Die turksvy kan moontlik baie antwoorde bied vir Suid-Afrika se uitdagings rondom landbou-ontwikkeling en werkskepping. Wetenskaplikes van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het dié plant, asook die waarde van sy vrugte, in diepte nagevors, en gevind dit het baie meer potensiaal as wat gedink word.

Die navorsing is deur die universiteit se biotegnologie en dierekunde departemente, en die Landbounavorsingsraad aangepak. Navorsers van universiteite en agentskappe in Suid-Amerika het ook bygedra tot die studie.

Spesifiek drie bepalinge is oor die plant gemaak. Eerstens is dié kaktusplant baie meer voedsaam as wat gedink word, tweedens kan die totale plant in verwerking gebruik word en derdens is die plant ’n gewas wat ’n groot omgewingsvriendelike oes in 'n droë gebied kan lewer.

“Ons minderwaardige kaktuspeer, het navorsers bevind, kan letterlik die woestyn laat blom,” lui 'n verklaring.

Goeie voedingswaarde
Die vrug het luidens ’n verklaring dieselfde voedingswaarde as bladwisselende vrugte soos appels, pere en druiwe. Dit het dieselfde hoeveelheid vitamien C, kalsium, magnesium, anti-oksidante en vesels as hierdie vrugte, en kan ook gebruik word om konfyt, stroop, sap en puree van te maak. Die vrug sal dié produkte ook dwarsdeur die jaar kan verskaf.

“Ons het nog net aan die oppervlak van die gebruike van die uitsonderlike plant geraak,” sê dr. Maryna de Wit, ’n kenner van die UV se departement biotegnologie. “Dit moet ernstig oorweeg word as ’n altenatiewe gewas vir droë gebiede.”

Geskik vir veevoer
Prof. H. O. de Waal, van die UV se departement van diere, wild en grasveldwetenskappe, sê die blare van die turksvy is ’n waardevolle bron van voeding vir diere. Hy het tegnieke ontwikkel waarvolgens die kladodes in voer omskep kan word vir skape gedurende droogtetye.

Die kladodes bied ook voedingswaarde vir menslike gebruik, veral in die vorm van meel, en is ideaal vir diegene wat ly aan voedselallergieë. Dit kan selfs gelatien in voedsel vervang, of as emulgator in mayonnaise gebruik word.

Volgens De Waal het hulle die meel gebruik om 25% van gewone meel in brode en koeke te vervang, en kon hulle nie die verskil tussen dit en gewone meel proe nie. Die veevoer wat geproduseer word, is lig, maklik om te verpak en te stoor en het ’n hoë voedingswaarde.

“Kaktusverwerking is steeds beperk in Suid-Afrika en ons moet ’n landboubedryf hiervoor ontwikkel,” aldus dr. Herman Fouché, verteenwoordiger vir die landbouraad by die UV. “Dit is ’n omgewingsvriendelike en biologies afbreekbare produk. Dit is tyd dat dié aspoestertjie erken word as ’n gewas wat groot oeste met baie doeltreffende waterverbruik-kapasiteit kan lewer.”