Verlede jaar het dr. Les Trollope, ’n algemene prak- tisyn en beesboer van Komga, uit radeloosheid met Eskom besluit tot hiertoe en nie verder nie, en die kans gewaag om sy boerdery, Trollope Farming, heeltemal van die nasionale kragnetwerk te ontkoppel. “Eskom het duur begin raak en ek wou ’n alternatief hê waar ek nie die jaarlikse prysstyging van 15% hoef te betaal nie.”

Volgens Trollope het hy besef hy sal “die ou moet wees wat induik om die proefkonyn te wees”. Nadat alles afgehandel is, weet hy dit was die regte stap en dat hy die regte vennoot gehad het wat dit saam met hom kon aanpak.

Trollope se grootste struikelblok was om die regte kontrakteur te kry wat ’n stelsel volgens sy behoeftes kon installeer en die lang pad saam met hom sal loop.

“As jy besluit jy wil vooruitgaan, is dit nie maklik om die regte persoon te vind nie, want daar is baie eendagwonders. Hier was mense wat kom kyk en nooit teruggekom het nie. Die ná-installeringsdiens is ook uiters belangrik. Kry iemand wat jy vertrou en die regte motiewe het met sy ontwerpe.”

Hy en mnr. Marius Basson van SAPV Solar Solutions het gelukkig reeds voorheen goed saamgewerk aan een van Trollope se ontwikkelings op Jeffreysbaai. Basson voeg by dat die bou van die stelsel die maklike deel van die proses is.

“Daar moet ’n goeie verstandhouding bestaan en die kliënt moet eerlik wees oor sy behoeftes. Die vertroue by die kliënt is nie geskoei op die betaling nie, maar eerder dat hy vir jou die regte inligting sal gee oor sy behoeftes.”

Van links is mnr. Andrew Carr, dr. Les Trollope en mnr. Marius Basson.
Twee spilpunte wat onder­­skei- ­delik 22 ha en 40 ha besproei, is na sonkrag omgeskakel.
Die 45 kW- waterpomp is die grootste energieverbruiker op die plaas. Dit is tydens die eerste fase van installering na sonkrag omgeskakel.
’n Veiligheidsheining is om die sonpanele aangebring om diefstal te voorkom.

Eerste in SUID-AFRIKA

Volgens Basson is Trollope Farming sover sy kennis strek die eerste kommersiële plaas in Suid-Afrika wat ten volle onafhanklik van die nasionale kragnetwerk funksioneer.

“Dit is ’n aktiewe plaas waarop daar elke dag geboer word, onder meer onder besproeiing. Jou opsies is om aan die netwerk gekoppel te wees of heeltemal ontkoppel te wees. Wanneer jy aan die netwerk gekoppel is, is jy steeds in ’n mate van Eskom afhanklik. Wanneer die krag afgaan of ’n transformeerder oppak, is jy steeds sonder elektrisiteit gestrand.”

Die benadering was dus om die plaas heeltemal van die netwerk af te haal. Basson sê verskeie alternatiewe kragbronne kan oorweeg word, soos hidro-, wind- of sonkrag. Sonkrag was die beste opsie vir dié plaas.

“Hidrokrag was nie ’n opsie nie, want hier is nie lopende water nie. Die windkrag moet konsekwent wees om te werk. In baie gevalle kry jy egter slegs windkrag vir ondersteuning wanneer sonkrag nie voldoende is nie, of indien daar ’n groot basislading deur die nag is.”

Groei saam met die besigheid

Ná die besluit oor ’n diensverskaffer is die regte ontwerp uiters belangrik, anders sit ’n mens opgeskeep met ’n duur, ondoeltreffende stelsel. “Die regte ontwerp van die stelsel beteken ook dat die stelsel beter sal werk,” sê Basson.

