Hierdie pa en seun, mnre. Arinus (71) en Rhodest (28) Mokale, boer saam op die Tshwaro-kommunale grond by Ramotshere Moilwa naby Zeerust in Noordwes. Hulle plant droëbone, botterskorsies en sonneblomme en hou ook vleisbeeste (meestal ’n Brahmantipe) aan.

Die boerdery het ’n klein voerkraal waarin hulle hul speenkalwers markgereed maak voordat hulle dit verkoop. Arinus vertel sy pa, Lesolobe, het met osse in die omgewing geboer en Arinus het dus in ’n boerdery-omgewing grootgeword. Soos menige jong man moes hy ná skool gaan werk en het na Krugersdorp uitgewyk waar hy as messelaar en loodgieter gewerk het.

Later het hy ’n kursus bygewoon om hom as tradisionele geneser te bekwaam en het dié werk sedert 1976 in die omgewing gedoen waar hy nou boer. Dit het ’n jaar geduur vir hom om te leer “om die dolosse te gooi”. Sy pa het dit ook gedoen, maar Rhodest stel nie belang nie.

“Ek gooi dolosse om vas te stel wat mense makeer as hulle siek is. Voorheen het ek dit baie gedoen, maar deesdae help ek mense net soms. Ek is ook nog ’n bietjie by die boerdery betrokke, maar Rhodest doen nou die meeste van die werk.”

Hy boer sedert 2004 op die gemeenskapsgrond. Voorheen het ander mense daar geboer, maar nie met die boerdery volhard nie. Arinus het toe oorgeneem en mettertyd ál groter sukses behaal. Rhodest was tot 2008 nog op skool, maar hy het al sedert 2006 gehelp boer, nog voordat hy sy matriek voltooi het.

Ná skool het hy hom as paramedikus bekwaam, maar hy het nooit dié beroep gevolg nie omdat hy eerder wou boer.

Sedert 2005 was droëbone een van die wisselbougewasse waarmee die Mokales groot sukses behaal het. Vanjaar het hulle vir die eerste keer klein witbone geplant. In die boonland is van links is mnre. Arinus Mokale, Neil Smit, Rhodest Mokale en Barry Hertzog.

Nederige begin

Die eerste gewas wat Arinus gesaai het, was broodkoring, gevolg deur sonneblomme en botterskorsies. Sedert 2005 is droëbone een van die wisselbougewasse waarmee hy sommer gróót sukses behaal. Vanjaar het hy vir die eerste keer klein wit bone geplant; die bone wat hy so trots vir Landbouweekblad gewys het.

Hy het sy eerste klein wit bone op kontrak aan Schoeman Boerdery gelewer; die boerdery onder leiding van mnr. Kallie Schoeman en sy seun, Hendrik, wat met graan en droëbone by Delmas en met sitrus by Marble Hall boer. Hulle het ook ’n droëboonaanleg op Delmas waar droëbone vir die uitvoerbedryf voorberei word.

Voorheen het die Mokales hul oeste uit die hand verkoop, maar hulle het mettertyd besef die amptelike bemarkingskanale, soos Schoeman se droëboonfabriek, is ’n beter opsie. Hulle is ook baie tevrede met die bemarking van die sonneblomme en mielies deur die landboubesigheid NWK.

Hulle verkoop die botterskorsies uit die hand. Die vleisbeeste wat grootliks uit Brahmantipes bestaan, is vir die produksie van speenkalwers. Hulle rond ’n deel van die speenkalwers in hul eie klein voerkraal op die plaas af en maak die res as tollies groot om verder waarde toe te voeg. Alles word op plaaslike beesveilings van die hand gesit. Ou koeie word aan slagplase verkoop.

Mnre. Arinus (links) en Rhodest Mokale wys trots ’n groot sonneblomkop. Hulle het vanjaar ’n opbrengs van 1,5 ton/ha op hierdie land behaal.

