Volhoubaarheid word gedefinieer ten opsigte van winsgewendheid, mense en die omgewing, die sogenoemde drie P’s (profit, people en planet). Baie klem word op die laaste twee elemente gelê, terwyl winsgewendheid eintlik ’n voorvereiste vir volhoubaarheid is. As ’n boer nie wins toon nie, is daar ook nie geld om aan die omgewing te bestee en om sy sosiale verpligtinge na te kom nie.

VEREISTES VIR WINSGEWENDHEID

In ’n winsgewende melkboerdery is die inkomste uit die verkoop van produkte meer as die koste om daardie produkte te produseer. Om volhoubaar te wees, moet die wins groot genoeg wees om in die boer se lewensbehoeftes te voorsien en voorsiening te maak vir kapitaaluitbreidings.

Bruto inkomste word bepaal deur die hoeveelheid produkte wat verkoop word, en die prys waarteen dit verkoop word. Die faktore wat winsgewendheid bepaal, word in die grafiese voorstelling aangedui. Winsgewendheid vereis tegniese en ekonomiese doeltreffendheid.

‘REGVERDIGE’ PRODUSENTEPRYS

Melkboere verwag soms om ’n “regverdige” prys vir hul melk te ontvang, maar in die vrye mark bestaan daar nie iets soos ’n regverdige prys nie. Diegene wat die markkragte het, bepaal die prys, en die partye wat nie markkrag het nie, moet dit aanvaar.

Kopers en hul segspersone beweer dikwels dat die vrye mark sal sorg dat daar regverdige pryse betaal word sodat boere hulle nie oor die melkprys hoef te bekommer nie en eerder op die ander aspekte van hul boerderye moet konsentreer. Hoewel dit waar is dat daar nie uitsluitlik op die prys gekonsentreer moet word nie, kan geen boer volhoubaar wees as hy ’n té lae prys ontvang nie. Melkkopers verlaag produsentepryse wanneer markfaktore dit toelaat. Hulle is dan baie traag om pryse weer te verhoog, soos die Mededingingskommissie in sy Desember 2020-verslag noem.

Daar is wel enkele strategieë wat boere kan volg om hoër pryse te kry. Melkboere wat konstant ’n hoë volume melk van goeie gehalte lewer, is gewoonlik in staat om met behulp van volume- en gehaltepremies hoër pryse te kry. Die enkele produsente wat in staat is om alternatiewe kopers te kry, kan beter pryse beding. Dit kan egter net gebeur in tekortperiodes.

Ongelukkig krimp die mark vir vloeibare melk, uitgesonderd langlewemelk. Tekorte by die kleiner melkkopers, wat in die verlede die katalis vir prysstygings was, kom nie meer so geredelik voor nie.

Melkboere kan ’n groter deel van die verbruiker se rand kry deur meer waarde self toe te voeg. Daar is vele suksesvolle voorbeelde van boere wat hierdie roete gevolg het – individueel of in gesamentlike ondernemings. Die Melkprodusente-organisasie moedig die stigting van gesamentlike boere-ondernemings reeds jare lank aan. Die onlangse samesmelting tussen Dairy Farmers of South Africa en Coega Dairies is ’n stap in die regte rigting.

TEGNIESE DOELTREFFENDHEID

Tegniese doeltreffendheid word verkry deur die regte dinge reg te doen. Om te meet is om te weet, maar meet alleen is nie genoeg nie. Die gemete syfers moet ook vergelyk word en stappe moet gedoen word om prestasie te verbeter. Die meeste suksesvolle melkboere gebruik konsultante wat verskeie boere bedien om vergelykende syfers te kry.

Tans verswak die melk-tot-voerprysverhouding tot baie lae vlakke. Die versoeking is groot om op produksiemiddele soos kragvoer te besnoei om koste te bespaar. Indien kostebesparing tot laer produksie aanleiding gee, lei dit tot laer winsgewendheid. Die Amerikaners se sêding “more milk means more money” is byna altyd korrek.

