Om ’n melkery se tussenkalfperiode binne minder as twee jaar van gemiddeld 390 dae na 376 dae te verlaag, beteken bestuurspraktyke moet 100% reg wees. Dit word regstreeks gekoppel aan goeie voeding, want sonder goeie voeding gaan koeie bloot nie vinnig genoeg en behoorlik beset raak nie. Voeding beslaan 70-80% van die produksiekoste in ’n melkboerdery, en as voedingspeile nie reg is nie, ly reproduksie en melkproduksie regstreeks daaronder.

Só sê mnr. Pieter Steenkamp, een van drie direkteure van die Tweekop-boerdery by Heidelberg in die Wes-Kaap. Hy behartig die melkvertakking. Die ander twee direkteure is mnre. Dirk van Papendorp en Janro Uys.

Die maatskappy, wat in 2014 tot stand gekom het, het sowat 3 200 ha grond. Dit bestaan uit Voorstekop van Van Papendorp, Oudekraalskop van Steenkamp en sy pa, Arno, en Uitkoms van Uys. Graanboerdery (koring, moutgars, kanola en koljander) maak 55-60% van die boerdery uit, die melkgedeelte 25-30% en skape (Merino’s) die res.

Steenkamp sê die boerdery het 260-300 lakterende Jerseykoeie. Dit wissel tussen die somermaande, wanneer die getalle die hoogste is, en die winter, wanneer die minste koeie gemelk word. “Buiten dié koeie verhuur ons ook sowat 220 koeie aan mnr. Pieter van Deventer, eienaar van Doornvlei Jerseys – ook by Heidelberg – omdat ons nie genoeg water het om self meer diere te melk nie,” sê Steenkamp.

Hy vertel gesprekke om ’n gesamentlike boerdery te stig, het reeds in 2012 begin. “My pa was voorheen by ’n ander maatskappy betrokke, en ons was gereed om met Dirk in ’n vennootskap te tree, wat in daardie stadium ook na vennote gesoek het.”

Elke vennoot het sowat 1 000 ha grond in die nuwe vennootskap ingebring, en Van Papendorp het die graankomponent en die Steenkamps die veekomponent onder hul vlerk geneem. “Ek het ondervinding gehad van veeboerdery omdat ek voorheen by ’n veevoermaatskappy gewerk het,” sê Steenkamp.

Elke party het ook sowat 1 200 skape in die boerdery ingebring. Steenkamp se pa het toe al 220 Jerseykoeie verhuur, en Van Papendorp het 200 lakterende Jerseys gehad. “Daar is besluit dat my pa sy koeie sou aanhou verhuur, en Dirk s’n sou in ons eie vennootskap gebruik word. Die plaas kon destyds maksimum 300 koeie huisves.”

Uys het in 2018 tot die maatskappy toegetree, en het sowat 75 Jerseyverse ingebring.

Mnr. Pieter Steenkamp in die melkstal – ’n 13-punt-oorswaai-visgraatstelsel. Sedert die nuwe elektroniese datastelsel alle data van elke koei twee keer per dag beskikbaar stel, kan voeding op ’n daaglikse grondslag aangepas word.

OPTIMALE MELKPRODUKSIE

Hoe het die Tweekop-boerdery dit reggekry om in 2020 tydens die Meestersuiwelboerkompetisie met die louere weg te stap as die Landbounavorsingsraad se nasionale kudde met die beste tussenkalfperiode?

Alles in ’n melkboerdery draai om goeie melkproduksie. “Ons benadering tot melkproduksie is ietwat anders,” sê Steenkamp. “Die meeste melkboere kyk na voer- en ander koste, vergelyk dit met hul maandelikse melktjek – en bepaal só of hulle wins maak. Ons het dit aanvanklik ook só gedoen, maar ek was nie regtig gemaklik daarmee nie. ’n Keerpunt het in 2018 gekom toe ons ’n drastiese besluit geneem het om ’n Ierse elektroniese melkstelsel –’n Dairymaster Milk Manager – te installeer.”

Voorheen het hulle ’n Dairymaster-melkmasjien gebruik, maar sonder die elektroniese gedeelte daarvan. “Ons het ’n punt bereik waar dit nie meer vir ons voldoende was om so elke vier tot vyf weke ’n melklesing te ontvang nie. ’n Mens kan nie ingeligte voedingsbesluite vir die toekoms neem op grond van lesings wat meestal meer as ’n maand oud is nie.”