Wisselbou se rol

Rhodest vertel hulle het verlede jaar ’n spilpunt van 20 ha geïnstalleer om groter opbrengste te behaal nadat hulle eers vloedbesproeiing gedoen het. Hulle besproei met kanaalwater uit die nabygeleë Groot-Maricodam. Nou roteer hulle koring en droëbone met mekaar onder die spilpunt en gaan eersdaags ook gars as bykomende wisselbougewas begin plant.

Verder verbou hulle sonneblomme en mielies in ’n wisselboustelsel op droëland. Die gesin doen konvensionele grondbewerking met skottel- en beitelploeë. Die sonneblomme word gewoonlik in November of Desember geplant, maar indien die grondvog te min is as dit nog nie genoeg gereën het nie, plant hulle dié gewas eers in Januarie, “maar dan waag jy ’n kans”, sê Arinus.

Die droëbone is vanjaar eers op 20 Februarie geplant omdat hulle lank vir Eskom moes wag om ’n kraglyn vir die spilpunt te installeer. Dit was darem betyds om die Pannarkultivar PAN123 te plant. Hulle is hoogs tevrede met die opbrengs van 3 ton/ha.

’n Goeie sonneblomoes is nie altyd haalbaar nie, maar vanjaar was ’n uitsondering omdat dit laat en goed gereën het. Die opbrengs was 1,5 ton/ha nadat hulle die vorige seisoen net 1 ton/ha afgehaal het.

’n Troppie koeie waarmee die gesin boer. Hulle produseer speenkalwers wat eers afgerond en dan op veilings verkoop word om waarde toe te voeg. Ou koeie gaan na ’n plaaslike slagplaas.

Mentors se rol

Agron, ’n kunsmismaatskappy wat aan die Schoeman Boerdery op Marble Hall behoort, speel ’n belangrike rol as mentor en met landboukundige dienste. Mnr. Barry Hertzog, ’n landboukundige by die maatskappy, sê hulle het ’n sterk span tegniese raadgewers wat die boere met goeie raad bedien en hulle help om algemene kennis van boerdery op te doen.

Twee van die tegniese raadgewers wat die Mokales bystaan, is mnre. Danny Botha en Neil Smit. Hulle het voor die installering van die spilpunt gehelp om grondontledings van die land te doen sodat hulle aanbevelings aan die boerdery kon doen om voedingstoftekorte vooraf reg te stel. Dit het die weg vir goeie opbrengste gebaan.

Hulle besoek die boerdery bykans week-liks om raad oor opvolgbemesting en plaagbestryding te gee. “Ons het ook vir hulle ’n program vir blaarvoeding uitgewerk wat nougeset deur die Mokales gevolg word,” sê Hertzog. Hulle gee ook raad oor aangepaste kultivars en plantestand om die beste oeste te verseker.

Voorheen het hy die gewasse volgens sy eie ondervinding bemes en onkruide bestry, veral oliebome, wat volop daar voorkom. Nou kan hy op deskundige raad staatmaak, wat duidelik in die verbeterde opbrengste gestalte begin vind.

Arinus sê voorheen het hy die gewasse maar volgens sy eie ondervinding bemes en onkruide bestry, veral oliebome wat volop daar voorkom. Nou kan hy op deskundige raad staatmaak wat duidelik in die verbeterde opbrengste gestalte begin vind het. Rhodest gee volmondig erkenning aan sy mentors se goeie landboukundige raad.

“Ons het nog net beloftes van die staat se voorligtingsbeampte gekry, maar geen daadwerklike raad nie. Beloftes help ’n boer niks nie. Die staat se mense het net soms besoek afgelê en dan foto’s saam met ons geneem. Dit was vermoedelik om te gaan vertel hoe hulle ons help, maar hulle het in werklikheid niks vir ons beteken nie.

“Die staat het ons sedert 2004 ook trekkers en werktuie belowe, maar daarvan het nog niks gekom nie. Alles wat ons vandag in die boerdery gebruik, het ons self gekoop. Die staat het absoluut niks bygedra nie. Ons vul elke jaar vorms vir staatshulp in, maar kry niks nie,” sê Rhodest.

