Ná Sernick se 42ste produksieveiling in Junie, waartydens 1 000 Bonsmaras aangebied is, het mnr. Nick Serfontein ’n paar interessante verskuiwings waargeneem wat hy reken baie gunstig vir die vleisbees- asook veilingsbedryf is.

Die grootste en belangrikste hiervan is dat swart boere tot 47,8% (R11,1 miljoen) van die veiling se omset bygedra het. “Dit is verstommend, want hierdie aankope het gekom van slegs 25 swart boere wat 71% van die kommersiële aanbod opgeraap het,” sê Serfontein.

Die aankope deur swart boere het op ’n jaargrondslag verdubbel. Verlede jaar het swart boere 24% van Sernick se veilingsomset uitgemaak. Serfontein sê dit is nodig om die rede vir dié groot verandering te verstaan.

Opleiding vir opkomende boere

Op ’n boeredag wat Sernick in 2015 vir opkomende boere gehou het, het hy “angs en vrees” in die boere se oë gesien.

“Ek het toe besef dat ons iets moet doen om hierdie boere te help. Hulle was besig om soos afkophoenders rond te hardloop vir hulp, maar is oral uitgebuit deur korrupte amptenare en ’n korrupte stelsel. Jy kan nie vir iemand grond gee en verwag hy moet sukses behaal sonder die nodige kennis, opleiding, ondervinding of toegang tot finansiering en mentorskap nie.”

Sernick het toe begin om opleiding aan opkomende boere te gee en hulle ook gehelp om hul vee vir beter diere te verruil. Dit was vir Serfontein baie duidelik dat daar ’n baie groot behoefte was vir meer kennis. “In 2018 het ons by die Jobs Fund aansoek gedoen vir hulp en sedertdien werk ons in vennootskap met dié staatsfonds en is ons in die proses om 660 opkomende boere basiese opleiding te gee. Van die 660 kry 300 boere intensiewe opleiding.

“Die groot deurbraak het egter gekom toe ons die doelwit gestel het om 50 boere vanaf opkomende status tot kommersiële beesboere te ontwikkel. Tans is 26 van hulle gevestig. Die ander is in die proses om gevestig te word en sal vanjaar nog hul beeste ontvang sodra hul infrastruktuur voltooi is.”

Nog nie een boer het misluk nie

Opkomende boere met potensiaal en wat toegang tot grond het (soos ’n huurkontrak met die staat), doen ’n jaarkursus by Sernick. Só ’n boer se infrastruktuur word verbeter met skenkings van die Jobs Fund. Dan ontvang die boer ook 35 dragtige Bonsmarakoeie of 35 koeie met kalwers en ’n bul.

Die beeste bly Sernick se eiendom, maar die boer hou 60% van die aanteelvee. Wanneer ’n bees vrek weens nalatigheid, moet die boer dit self vervang. Boere kry gratis lek en medisyne vir die eerste jaar en Sernick staan boere verder by met mentorskap op ’n weeklikse of tweeweeklikse grondslag.

“In die drie jaar dat die projek aan die gang is, het nie een boer misluk nie,” vertel Serfontein. “Van hierdie boere is nou heeltemal onafhanklik. En in die proses word 1 400 werkgeleenthede geskep.”

Dit was van hierdie boere wat Sernick se veiling so goed ondersteun het. Sonder dat Serfontein dit besef het, het Sernick nie net ondersteuning gebied nie, daar is ook ’n nuwe mark geskep. Serfontein sê hy meen daar is ’n paar redes waarom die boere juis sy veiling ondersteun het.

“Beslis lojaliteit. Hierdie is ’n waarde wat nie gekoop kan word nie – dit word verdien. Die boere voel welkom by Sernick en weet hulle word deel van die waardeketting. Swart boere is oorwegend veeboere en die sukses wat sover met ons projek behaal is, maak hulle opgewonde, dit gee hoop en dit is aansteeklik. Hierdie boere weet hulle gaan ondersteun word met mentorskap, opleiding en moontlike toegang tot verdere finansiering.”

Hulp vir die hele Suid-Afrika

Intussen het Sernick versoeke om hulp van oor die land ontvang. Tans word die projek net aan opkomende veeboere van die Vrystaat en dele van Noordwes en Gauteng gebied. Serfontein meen dit sal later nasionaal uitgebrei word.

“Hierdie projek is onteenseglik suksesvol en daar is honderde versoeke vanuit al die provinsies om die projek uit te brei. As ’n mens kyk na die impak van die geld wat hier bestee word teenoor die miljarde rande wat vermors word en gesteel word – veral deur provinsiale regeringsprogramme, dan sal dit misdadig wees om dit nie uit te brei nie. Die president het onlangs bewus geraak daarvan en is baie opgewonde daaroor. Ek meen dit gaan momentum optel.”

Maar meer kommersiële boere moet betrokke raak, sê Serfontein. “Ek dink daar is heelwat kommersiële boere wat wil, maar hulle weet nie hoe nie. Die proses is op die oomblik nog nie goed georganiseer nie. Die nuutgestigte Agricultural Development Agency is effens gerem deur die Covid-19-pandemie, maar dit sal ’n groot rol hierin speel.”

Ander verskuiwings in vleisbeeste en veilings

’n Ander afleiding wat Serfontein uit Sernick se suksesvolle veiling maak, is dat baie boere nou besig is om kuddes te bou. “In die eerste week van die nasionale inperking was die prys van beesvleis nog R47-R50/kg. Waarskynlik as gevolg van paniekaankope. Toe val die prys drasties met R8/kg en dit werk deur na speenkalfpryse. Maar ten spyte van lae speenkalfpryse en die flou vraag na beesvleis is teelmateriaal bonormaal duur.

“My gevoel is dat saaiboere besig is om hul beeskuddes uit te brei en dat baie boere in die wildbedryf stadig maar seker terugkeer na vleisbeeste.”

Die derde verskuiwing wat Serfontein waargeneem het, is dat aanlyn veilings baie goed werk en gekom het om te bly. “ ’n Baie groter geografiese deel van die mark word bereik, terwyl dit ook ’n welkome hulpmiddel geword het vir veral deeltydse boere, wat nie altyd veilings kan bywoon nie. In ons geval was 21% van Junie se verkope aanlyn.”

Een van die aanlyn kopers was pres. Cyril Ramaphosa, wat ’n bul gekoop het. “Nogal duur,” sê Serfontein. Die bedrag bly vir eers ’n geheim.