“Dis ’n groot voorreg en eer vir Landbouweekblad om ’n klein bydrae te kan lewer tot die visionêre en belangrike werk wat Die Kooperasie, onder die leiding van mnr. Henk Agenbach, doen in die gemeenskappe wat hy bedien,” sê Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad.

“Om die landbou uit te bou deur inklusiewe besighede staan te maak wat welvaart vir almal skep, is presies hoe ons die land gaan omdraai. Ons hoop ons boere van reg oor die provinsie sal die twee byeenkomste bywoon om die mooi stories te hoor van hoe Die Kooperasie, en hulle self, die landbou kan gebruik om ’n beter Suid-Afrika te bou vir almal.”

Die konferensies sal op 5 November by Mentorskraal in Jeffreysbaai en op 6 November by die Internasionale Konvensiesentrum in Oos-Londen aangebied word.

Dié konferensies se klem is nie net om die goeie stories van vennootskappe in die Suid-Afrikaanse landbou te vertel nie, maar bied ook die geleentheid om toekomstige vennootskappe te smee wat voordelige en werkbare oplossings vir alle partye bied.

Die konferensies sal afgevaardigdes die geleentheid bied om self te sien en te hoor hoe landbou-ontwikkelingsprojekte duisende mense se lewe bevoordeel het.

Die Kooperasie is al vyf jaar lank besig om suksesvolle vennootskappe en projekte soos hierdie in verskeie bedrywe reg oor die Oos-Kaap aan die gang te kry.

Agenbach, uitvoerende hoof van Die Kooperasie, sê hulle deel graag goeie verhale van sukses. "Ons glo dié geleentheid sal toekomstige samewerking aanmoedig en wedersyds voordelige en werkbare oplossings kan skep.

"Ons glo dat die oplossing in ekonomiese groei lê.  Vennootskappe is die sleutel tot inklusiewe en volhoubare groei.  Daar is groot potensiaal daarin om nuwe grond te ploeg en ons is positief om die bedryf hierin by te staan.  Ons het sukses met ons projekte bereik en hoop dat ons ander kan help en inspireer om van geleenthede te ontgin.”

Genooide gaste sluit kommersiële en kleinboere in, nie-regeringsorganisasies, politici, akademici, beïnvloeders, finansiële instellings en ander belangegroepe wat landbou-ontwikkeling en volhoubaarheid in Suid-Afrika nastreef.

Toegang is gratis, maar besprekings is noodsaaklik. Bespreek by https://www.humkoop.co.za/conference-2019.php voor 15 Oktober.