Te min moeite word dikwels gedoen om die korrektheid van waarnemings in ’n melkkudde te bevestig voordat bestuursbesluite aangepas word. In kleiner melkkuddes ken melkboere gewoonlik al hul koeie. By groter kuddes raak bestuur uiteraard moeiliker en “ken” bestuurders nie al hul koeie deeglik nie. Daarom het melkmasjienmaatskappye rekenaarprogramme ontwikkel om boere met bestuur te help.

Nuwe melkmasjiene is toegerus met rekenaarprogramme wat byvoorbeeld die identiteit en melkproduksie van koeie met elke melksessie aanteken, asook die tye wat elke sessie duur. Meer inligting is ook beskikbaar – byvoorbeeld die konduktiwiteit (geleivermoë) van die melk, wat aanduidings gee van mastitis, en die aktiwiteit van koeie, wat aandui of ’n koei op hitte is. Koeigewigte en melksamestelling kan ook verkry word.

Een van die kerndoelwitte van dié programme is om afwykings in produksieparameters te identifiseer sodat bestuur daarop kan konsentreer. Sulke koeie kan dan met uitkeerhekke uit die groep gehaal word vir nader ondersoek en behandeling. Omdat waarnemings gereeld uit rekordinligting gemaak word, ontwikkel party van hulle tot persepsies.

Persepsies, of opvattings, word later gevolgtrekkings, wat as wetenskaplik korrek aanvaar word. Dikwels word min moeite egter gedoen om die korrektheid daarvan te bevestig. ’n Verkeerde persepsie is nie noodwendig ’n probleem nie. As dit egter bestuursbesluite of ander produsente nadelig beïnvloed, kan dit tot ekonomiese probleme lei.

In ’n onlangse gesprek op sosiale media het ’n nulbeweidingsprodusent die menings van ander melkboere oor die waarde van kruisteling by melkkoeie getoets. Melkboere wat saamgesels het, was meestal weidingsboere wat die praktyk reeds toepas. Hulle was oor die algemeen optimisties oor die teelpraktyk, maar verskeie persepsies het na vore gekom uit die gesprekke.

sukses van kruisteling

Kruisteling word as rede vir die finansiële sukses van talle melkboere voorgehou. In die weidingsgebiede van Suid-Afrika word kruisteling algemeen toegepas. Dit is waarskynlik ’n Nieu-Seelandse invloed, waar dit al jare lank deel van ’n teelprogram is.

Kruisraskoeie maak daar sowat 35% van alle koeie uit. Die manier hoe koeie en bulle daar geneties oor alle melkbeesrasse geëvalueer word, maak kruisteling ’n aanvaarbaarder praktyk.

Nieu-Seelandse melkboere pas ook ’n seisoenale produksiestelsel toe. Kragvoer en ander ruvoer word teen lae vlakke bykomend tot aangeplante weiding gevoer.

Hoewel kruisteling waarskynlik ’n bydrae gelewer het tot die finansiële sukses van sommige melkprodusente, sal dit nie dadelik ’n sukkelende besigheid red nie. Dit is weens die lang tydsverloop van die aanvang van die teelverandering totdat beter reproduksie- en leeftydproduksievlakke behaal word.

Die uitwerking sal eers ná drie tot vier jaar begin intree wanneer kruiskoeie hul eerste laktasie voltooi het, en beter resultate sal eers ná sowat ses jaar werklik na vore kom. Dit sou dus vir ’n melkery wat finansieel sukkel beter wees om sy bestaande bestuurspraktyke en die finansiële implikasies daarvan te ondersoek en reg te stel voordat só ’n drastiese teelverandering aangepak word.

Vir ’n volvoerkudde in Suid-Afrika kan proefresultate en ondervinding oor kruisteling uit Amerika ’n beter verwysing wees. Navorsing is daar meer gerig om leeftydproduksie van koeie te verhoog. Rasse soos die Normandé, Montbéliarde en Norwegian Red is in studies gebruik. Guernseys en Braunvieh is in ouer studies gebruik.

Melkproduksie van kruisraskoeie was laer as dié van rasegte Holsteinkoeie, maar vet- en proteïenpersentasies was hoër. Daar is ook gevind die reproduksie van kruisraskoeie was beter as rasegte Holsteinkoeie, wat oorlewing verbeter het.

Die laer produksiekoste van weidingstelsels en goeie finansiële bestuur was waarskynlik die werklike redes vir die sukses van sommige melkboere. Gevestigde melkplase het ’n beter kans om finansieel te oorleef as nuut ontwikkelde plase. In Australië is gevind dat goeie finansiële bestuurders ’n opbrengs van 15% op kapitaalbeleggings behaal, terwyl die bedryfsnorm maar sowat 2% tot 3% is. Daar is ook gevind die hoeveelheid melk wat koeie produseer, is ’n swak aanduiding van finansiële sukses.

