Produsente moet die kans benut wat tariefbeskerming nou bied en aanplantings wat swak produseer, vervang met kultivars wat ’n hoër opbrengs lewer.

Suiker is een van die tien grootste landboubedrywe in Suid-Afrika wat saam tot 74% van die bruto produksiewaarde vir die landbou bydra. Dié bedryf is egter ook een van 12 sektore wat sedert 2007-’08 die laagste groei in bruto produksiewaarde van al die landbou- bedrywe in Suid-Afrika getoon het.

Graansorghum, volstruise, voergewasse, blomme, wyndruiwe, koring en mielies het ook min gegroei. Nes koring in die Wes-Kaap, is suikerriet in KwaZulu-Natal van strategiese belang vir Suid-Afrika. Albei gewasse word aan die kus verbou in provinsies waar die bruto produksiewaarde vir die landbou ’n wesenlike bydrae tot die betrokke provinsies se bruto binnelandse produk lewer.

Albei bedrywe se indiensneming en steun aan die plattelandse ekonomie is onmisbaar. Daar is nie ander hulpbronne wat as alternatief ontgin kan word om ekonomiese groei en indiensneming in die provinsies te steun nie.

Aangesien die bedrywe en verwante aanlegte, soos koring- en suikermeulens, aan die kus lê, is die bedrywe regstreeks blootgestel aan goedkoop invoer en die nadelige impak van ’n wêreldsurplus en subsidies in ander lande. Om dié twee bedrywe te steun met voldoende handelsmaatreëls, soos invoertariewe, is ’n strategiese besluit.

Die alternatief is dat ander winsgewende vertakkings verbou moet kan word wat suikerriet en koring in die onderskeie produksiestreke kan vervang. Gevestigde gemeenskappe wat van dié bedrywe afhanklik is, kan nie oornag na ’n beter blyplek verhuis of voldoende aanpas nie.

Tariefbeskerming

Die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) het op 12 Mei vanjaar die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (SASV) se aansoek om ’n verhoging in die verwysingsprys vir suiker ontvang. Die SASV doen aansoek dat die dollargebaseerde internasionale verwysingsprys vir suiker van $566/ton tot $856/ton verhoog word.

Groei in die suikerbedryf is beperk. Winsgewendheid word deur hoër produksiekoste en stagnerende opbrengste geknel. Die suikerbedryf het sedert 2000 met 70 000 ha gekrimp. Teen druktyd was die uitslag van die aansoek om die verwysingsprys te verhoog nog nie bekend nie. Invoertariewe vir die suikerbedryf word jaarliks bepaal.

Die spesifieke toegepaste invoertarief was in die vorige drie jaar 142,5c/kg (2015), 245,4c/kg (2016) en 31,89c/kg (2017).

Suikerinvoer

Die huidige internasionale verwysingsprys van $566/ton is te laag om die grootskaalse invoer van suiker te ontmoedig. As die verwysingsprys te laag is, soos tans, kan suiker goedkoper ingevoer word as wat die meulens op die KwaZulu-Natalse platteland dit aan die plaaslike mark kan lewer. Voorraad begin dus opbou en die aanbod van suiker oorskry die plaaslike vraag.

Dié voorraad suiker kan nie uitgevoer word sonder dat die bedryf groot verliese teen heelwat laer internasionale uitvoerpryse ly nie. Produsente moet suikerriet later sny om te voorkom dat suikervoorraad by plaaslike meulens verder toeneem. Intussen verlaag meulens die plaaslike suikerprys om ’n markaandeel teen ingevoerde suiker te behou.

Die pryse van suikerrietprodusente daal tot vlakke waarteen suikerriet nie winsgewend verbou kan word nie. Suid-Afrika se produksie- en verwerkingskoste van suikerriet is eenvoudig te hoog om suiker teen ’n wins, asook mededingend op die uitvoermark, te kan lewer.

’n Verhoging in die internasionale verwysingsprys gaan nie tot ’n hoër suikerprys vir die verbruiker lei nie. Verbruikers kan wél in die toekoms die voordeel ontbeer om toegang te kry tot ingevoerde suiker teen ’n laer prys.

As die nuwe aansoek vir ’n verhoogde verwysingsprys van $856/ton uit produsente se oogpunt suksesvol is, kan ’n doeltreffender verwysingsprys ’n groot bydrae lewer om in die toekoms suikerinvoer te beperk.

Sodra die internasionale suikerprys in die toekoms dan sou daal tot $856/ton, sal ’n tarief in werking tree waarmee die plaaslike suikerbedryf teen laer internasionale suikerpryse beskerm word. ’n Internasionale verwysingsprys beskerm bedrywe teen laer pryse.

Namate pryse styg, neem die invoertariefvlak en -beskerming af. ’n Hoër verwysingsprys wat doeltreffend toegepas word, dra nie in ’n dalende prysmark by tot hoër binnelandse suikerpryse nie. Dit beperk wel ’n verdere daling in pryse om suikerproduksie en die heenkome van gemeenskappe op die platteland te help verseker.

Nuwe kultivars

Die beskikbaarheid van nuwe suikerrietkultivars in ander wêrelddele maak dit ál belangriker vir groter en kleiner kommersiële produsente om hul suikerrietplantasies met die nuwe kultivars te beplant. Om winsgewend en mededingend te wees, moet produsente deurlopend in nuwe kultivartegnologie belê.

Dit verhoog produktiwiteit en verlaag die produksiekoste per eenheid, wat produsente in staat gaan stel om teen goedkoper geproduseerde invoer mee te ding en relatief goedkoper plaaslik geproduseerde suiker aan die verbruiker te lewer.

Suikersurplus

Die jongste tegnologiese ontwikkelings in suikerbeetkultivars dra grootliks by tot die internasionale suikervoorraadsurplus. As Suid-Afrikaanse produsente nie ou aanplantings met nuwe suikerrietkultivars met ’n hoër opbrengs in optimale produksiegebiede kan vervang nie, sal die verwysingsprys mettertyd weer aangepas moet word om teen goedkoper invoer te kan meeding.

Op die duur sal kleiner en kommersiële suikerrietprodusente wat nie kostedoeltreffend produseer nie, al hoe meer druk ervaar. Maak seker die volhoubaarheid van jou suikerrietproduksie in die toekoms berus nie op tariefbeskerming nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.

Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior ekonoom by Absa-Agribesigheid in Johannesburg.