Melkboerdery bied geleenthede om die gebruik van gekoopte produksiemiddele en veral kunsmis te beperk. Die beginsel is om so na aan die natuur as moontlik te boer. Dit beteken nie geen bewerking en geen bemesting nie, maar eerder die minimum gebruik van kunsmis en die minimum bewerking. Terwyl hierdie praktyke meer omgewingsvriendelik is, lei dit ook tot kostebesparings.

Boere kan deur premies vir hoë volumes en gehalte sorg dat hulle meer vir hul melk kry. Hulle moet teen volle kapa- siteit produseer om die vaste koste per liter te verminder. FOTO: THEUNS BOTHA

EKONOMIESE DOELTREFFENDHEID

Die prys wat vir produksiemiddele betaal word, is net so belangrik soos die prys waarteen melk verkoop word. Insetverskaffers verskaf meestal bykans dieselfde produkte. Maatskappy A se 18%-suiwelmeel en maatskappy B se 18%-suiwelmeel is grootliks identies. Al wat verskil, is die advertensies wat die boer probeer oortuig dat een produk beter is.

Boere kan dit teenwerk deur pryse te vergelyk en pryse te beding. Omdat die individuele boer nie veel bedingingsmag het nie, werk koopgroepe baie goed. Die selfmeng van rantsoene is ’n opsie, maar dan moet dit reg gedoen word. Rantsoenformulering is baie ingewikkeld en moet liefs aan kenners oorgelaat word. Gebruik eerder die klaargemengde mineraalpakke as om self met klein hoeveelhede minerale te sukkel.

Daar is enkele maniere om vaste koste te beperk. Die doeltreffendste manier is om teen volle kapasiteit te produseer en dus die vaste koste per liter te verminder. Omdat die ruilvoet van alle landboubedrywe oor tyd verswak, moet ondernemings groei om te kan oorleef.

Wéér: “More milk means more money”.

Keer dat die totale vaste koste vinniger as die inkomste styg wanneer ondernemings groter word. Vermy onnodige kapitaalaankope – ’n selfaangedrewe grassnyer vir die tuin is nie regtig nodig nie. Wees versigtig vir oorbelegging in masjinerie. ’n Boerdery kan doeltreffend en winsgewend wees, maar as die geldsake nie reg bestuur word nie, is dit nie volhoubaar nie. Die salaris wat die boer vir homself en sy gesin gun, moenie meer wees as dit wat oor is nadat al die boerdery se verpligtinge nagekom en daar vir die vervanging van bates voorsiening gemaak is nie.

VERNUWING

Selfs die boer wat winsgewend is, die omgewing beskerm, na sy gesin, werkers en hul gesinne en die gemeenskap omsien, en ’n veilige en bekostigbare produk lewer, se oorlewing is nie gewaarborg nie. Volhoubaarheid het ’n vierde element, naamlik vernuwing.

Diegene wat aanhou om op dieselfde manier te boer, sal nie op lang termyn oorleef nie. Dit is gewoonlik te duur om heel eerste ’n nuwe tegnologie aan te gryp. Dit maak meer sin om die voorbokke toe te laat om eers die foute uit te stryk en die tegnologie prakties uitvoerbaar te maak. Só is daar in die 1970’s individuele koeivoedingstasies ontwikkel.

Boere wat dit destyds gekoop het, gebruik dit deesdae as kalfafskortings. Tans is die voer van individuele rantsoene deel van normale praktyk. Dit is sinvoller om ’n vroeë aanvaarder as ’n nuwigheidsvoorbok te wees.

SAMEVATTING

Melkboerdery is ’n kapitaal- en bestuursintensiewe onderneming met klein winsgrense. Die vraag na melkprodukte internasionaal en plaaslik groei vinnig. Die bedryf sal steeds ’n baie goeie inkomste en welvaartskepping aan die oorblywende boere verskaf.

Om ’n deel van die kleiner wordende groep melkboere te wees, verg intensiewe bestuursvaarsdighede en kundigheid van boere. Dit vereis ook dat boere ’n billike prys vir hul produk beding.

* Dr. Koos Coetzee is ’n onafhanklike landbou-ekonoom.