Die ingebruikneming van die elektroniese metingstelsel stel hulle in staat om daagliks voedingsbesluite oor elke koei te neem op grond van ’n lesing soggens en saans.

“Ons kan nou ’n stalvoedingsrantsoen vir elke individuele koei bepaal. Dit stel ons in staat om met dieselfde hoeveelheid voer wat ons altyd gegee het, heelwat méér melk te produseer. Dit het dus op ’n groot voerbesparing neergekom, want voer kan tot 80% van die produksiekoste in ’n melkery wees. Dié gunstige verandering in produksie met dieselfde hoeveelheid voer was dadelik sigbaar.

“Ons gemiddelde melkproduksie was feitlik dadelik sowat 1,5 liter per koei per dag hoër as voorheen. Ons stalgemiddelde van 20 liter per koei per dag het amper oornag gestyg na 21,5 liter en hoër. In 2018 was die produsenteprys vir melk gelewer sowat R5,15/liter, wat beteken ons melkinkomste het dadelik met sowat R60 000 per maand gestyg,” vertel Steenkamp.

Die stalgemiddelde is tans 22 liter per koei per dag, wat uitwerk op gemiddeld 6 700 liter melk per koei oor 305 dae, met ’n bottervetinhoud van gemiddeld 4,77% en ’n proteïeninhoud van 3,85%.

“Ons het die aanname gemaak dat ons die elektroniese stelsel – wat sowat R600 000 gekos het – oor ’n sesjaartydperk teen R12 000 per maand sou kon finansier. Ons het daardie hele stelsel binne die eerste jaar betaal. Werk maar uit: Ons het maandeliks sowat R60 000 méér vir ons melk gekry as voorheen. Maal dit met 12 maande, en jy kom uit by sowat R720 000. Dit was ons keerpunt.

“Dáár het die melkery op ’n goeie winspad gekom. Die aanvanklike rede vir die ingebruikneming van die elektroniese stelsel was juis om beter winsgewendheid in die algemeen te bewerkstellig deur doelgerigte voeding. Die heelwat korter tussenkalfperiode is dus eintlik ’n wonderlike uitvloeisel daarvan.”

“Elke koei se stalvoeding word bepaal deur haar stalgemiddelde oor sewe dae, asook haar gemiddelde gewig oor sewe dae te neem. As ’n koei van 400 kg 40 liter oor dié tydperk gee, is haar doeltreffendheid dieselfde as ’n koei van 300 kg wat 30 liter gee. “Die doelwit is dus dat elke koei die hoogste moontlike persentasie melk volgens haar gewig produseer.”

Twee lakterende Jersey­koeie. Die stal­gemiddelde is 22 liter per koei per dag, dus gemiddeld 6 700 liter per koei oor 305 dae. Die Tweekop-­boerdery selek­teer koeie wat nie ’n té fyn raam het nie.

Steenkamp gebruik ’n formule om stalvoerhoeveelhede te bereken. Daarvolgens sal ’n koei wat ’n sekere hoeveelheid melk produseer uitgedruk as ’n persentasie van haar gewig, ’n sekere hoeveelheid voer kry. ’n Koei wat byvoorbeeld 5,5% tot 5,75% van haar gewig in melk lewer, sal 1,18% van haar gewig aan voer in die stal kry.

As ’n koei dus 400 kg weeg en 22 kg melk per dag lewer, produseer sy 5,5% van haar gewig in melk. Dié koei kry dan volgens die formule 400 kg x 1,18%, wat 4,72 kg voer per dag is.

Die persentasie waarmee vermenigvuldig word, word aangepas volgens die persentasie van die koei se gewig wat sy aan melk lewer. Dus sal ’n koei wat 400 kg weeg maar 30 kg melk per dag produseer (7,5% van haar gewig) 2% van haar gewig aan voer kry, wat 8 kg (400 kg x 2%) beloop.

Steenkamp sê die formule is deur die voedingskundige dr. Heini Spangenberg geformuleer en dit word baie suksesvol in sy kudde toegepas. Dit word ook deur ander toonaangewende melkboere gebruik.