Dit is belangrik om die elektrisiteitsbehoeftes van die plaas te identifiseer en die stelsel só te ontwerp dat daar nooit ’n tekort aan elektrisiteit sal ontstaan nie. Die stelsel op Trollope se plaas is modulêr ontwerp met die uitgangspunt dat die plaas ’n besigheid is wat groei, met die energiebehoeftes wat verander. “Jy moet dit só ontwerp dat jy net kan bysit.”

Basson begin sy beplanning deur te kyk hoeveel Eskompunte daar op die plaas is. “Ek kyk nie na wat dit die boer kos om die water te pomp nie, maar eerder na wat dit die boer kos om daardie beskikbaarheid te hê.”

Die doel is om die punte weg te kry en die maandelikse koste te verlaag. Om vas te stel hoe elektrisiteit op die plaas verbruik word, het Basson energie- registreerders (energy loggers) gebruik om vas te stel wat die ware verbruik is, en op watter tye van die dag die meeste krag verbruik word.

“As jy 10 kW op papier gebruik, weet ek nie hoe die verspreiding daarvan deur die dag plaasvind nie. Dit is waarom ons die inligting bymekaar maak en grafieke opstel sodat ons die verbruik kan bepaal.”

Krag van 230 sonpanele

Die installering van die stelsel het in twee fases plaasgevind. Die eerste was om die grootste kragverbruiker op die plaas, ’n waterpomp van 45 kW wat water aan twee spilpunte van onderskeidelik 22 ha en 40 ha verskaf, om te skakel na krag vanaf genoeg sonpanele – 230 om presies te wees.

“Die benadering was om niks van die bestaande infrastruktuur te vervang nie en te werk met wat ons het. Vanuit ’n landbou- oogpunt het ons niks verander nie.”

Die sonpaneelstelsel moes só ontwerp word dat water so vroeg moontlik in die oggend en so laat moontlik in die dag aan die spilpunte verskaf word.

Volgens die plaasbestuurder, mnr. Andrew Carr, kan hy in die middel van die winter reeds vroegoggend begin pomp tot laatmiddag. In warmer seisoene kan hy nóg vroeër in die oggend die eerste pomp aanskakel – en dit kan tot vroegaand loop.

Basson het ’n 75 kW-aandrywer geïnstalleer wat die driefasepomp aan die 230 son- panele koppel wat op volle kapasiteit 85 kW kan opwek. Die pomp verkry die krag direk van die sonpanele met geen elektriese krag in die fase wat geberg word nie.

Tydens die tweede fase is die vier boorgate wat water vir veesuipings lewer, asook die twee huise op die plaas en die twee spilpunte na sonkrag omgeskakel. Die ontwerp is weer eens só beplan dat geen pomp vervang hoef te word nie.

Elk van die pompe funksioneer vanaf sy eie stel sonpanele en is ’n kombinasie van enkelfase- en driefasepompe. Dit is na sonkrag oorgeskakel danksy ’n Veichi-sonkragaandrywer. Die stelsel bevat ook ’n litiumbatterybank sodat die huise en spilpunte voortdurend van krag voorsien kan word.

Die omsetter wat gebruik is om die sonkrag van die panele na die waterpomp te herlei.
Die batterypak met die verspreidingsborde en die nooddieselkragopwekker.
Die sonpanele wat krag aan die huis voorsien, is op die pakskuur op die plaaswerf gemonteer. Foto: Marius Basson
Danksy die manier waarop dit vasgeheg is, kan die sonpanele slegs met ’n hoek­slyper verwyder word.
Een van die omsetters wat geïnstalleer is om die waterpomp na sonkrag oor te skakel.

Basson sê dit is belangrik dat genoeg krag opgeberg moet kan word. “As jy byvoorbeeld 10 kW elektrisiteit per dag gebruik, word die stelsel vir 30 kW gebou ingeval die son ’n paar dae lank nie skyn nie.”

In die huise word verskeie gastoestelle gebruik, pleks van elektriese toestelle, om die druk op die batterye te verlig en só hul gebruiksduur te verleng.

