Ek het op Ditsem Nuus gelees dat daar 123 miljoen ha landbougrond in Suid-Afrika is. Ek is ’n aktivis vir omgewingsake en my grootste bekommernis is dat daar tans 79 miljoen ha onder indringerplante is. Daar kan werk geskep word vir die werkloses deur die indringerbosse te kap en meganies op te kerf in stukke van sowat 15 mm (die masjiene is beskikbaar).

Daarna word dit op staatsonkoste na byvoorbeeld mielieplase vervoer sodat die boere dit op die rye kan uitstrooi om die vog in die grond te bewaar. Ek meen met grondvogbewaring kan tot 2 ton meer per ha geoes word. Die gekerfde houtstukke kan ook in die vrugteboorde en wingerde om die stamme of op die walle gegooi word om vog te bewaar.

Daar is verskillende opsies om vog in die grond te hou. Daar moet net begin word daarmee, anders groei indringerplante Suid-Afrika toe. Werk kan geskep word en die boere kan ’n beter inkomste kry. Waar die bosse uitgekap word, moet jaarliks skoongemaak word sodat die weidings kan groei. Daar sal dan genoeg weiding beskikbaar wees vir wild, beeste en kleinvee.

Op hierdie manier kan die ekonomie aan die gang kom, mense inkomste genereer, boere groter oeste afhaal en wild- en veegetalle vermeerder word. Tans vermeerder die indringerplante teen 8% per jaar. Landbougrond word dus net al hoe minder. Soos ons nou weer met die groot brande gesien het, brand die indringerplante boonop soos strooi, maar die vuur word vanself geblus sodra dit by die inheemse plantegroei kom.

My oproep is dat die owerhede en kundiges in Suid-Afrika van hierdie feite en voorstelle kennis neem en sodoende help om die landbou van agteruitgang te red. In 1933 in die Depressiejare het die Regering met arm, wit arbeid die denneplantasies in die Suid-Kaap begin, klipmure gebou en klippe in die lande opgetel om mense van kos te voorsien. Só kan ons weer ’n toekoms skep.