Die eerste 30 dae nadat ’n koei gekalf het en in melkproduksie is, word van die formule afgewyk wat betref die hoeveelheid voer. Dit word dan net op grond van haar gewig bereken – van dag een tot ses kry sy 4 kg voer/dag, en van dag sewe tot 30 kry sy net ’n persentasie van haar gewig in voer, ongeag hoeveel melk sy produseer. Sy kry dus heel waarskynlik meer voer as wat haar melkproduksie in daardie stadium regverdig. Daarna word haar voer streng volgens die formule bereken.

Steenkamp sê enige koei se gewig moet in geen stadium tydens laktasie meer as 5% verskil van wat haar normale ideale gewig in daardie stadium van haar lewensontwikkeling wees nie. Indien dit wel gebeur, tree ’n bykomende stel stalvoedingsreëls in om die balans te herstel. “Die model verseker dat ons koeie altyd in ’n goeie kondisie is, want ons let onmiddellik op as enige koei se kondisie buite daardie norm is.”

Verse wat 250 kg of meer weeg, word kunsmatig geïnsemineer. In die maand wat hulle geïnsemineer word, kry hulle kuilvoer en strooi. Op die agtergrond kan van die kuilvoer in lê-plastieksilo’s of -sakke gesien word.

BUITE DIE STAL

Voerrantsoene buite die stal bestaan uit hawerkuilvoer, strooi, kanola-oliekoek en gars – waarvan die meeste deur die boerdery geproduseer word. “As ons nie self gars het nie, gebruik ons mielies in die plek daarvan.”

Die koeie wei drie maande van die jaar – van Junie tot Augustus – op hawerweiding. Hulle kry in dié tyd steeds hul stalvoeding soos vir elkeen individueel geformuleer. Die res van die jaar – September tot Mei – kry hulle hul volvoer in voerkraalomstandighede. Steenkamp maak wel ietwat van ’n uitsondering vir laatlaktasiekoeie, wat soms op lusern kan wei totdat dit op is.

Die koeie word die hele jaar in vier groepe bestuur. Groep 1 is alle koeie van dag 1-150 in laktasie. Hierdie groep koeie word kunsmatig geïnsemineer (KI). Wanneer die koeie in groep 1 deur ’n veearts as dragtig bevestig word, skuif hulle na groep 2, waar daar ’n Jerseybul is. Koeie in groep 1 wat teen dag 150 nog nie dragtig is nie, skuif ook na groep 2.

Die rede hoekom dragtige koeie na die groep met ’n bul skuif, is indien iets gebeur wat veroorsaak dat die koei haar kalf verloor, moet die bul die opvangwerk doen. Sowat 95% van koeie in groep 1 verlaat die groep voor 150 dae omdat hulle dan reeds deur ’n veearts as dragtig bevestig is.

Een van die Jerseybulle wat vir natuurlike dekking gebruik word. Alle koeie wat kunsmatig geïnsemineer is, gaan ná inseminasie na bulkampe toe, waar hulle weer gedek en dragtig kan word sou hulle die eerste fetus verloor.

Groep 3 is alle eerstelaktasiekoeie. Hulle word gedurende die hele laktasie apart bestuur. Hulle word net kunsmatig geïnsemineer.

“Ons oorweeg dit om in die toekoms jong verse net met geslagsbepaalde saad te insemineer. Dit waarborg dat die nageslag 90% vroulike diere sal wees. Tans gebruik ons hoofsaaklik bulsemen uit Amerika, want ons het bevind dat dit vir sterker koeie met goeie reproduksie sorg.

“Die persentasie plaaslike Jerseyboere wat hul totale produksie meet en deurgee vir melkaantekening, is relatief klein en daarom is bulle se syfers ook nie so betroubaar soos dié van bulle waarvan saad ingevoer word nie. Suid-Afrikaanse bulle is beslis nie swakker of minderwaardig nie – inligting is bloot nie so volop en algemeen beskikbaar soos dié van bulle in Amerika nie.

“Te min van ons melkboere doen melkaantekening. As meer plaaslike melkboere die voordele wat melkaantekening bied, sou benut, sou ons ook meer betroubare syfers beskikbaar kon hê en dus sou plaaslik geteelde bulle se saad ook meer in aanvraag wees.”