ENKELFASE- EN DRIEFASEKRAG

Carr verduidelik dat die batterye gewoonlik reeds teen laatoggend volgelaai is, al is dit bewolk. ’n Dieselkragopwekker is gereed indien die stelsel nie die mas opkom nie, maar dit is nog nooit gebruik nie.

Die batterystelsel by die huis lewer enkelfase- en driefasekrag wat langs mekaar loop. Die driefasekrag is geskik vir die spilpunte en die enkelfasekrag is vir die huis bedoel. ’n Kabel tussen die omsetter en die battery beteken die twee kan met mekaar kommunikeer vir doeltreffende werking.

“Hoewel die stelsel daarsonder opgestel kan word, is dit voordelig aangesien dit dan nie meer nodig is om die batterye in stand te hou nie,” verduidelik Basson.

Elke battery het ’n bestuurstelsel wat elke pak selle binne die battery monitor. Die batterystelsel het ook ’n skerm waarop die gebruiker sien hoe vol die batterye is, hoeveel krag gebruik word en hoeveel krag die sonpanele opwek.

Die stelsel kan ook aan ’n selfoontoepassing gekoppel word. Danksy ’n langafstanddongel kan Basson of enige ander verbruiker die stelsel van hul foon af monitor. Dit stel hom ook in staat om programmatuur- opgradering te doen soos nodig.

Trollope sê dit is baie belangrik, want hy is in Oos-Londen en Basson kan die stelsel vanuit Jeffreysbaai dophou. “Probleme wat opduik, kan naatloos opgelos word.”

Trollope het onlangs ’n aangrensende plaas aangekoop en hulle beoog reeds om die stelsel met die nuwe plaas te integreer. Die plan is om van die sonkrag deur die lugkabels na dié plaas te versprei.

Aanpassings in die huis

Swaarder kragverbruikers in die huise, soos elektriese geisers en stowe, is met gastoestelle vervang. “Daar was van die begin af ’n verstandhouding dat sekere huistoestelle soos die stoof sal moet verander. Ek sou die stelsel anders kon ontwerp, maar dit sou meer kos. Dit werk dus goedkoper uit om sekere toestelle te vervang as om ’n groter stelsel te ontwerp,” sê Basson.

Carr gebruik ’n gasyskas, -stoof en -oond. Verder gebruik hy gewone toestelle soos ’n ketel, televisie, mikrogolfoond en stofsuier, met al die ligte wat elektrisiteit verbruik. “Ek kan wel nie ’n elektriese verwarmer en verhitte kombers gebruik nie, maar daarvoor het ek ’n gasverwarmer en baie komberse,” sê hy skertsend.

Basson beklemtoon dat daar ’n gebruiksduur aan die batterye verbonde is. Die gebruiksduur van ’n battery word gekoppel aan die ontladingsdiepte (depth of discharge). Indien ’n groter persentasie van die battery se kapasiteit gedurig ontlaai word, sal dit die gebruiksduur van die battery verkort.

’n Battery se gebruiksduur word normaalweg bereken vir 10 jaar, wat ook gebonde is aan ’n waarborg. ’n Battery kan egter 6 000 siklusse lewer, en indien daar slegs een siklus per dag gebruik word, kan die battery se gebruiksduur tot 16 jaar wees. Indien toestelle met swaarder kragbehoeftes gebruik word, sal die las op die battery dus hoër wees, wat die battery se gebruiksduur verkort.

Trollope voeg by dat dit belangrik is om die regte verskaffer te gebruik. “Baie ouens gaan sekere batterye aan jou probeer verkoop, en het alternatiewe motiewe om batterye wat nie goed ontwerp is nie, aan jou te verkoop.”

Die sonpanele het ’n waarborg van 25 jaar. Basson het ’n hibriede omskakelaar gebruik wat ook aan windkrag of kragopwekkers gekoppel kan word. “Dit is belangrik om vir die toekoms te beplan indien daar verandering in jou besigheid plaasvind. Dan kan jy op die stelsel voortbou of byvoeg.”

