Uit: Die Landbouweekblad, 2 Junie 1954

Eienaars van klein stukkies grond om stede dra aansienlik daartoe by dat stedelinge van vars groente en suiwelprodukte voorsien word.

Dit is egter twyfelagtig of alle kleinhoeweboere se produksiemetodes op gesonde ekonomiese beginsels berus. Vanweë die aard van hierdie soort boerdery is dit noodsaaklik dat die onderneming wat aangepak word, so intensief moontlik moet wees om dit lonend te maak. Dit word ook deur die meeste kleinboere besef.

Wat hulle egter nie altyd in aanmerking neem nie, is die belangrikheid van die keuse van die regte gewasse en diere.

Gedagtig hieraan het mnr. W. Elliott, ’n kleinhoeweboer aan die Rand, ongeveer vier jaar gelede ’n omwenteling teweeg gebring. Hierdie gewese ketelmaker boer al die afgelope 21 jaar met hoenders, maar die eensydigheid van sy stelsel het hom’n ondervertakking laat soek.

Die keuse het uiteindelik op konyne geval. Betreklik onlangs het daar ’n geringe vraag na konynvleis ontstaan. Sedertdien het die gewildheid van konynvleis in so ’n mate toegeneem dat daar vandag ’n uitstekende mark daarvoor is.

Elliott het klein begin, maar namate die vraag gestyg het, en danky die uitstekende teelvermoë van hierdie diere, het die konyne ’n vername ondervertakking van sy boerdery geword. Hy besit vandag meer as 800 konyne, klein en groot, en is in staat om ongeveer 50 karkasse per week te bemark.