Groep 4 is alle koeie wat minder as 18 liter melk produseer. Hulle kry net kuilvoer en strooi in die mengsel en kragvoer in die melkstal volgens die voerformule. As daar enige vorm van weiding beskikbaar is gedurende die jaar (hoofsaaklik lusernweiding) wei hulle daarop. Koste word so laag as moontlik gehou by hierdie groep. As ’n koei in groep 4 beland en sy raak nie dragtig nie, word sy summier vir slag geoormerk.

“Ons insemineer regdeur die jaar, en natuurlike dekking geskied ook regdeur die jaar. Daarom is kalftyd ook regdeur die jaar.”

“Ons tussenkalfperiode is 376 dae – iets waarop ons trots is,” sê Steenkamp.

Koeie wat uitsak en nie elke 376 dae ’n kalf lewer nie, word uit die kudde gehaal en vervang met goeie aanwaskoeie. “Koeie wat uitsak weens ’n laer melkproduksie, uierprobleme en algemene speenprobleme, maak jaarliks sowat 25% van die kudde uit. ’n Kwart van die kudde word dus gemiddeld jaarliks vervang.”

Kalfies by ’n voerbak. Ná speen op sowat 60-70 dae het hulle ad lib toegang tot kalfkorrels, strooi en natuurlik water.

VERSE

Verse wat 250 kg of meer weeg, word kunsmatig geïnsemineer, en in die maand wat hulle geïnsemineer word, kry hulle ook kuilvoer en strooi – waarna hulle teruggaan na lusernweidings en ’n bul ook beskikbaar is om seker te maak hulle raak dragtig.

“Ek laat verse op 15-16 maande dek, en dan kalf hulle op 25-27 maande. Die ideaal waarna ons streef, is dat ons versies op 24 maande kalf. Ons selekteer vir sterker diere – met ander woorde, ons teel weg van die heel fyn liggaamsraam van party Jerseykoeie. Sterker diere verwerk stres veel beter, terwyl hul kapasiteit vir voerinname ook heelwat beter is,” sê Steenkamp.

Kalwers tussen een en drie dae oud kry biesmelk, tussen dag drie en 14 kry elke kalf 4 liter melk per dag, en vanaf dag 15 tot speentyd op 60 tot 70 dae kry elkeen 6 liter per dag. Verder het hulle ad lib toegang tot kalfkorrels en natuurlik water.

KALFGROOTMAAK

Vanaf speen tot op sowat agt maande oud kry die kalwers volledige kalfkorrelrantsoene en strooi. Daarna gaan hulle na lusern- en stoppellandbeweiding.

Wat siektebekamping betref, word ’n saamgestelde entstof jaarliks in die lente toegedien teen sponssiekte en miltsiekte, terwyl ook teen BVD en knopvelsiekte ingeënt word. Alle koeie wat opdroog, word teen rotavirus en koronavirus ingeënt, asook met Clostridium-entstowwe teen salmonella en Escherichia coli.

“Die doel daarvan is om weerstand in kalwers te verhoog,” sê Steenkamp.

Mnr. Pieter Steenkamp (middel) saam met sy pa, mnr. Arno Steenkamp (links) en mnr. Dirk van Papendorp. Pieter het die melk­afdeling onder sy vlerk, terwyl Van Papendorp die uitgebreide graankomponent van die boerdery behartig.
Mnr. Pieter Steenkamp (middel) saam met twee van sy staatmakerwerkers, mnre. Heinrich Michaels (links) en Jeffrey Alexander. Dié twee is nou betrokke by die kunsmatige inseminasie van die koeie, en noukeurige hittewaarneming is hul taak regdeur die jaar.

GESONDHEID

Daar word, wanneer nodig, teen bosluise behandel, en een keer per jaar word al die koeie met ’n breëspektrum-ontwurmingsmiddel ingespuit.

Direk ná kalf kry koeie ’n multimineraal- en vitamien A-inspuiting, “wat baie belangrik is vir koeie om vinnig kondisie te bereik”.

Steenkamp sê hulle ondersoek die moontlikheid om ’n bykomende plaas te kry wat beter geskik is vir melkboerdery – met meer water en goeie weiding deur besproeiing. “Dan kan ons uitbrei na ons volle potensiaal en doelwitte.”

NAVRAE: Mnr. Pieter Steenkamp, 084 581 1436.