Dit het egter nie Klein Karoo Saadproduksie op Oudtshoorn se groentesaad-afdeling benadeel nie, sê mnr. David Malan, besturende direkteur van die maatskappy. “Dit gaan goed ten spyte van die droogte. Boere het die bietjie water wat hulle gehad het, na saadproduksie gekanaliseer. Dis die hoogste inkomstebron wat met beperkte water behaal kan word.”

Die droogte het veral lusern- en lusernsaadproduksie in die Klein-Karoo erg geknou. Malan sê hulle verwag dat daar net 50 kg saad uit die gebied wat gewoonlik 500 kg lusernsaad lewer, gaan kom.

Aan die ander kant vaar ui-agtige saad soos uie, preie, salotte en Chinese preie uitstekend omdat bestuiwing so goed was. “Uie is normaalweg nie bye se eerste keuse nie, maar omdat die voedselbronne vanweë die droogte so beperk was, het die bye die uieblomme besoek en kon boere baie goeie opbrengste behaal,” vertel Malan.

Hy sê die gehalte van die saad was daarom baie goed. “Ons moet genoeg bye hê wat gesond is en goed werk. As ons vroeg in die jaar reën kry, kry ons ’n klomp veldblomme, wat baie aantrekliker vir die bye is. Dan kry ons nie besoeke aan die uielande soos wat ons graag wil hê nie.”

Amper al die saad waarvoor Klein-Karoo Saadproduksie kontrakte aan produsente uitgee, word uitgevoer na Amerika, Europa, Australië, Suid-Amerika, Japan en Korea. “Ons impak op die Suid-Afrikaanse mark is relatief klein, maar ons klimaat is uiters geskik vir saadproduksie. Ons kry min reën gedurende oestyd en produseer saad van gehalte,” sê Malan.

Die risiko wat met die droogte gepaardgaan, het Klein Karoo Saadproduksie op Oudtshoorn genoodsaak om kontrakte na ander produksiegebiede, soos Nieuwoudtville, Patensie, Barrydale, Prieska en Upington te verskuif waar daar meer betroubare waterbronne beskikbaar is. “Ons moes uitwyk om ons risiko te versprei.”

Malan sê 70% van Klein Karoo Saadproduksie se omset kom van ui-agtige saad. Hulle verkoop die saad in sakkies van 15 kg tot 20 kg aan kliënte. “Baie van die saad wat plaaslik verkoop word, word in groot maat uitgevoer en weer hierheen ingevoer deur die eienaars van die genetiese materiaal.

“Ons vermeerder saad. Ons kliënte ontwikkel nuwe kultivars en gee moedersaad vir ons om te vermeerder. Ons kan die saad net aan hulle verkoop,” voeg Malan by.

Hy sê die boere wat vir hulle saad produseer, is “met die hand uitgesoek” omdat hulle nie kanse kan waag dat kontrakte nie nagekom word nie. “Dis intensiewe boerdery. Die risiko is hoog, maar inkomste is ook hoog. As jy goed vaar met saadproduksie, maak jy bogemiddelde wins,” reken hy.