Covid-19, inperking, ’n ekonomiese resessie en werkloosheid het sinoniem met 2020 geword. Verbruikers wat minder geld in hul beursies het, meer skuld moet terugbetaal en op groot skaal hul werk verloor het, is maar net ’n paar van die struikelblokke wat Suid-Afrika nou moet oorkom.

In sy jongste vooruitskouing vir die landbou verwys die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) na ’n opname wat Statistieke SA in die sesde week van die inperking gedoen het, waarvolgens tot 9,5% van die respondente hul werk verloor het, terwyl tot 19,1% se vergoeding tydens inperking verminder is.

“Dus het sowat 29% van alle respondente ’n sekere mate van inkomste weens die pandemie verloor. Dieselfde opname het ook bevind een uit elke tien respondente met verminderde inkomste ly honger.”

Die langertermynimpak van die Covid-19- pandemie op huishoudelike inkomste en die verspreiding van welvaart, inkomste en veral besteebare inkomste in Suid-Afrika moet nog verreken word, maar BFAP se vooruitskouings dui daarop dat dit tot vyf jaar sal duur vir die reële bruto binnelandse produk (BBP) om te herstel tot die vlakke van 2019 en per capita-inkomstevlakke sal slegs die 2019-vlakke teen die einde van hierdie vyfjaartydperk verbysteek.

Lae ekonomiese groei vóór Covid-19 het reeds groot druk geplaas op verbruikers se besteebare inkomste, sê mnr. Dawie Maree, hoof van bemarking en inligting by FNB Landbou. “Die pandemie het dit net vererger en groter druk op verbruikers geplaas. Die herstel in die ekonomie gaan net verder uitgerek word en dit is nie regtig goeie nuus vir die landbou (en verbruikers) nie.”

Middelklas sak terug

Die vraag na voedsel word sterk beïnvloed deur die verskuiwing in inkomstegroepe en die beweging na die middelklas. BFAP verwys na “klasse-beweeglikheid,” oftewel die opwaartse beweging van verbruikers na hoër sosiaal- ekonomiese groepe.

“Dit was vir baie jare ’n sleuteleienskap van die Suid-Afrikaanse verbruikerslandskap. Die ongunstige impak van die Covid-19-pandemie op indiensneming en inkomste sal ’n opmerklike uitwerking op huishoudelike inkomste oor alle segmente heen hê, en heel waarskynlik van die vordering die afgelope twee dekades verlangsaam of omkeer.”

Die verlies aan inkomste weens die pandemie en die gevolglike beperking in verbruikers se besteding is een van die groot dryfvere vir die voedselonsekerheid wat Suid-Afrika tans beleef, sê mnr. Nico Groenewald, hoof van landboubesigheid by Standard Bank.

Hy wys daarop dat Suid-Afrika se vlakke van voedselonsekerheid danksy maatskaplike toelaes laer is as in die res van Afrika. “Maar ondanks die groot mielieoes en lae pryse kan werkloosheid vorentoe tot ’n skerp styging in voedselonsekerheid lei.”

Dit beteken voedsel bly steeds vir baie Suid-Afrikaners onbekostigbaar. Die pandemie dwing sowel die landbousektor as verbruikers om hul gedrag te verander, selfs meer as wat voorsien word, sê Groenewald.

“Normaalweg gaan die grootste gedeelte van verbruikers se besteebare inkomste na voedsel en basiese goedere, dus is die voedselmark veerkragtig as daar ’n ekonomiese krisis kom, want verbruikers verskuif net na goedkoper alternatiewe.”

Maar verbruikers uit die laer inkomstegroepe word gedwing om die verskeidenheid en die hoeveelheid kos wat hulle eet, te verminder. Dit beteken veral ’n terugkeer na stapelvoedsel soos mieliepap.

Waar BFAP se vorige ontledings daarop gedui het dat die per capita-verbruik van mielies as stapelvoedsel oor die volgende paar jaar sou afneem, verwag hy nou net mooi die teenoorgestelde. “Sommige van die dieetkundige diversifikasie van die afgelope dekade kan omgekeer word,” lui die verslag.

Hierdie neiging terug na mieliemeel as stapelvoedsel word verder ondersteun deur die relatiewe prysbewegings soos wat mieliepryse tot uitvoerpariteitsvlak daal, sê BFAP. Daarteenoor styg koring- en ryspryse na invoerparitieitsvlak in navolging van die swakker wisselkoers.

“In 2020 kan die waarde van die reuse-mielieoes nie oorbeklemtoon word nie, want dit hou mieliepryse taamlik bekostigbaar, ondanks die swak rand. Hoewel die aanvraag na mielies in 2020 sal styg, sal die inperking se ernstige impak op die lewendehawesektor tot gevolg hê dat die vraag na mielies vir voer effens afneem,” lui die verslag.