Lae onderhoud en diefstalbestand

Die stelsel verg min onderhoud. “Die sonpanele moet gewas word, maar dit hang van jou gebied af. Indien jy in Gauteng woon, sal jy jou panele meer in die winter was omdat dit dan droog en stowwerig is.”

Indien daar baie voëls in die gebied is wat op die panele mis, moet dit ook gereeld skoongemaak word omdat die mis nie goed vir die silikoonpanele is nie. Dit hoef egter net met water gewas te word. Omdat die panele gewoonlik in ’n oop veld geïnstalleer word, met gras wat rondom dit groei, moet die gras kort gehou word om veldbrande te voorkom.

Trollope sê hy is gewaarsku dat die panele lankal reeds gesteel sou word, maar hy het nog geen probleme gehad nie.

Die batterye is agter slot en grendel en onder die wakende oog van ’n veiligheidskamera. Die sonpanele is ook met ’n veiligheidsheining omhein en daar is veiligheidsligte. Die vashegting van die panele is só ontwerp dat ’n hoekslyper gebruik sal moet word om die panele te verwyder.

“Diefstal kan egter gebeur en daarvoor is ons verseker,” sê Trollope. Straalligte en sensors in die grond kan ook geïnstalleer word indien dit nodig sou wees.

Trollope het die hele stelsel ten volle laat finansier oor ’n agtjaar-termyn. Sy terugbetalings beloop net 70% van sy vorige maandelikse Eskomkoste, en dit neem nie eens beoogde tariefverhogings in ag nie.

Hy het nou ’n vaste begroting. Die stelsel is vir 25 jaar gewaarborg, wat beteken vanaf jaar nege is dit gratis en daarna is hy nog vir baie jare van betroubare kragvoorsiening verseker. “Uit ’n ekonomiese oogpunt is dit baie aanloklik. As jy die stelsel kan ontwerp dat dit tans goedkoper as huidige Eskompryse uitwerk, sal dit jaarliks goedkoper raak.”

Lesse geleer

Trollope se raad aan enigeen wat na alternatiewe kragbronne wil oorskakel, is om oopkop te dink as opsies ondersoek word. “Maar moenie wag nie . . . Moet jou ook nie te veel steur aan mense wat misluk het nie. Ondersoek verskillende moontlikhede, en as een nie pas nie, gaan na die volgende persoon. Vind die regte mense en vra kwotasies, dit kos jou nie ’n sent nie.”

Basson voeg by dat skeptisisme rondom sonkrag gewoonlik toegeskryf kan word aan ’n slegte ervaring daarmee. “Dit gebeur dikwels as ’n stelsel nie reg ontwerp of nie volgens die regte energievereistes gebou is nie.

“Maak seker jy en jou kontrakteur verstaan mekaar. Daar word baie druk geplaas op papierwerk, maar die verhouding tussen die kliënt en die kontrakteur moet van só ’n aard wees dat julle die proses tot die einde kan deurvoer.”

Hy voeg by dat landbouprojekte baie meer betrokkenheid en beplanning vereis as gewone kommersiële projekte, wat meermale steeds aan die netwerk gekoppel bly. “Onthou, die goedkoopste opsie is nie altyd die beste een nie,” maan Trollope.

Volgens Basson sal elke plaas sy eie behoeftes hê en sal elke stelsel anders ontwerp word. Sonkragstelsels sal nie noodwendig geskik wees vir ’n plaas met ’n hoë kraggebruik, soos ’n melkstal, nie. “Dit is natuurlik moontlik om so ’n stelsel te ontwerp, maar dit sal ’n koste-implikasie hê. Daar gaan ’n punt kom waar dit finansieel nie meer sin maak nie.”

Trollope sê hy kyk glad nie terug nie. “Almal in die distrik kom kyk na ons stelsel voor hulle die groot stap doen. Hulle volg nou dieselfde paadjie, want hulle sien dit werk.”

Navrae: Mnr. Marius Basson, 082 8972605; dr. Les Trollope, 082 900 5565.