Hertzog, Botha en Smit stem saam dat die Mokales reeds as sterk, kommersiële boere beskou kan word. Hul opbrengste neem gaandeweg toe en hulle is bereid om te leer, veral oor besproeiing waarvan hulle nog nie baie ondervinding het nie. Met die res van die boerdery behaal hulle goeie sukses. Hulle wag nie meer op die staat nie.

Visie oor vyf jaar

Rhodest sê sy visie is dat hulle oor vyf jaar hul eie plaas sal kan koop en nie langer op kommunale grond hoef te boer nie.

“Ek hoop die Regering sal vir ons grond gee om op te boer. As die staat my kan help om nóg spilpunte op te sit, wil ek die besproeiing tot 100 ha uitbrei. Dit sal my help dat ek vorentoe selfs my eie plaas sal kan koop,” sê hy opgewonde.

Hy gee erkenning aan sy pa wat hy as sy coach bestempel. Baie wat hy vandag van boerdery weet, het hy by hóm geleer. Hy sê sy pa is nie meer so aktief betrokke nie, “maar hy is altyd daar; hy is my rolmodel”.

Mnr. Kallie Schoeman

Neem 'n boer aan

’n Nuwe projek, Neem ’n Boer Aan, is deur die Schoeman Boerdery begin om opkomende droëboonboere op die pad na kommersiële boerdery te lei. Mnr. Kallie Schoeman, besturende direkteur van die boerdery, sê hulle noem die projek Zamukele wat in Zoeloe “aanneem” beteken.

Die doelwit is om opkomende boere te vestig en hulle by te staan om met ’n uitgebreide, uitvoerbare projekplan volhoubare, kommersiële droëboonprodusente te word.

Daarvoor het hy ’n toegewyde afdeling binne die Schoeman-groep gevestig wat uitsluitlik op die identifisering en bystand aan opkomende boere toegespits is sodat hulle droëbone op ’n kontrakgrondslag aan die boerdery se droëboonaanleg op Delmas kan lewer, terwyl hulle hul terselfdertyd as volhoubare, winsgewende boerdery-ondernemings vestig.

“Ons het ’n toegewyde tegniese en bedryfspan wat die deelnemende boere bystaan. Elkeen boer onder die leiding en mentorskap van ’n ervare droëboonprodusent in die betrokke geografiese gebied,” vertel Schoeman. Die Mokales se boerdery is een van die ondernemings wat by die projek betrokke is.

Gedurende die 2017-’18-seisoen het 130 kommersiële en sewe opkomende boere in vyf provinsies saam 17 000 ton droëbone aan Schoeman gelewer, wat in sy aanleg skoongemaak en vir die inmaakbedryf voorberei is. Die mikpunt is om oor drie jaar 800 ton tot 1 200 ton droëbone van ongeveer 20 opkomende boere te ontvang en dit oor vyf jaar tot 2 000 ton tot 3 000 ton bone van sowat 60 nuwe boere uit te brei.

Dit gaan egter oor baie meer as net die produksie van droëbone. Schoeman sê dit Lei deelnemende boere op en gee deurgaans bystand aan hulle. Skep nuwe werkgeleenthede. Dra by tot volhoubare klein- en mediumskaalse entrepreneurs in die landelike landbougebiede, asook tot ekonomiese groei, beleggings en vennootskappe.

Blaas nuwe lewe in die landbou-waardeketting. Verhoog uitvoer. Hoekom is hy so passievol oor die projek? Schoeman haal oudpres. Nelson Mandela aan: “Daar is geen groter geskenk as ’n mens se tyd en energie om ander mense te help sonder om iets in ruil terug te verwag nie.”

Navrae: Mnr. Rhodest Mokale, e-pos: rhodest99@gmail.com; sel 060 784 2512; mnr. Kallie Schoeman, e-pos: kallie@witklip.co.za

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.