Voedselinflasie

Vroeër vanjaar het die rand begin om skerp teen die dollar te verswak. Van Maart 2019 tot Maart 2020 was die verswakking 29%. Enige vinnige verswakking van die wisselkoers kan voedselinflasie laat styg, sê mnr. Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz.

Hy verwag egter dat dit eers oor ’n paar maande sal intree. “Die huidige massiewe ontwrigtings in vraag en aanbod maak dit op die oomblik moeilik om die werklike styging in voedselinflasie te bepaal.”

BPAP voorsien ’n scenario waar voedselinflasievlakke oor die komende maande naby 10% kan bereik, gegrond op die inflasiekoerse vir Februarie 2020. Die feit dat verbruikersvertroue op sy laagste vlak is sedert mnr. Cyril Ramaphosa president geword het, hou voedselinflasie egter in toom, sê Sihlobo. “Dit is onwaarskynlik dat die volle uitwerking van die verswakkende rand na verbruikers deurgegee kan word; hulle het net nie die vermoë om betekenisvolle prysverhogings te absorbeer nie.”

Groenewald sê moontlike prysskokke wat inflasie kan opstoot, sluit verhoogde brandstofpryse en stygings in munisipale en elektrisiteitstariewe in. Maar hy verwag dat voedselinflasie gedemp sal bly danksy die verwagte groot mielieoes en dat internasionale mieliepryse ook die res van die jaar laer sal neig. “Die internasionale koringvoorraad het effens gestyg. Dit kan lei tot laer pryse wat voordelig is vir lande, soos Suid-Afrika, wat koring invoer.”

Die internasionale sojaboonoes sal na verwagting vanjaar 7% hoër wees as die vorige oes. “Hierdie gunstige internasionale vooruitsigte ondersteun die siening dat voedselinflasie vanjaar gedemp kan wees.”

Maree stem saam met BFAP dat inflasie op produsentevlak (PPI vir voedsel) kan styg, maar op verbruikersvlak (VPI vir voedsel) verwag hy matige inflasie. “Die Julie-syfer vir voedselinflasie is 4,3%, wat nie sleg is nie, maar dit kan verder toeneem indien daar brandstofstygings en ander prysstygings kom.”

Hoe ryker hoe lekkerder

BFAP het ’n ontleding gedoen van die soort voedselprodukte waarop onderskeidelik die lae-, middel- en hoë-inkomstegroepe hul geld bestee en watter persentasie van hul kosbegroting aan die produk bestee word. Dit blyk duidelik hieruit dat welvarende verbruikers nie net ’n groter verskeidenheid kossoorte eet nie, maar ook meer rooivleis kan bekostig.

Lae-inkomste. Hoendervleis (13,5%), mieliemeel (11,4%), bruinbrood (7,8%), beesvleis (4,7%), rys (4,7%), suiker (4,4%), witbrood (3,4%), eetbare olies (3,4%), melk (2,9%) en aartappels (2,8%).

Middelinkomste. Hoendervleis (13%), beesvleis (8%), mieliemeel (6,4%), bruinbrood (6%), witbrood (4,1%), melk (3,9%), rys (3,4%), suiker (3,3%), eetbare olie (2,4%), eiers (2,3%).

Hoë-inkomste. Beesvleis (11,2%), hoendervleis (8,6%), melk (5,2%), skaap- en lamsvleis (3,1%), voedsel met ’n hoë suikerinhoud (3,1%), bruinbrood (3%), vis (2,9%), witbrood (2,6%), kaas (2,4%) en varkvleis (2,1%).

Profiel van die SA verbruiker: Jonk, skuldbelaai en verstedelik

Die BFAP-verslag lig ’n paar interessante neigings uit wat aantoon hoe die Suid- Afrikaanse verbruikersmark die afgelope jare verander het.

Grootte. Die gemiddelde huishouding het van 4,5 lede in 1996 tot 3,4 lede in 2018 verminder. Kinders word in 57% van alle Suid-Afrikaanse huishoudings aangetref.

Opvoedingsvlak. Van 2008 tot 2018 het die persentasievlak van individue met minstens ‘n graad 12-kwalifikasie van 35,6% tot 45,2% gestyg.

Verstedeliking. Die persentasie van die bevolking wat in stedelike gebiede bly, het van 58% in 2001 tot 66% in 2019 gestyg.

Ouderdom. Tot 45% van die bevolking is jonger as 25 jaar. Individue van 65 jaar en ouer beslaan 6% in 2019. Daar is duidelik ’n groeiende jeugbevolking, sê BFAP.

Skuld. Suid-Afrikaners se skuldvlakke het die afgelope 10 jaar deurlopend gestyg en skuldvlakke styg ook skerper as bevolkingsgroei. Die persentasie aansoeke om krediet wat afgekeur is, het van 40,3% tot 59% in 2019 gestyg. Die feit dat ál meer aansoeke afgekeur word, gee ook ’n aanduiding hoe diep in die knyp verbruikers is.