Plaaslik bestaan daar egter die opvatting dat melkproduksievlakke winsgewendheid aandryf, wat druk veroorsaak om die produksie per koei te verhoog. Dit word gedoen deur meer kragvoer te voer, wat produksiekoste van melk verhoog en die basiese beginsel van dalende meeropbrengs ignoreer.

Dit gebeur veral wanneer die toename in melkproduksie afneem wanneer meer kragvoer gevoer word. Dié studieveld kry min aandag in Suid-Afrika.

Dr. Carel Muller by ’n klompie kruisraskoeie.

MELKAantekening TEENOOR rekenaarprogramme

’n Opmerking is ook gemaak dat suksesvolle weidingsboere melkaantekening laat vaar en beter bestuurstelsels gekry het, soos Afikim en Delpro. Party produsente het ook melkaantekening laat vaar omdat rekenaar- programme goedkoper sou wees as die amptelike melkaantekeningskema.

Dié opvattings toon egter min begrip van dit waaroor melkaantekening werklik gaan. Die hoofdoel is om die genetiese meriete van koeie, verse en bulle in ’n kudde of ras te bepaal. Dit is immers waar genetiese inligting gekry word van ingevoerde bulle wat wêreldwyd vir kunsmatige inseminasie bemark en algemeen in Suid-Afrika gebruik word.

Melkaantekeningrekords word volgens standaardprosedures versamel en genetiese ontledings daarop gedoen. Daar is selfs ’n internasionale organisasie, ICAR (International Committee on Animal Recording), wat dié prosesse standaardiseer en verifieer.

Sonder melkaantekening is daar geen inligting oor die genetiese meriete van koeie en bulle in ’n kudde nie. Omdat genetiese invloed op melkproduksie sowat 25% is, is dit ’n groot leemte. Navorsing toon dat die teelwaarde vir melkproduksie van bulle die produksie en doeltreffendheid van produksie van koeie betekenisvol beïnvloed.

Dit is natuurlik om melkaantekeningrekords vir bestuur te gebruik – veral as produsente nie ’n ander stelsel het nie. Dié rekords word egter net op tien dae – verspreid oor die tydperk van ’n jaar – geneem, terwyl die outomatiese melkaantekeningstelsel daaglikse melkproduksie-inligting verskaf.

Ander inligting soos melksamestelling en somatiese seltellings is eers ná sowat vyf dae beskikbaar. Met rekenaargebaseerde rekordhoudingstelsels kry produsente ’n aanduiding dat koeie mastitis gaan kry. Dit maak dié programme meer voorkomend.

Dit is dus onwys om ’n rekenaargebaseerde rekordhoudingstelsel en die melkaantekeningstelsel teen mekaar op te weeg. Elkeen het ’n ander funksie en behoort eerder aanvullend tot mekaar gebruik te word.

Grootte: Nie ’n eenvoudige vergelyking . . .

Koeigrootte is blykbaar belangrik vir weidingsprodusente. Die algemene opvatting is dat kleiner koeie doeltreffender is. Dit word dikwels verduidelik aan die hand van koeie met dieselfde melkproduksievlakke, maar waarvan die liggaamsgewig verskil – byvoorbeeld twee koeie wat onderskeidelik 390 kg en 520 kg weeg en elk 6 000 kg melk produseer. Dit is reg, maar dit ignoreer ’n ander werklikheid, naamlik koeie met dieselfde liggaamsgewig en verskillende melkproduksievlakke – byvoorbeeld twee koeie wat elk 450 kg weeg met melkproduksie van onderskeidelik 4 600 kg en 7 300 kg.

Die probleem met dié persepsie is die positiewe verband tussen melkproduksie en liggaamsgewig. In die grafiek word dié verband vir Holsteinkoeie in eerste laktasie in ’n weidingstelsel aangedui.

Die groot verskille in liggaamsgewig en melkproduksie by sekere melkproduksie- en liggaamspeile is maklik sigbaar. Die verband tussen die twee eienskappe is ook nie noodwendig liniêr nie.

In dié kudde verduidelik ’n kurwe die verband beter. Dit toon dat met ’n toename in melkproduksie, die toename in liggaamsgewig minder word.

Kleiner koeie gee oor die algemeen minder melk. Hoër melkproduksievlakke verhoog ook die verhouding van melkproduksie gedeel deur liggaamsgewig. Dit sou dus ’n verkeerde benadering wees om vir kleiner koeie te teel sonder om die verband tussen melkproduksie en liggaamsgewig in ag te neem.

Dit is moontlik om vir hoër melkproduksievlakke te teel terwyl die toename in liggaamsgewig beperk word. In Amerika word koeigrootte ingesluit in die Net Merit-indeks, teen -5,3, om koeigrootte te beperk. Die grootste klem van die indeks is egter steeds vet- en proteïenproduksie. Produktiewe leeftyd kry ook meer aandag.

Dit is die leeftydproduksie van ’n koei wat haar winsgewendheid bepaal, en nie hoeveel sy weeg nie. 

Dr. Carel Muller is ’n navorsingsgenoot aan die fakulteit landbouwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Navrae: E-pos: careljcmuller@gmail.com; 082 907 1139.