprys in die volgende jaar gaan daal nie. Weens internasionale ontwrigtings kan dit eerder hoër neig. Dít is beslis nie goeie nuus vir Suid-Afrikaners nie.

Invloed van die VSA

Die verswakking van die rand is deel van ’n wyer internasionale neiging waar beleggers en spekulante begin onttrek het aan opkomende ekonomieë en hul kapitaal na Amerika geneem het.

Amerika se ekonomie groei sterk, wat aandeelpryse laat styg. Met Trump se belastingtoegewings word verwag dat maatskappywinste verder gaan groei, wat dié neiging versterk. Voeg daarby dat Amerika se rentekoerse tans in ’n stygende fase is. Dit het reeds sowat vyf keer vanjaar gestyg.

Verder kan dit na verwagting nog twee keer styg en dit lok kapitaal. Die risiko’s is minder in Amerika as in opkomende ekonomieë, wat Suid-Afrika insluit. Kapitaal vloei nou uit die opkomende ekonomieë en hul wisselkoerse is onder druk. Opkomende ekonomieë is tans net minder aantreklik en Suid-Afrika se beleidsonsekerheid wakker die onsekerheid aan.

Die rand kan dus nog verder verswak.

hou die tenks vol

Die vooruitsigte vir ’n aansienlike daling in internasionale oliepryse is skraal. Verder is die mening ook dat die rand tot en met ná volgende jaar se verkiesing nie ernstig gaan versterk nie. Dit sal jou dus loon om aandag te gee aan die boerdery se verbruik van brandstof en chemiese produksiemiddele, en, as jy dit kan bekostig, die brandstoftenks vol te hou.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.