Die maatskappy het op 28 November aangekondig dat sy inkomste met 29,1% tot R8,5 miljard gestyg het. Dis hoofsaaklik meegebring deur ’n 10,6%-toename in die aantal transaksies by die maatskappy.

“Ons diversifiseer ons kleinhandelvertakking al die afgelope sowat vyf jaar. Dit beteken ons het nie net blootstelling aan die kleinhandelsektor in die landbou nie, maar ook in brandstof, met ’n groot element van geriefswinkels. Ons het ook uitgebrei na KwaZulu-Natal,” sê mnr. Sean Walsh, uitvoerende hoof van Kaap Agri.

Volgens hom het ’n groter klem op hardeware, verf en troeteldierprodukte verkope in uitgesoekte Agrimark-winkels verbeter.“Ons wil glo ons het ’n groter markaandeel danksy ons diversifikasiestrategie. Verbruikers is onder druk, daarom moes ons markaandeel van die tradisionele boumateriaal-kleinhandelaars weggeneem het.”

Hy glo dit is vermag deur die maatskappy se kultuur om “mens-mense” te wees. “Dis ’n kultuur van vriendelikheid en ‘hoe kan ek help om die lewe beter te maak?’. Ons hoor by klante hulle voel tuis in die winkels en word gehelp. As jy dit oor tyd doen, trek jy ook jou nie-landbouklante.”

Die maatskappy se herhalende wesensverdienste per aandeel het met 6% gestyg. Dit beteken hy het ’n jaarlikse groeikoers oor vyf jaar van 10,9% gehandhaaf. ’n Dividend van 90c per aandeel (in 2018 was dit 84,7c) is verklaar. Die totale dividend vir die jaar is 5,8% meer as verlede jaar.

Droogte se ‘voordeel’

Walsh sê hy voel sleg om dit te sê, maar op kort termyn bring die droogte in dele soos die Klein- en Sentraal-Karoo en die Kalahari vir hulle ’n voordeel vanweë die verhoogde veevoerverkope. “Dierekosverkope is 40% op, maar ons weet dit is totaal onvolhoubaar op lang termyn.”

Vir die vrugtebedryf is sy vooruitsigte tot Mei beter as ’n jaar gelede omdat damvlakke goed daar uitsien.

“Die vertrouensvlakke is egter laer as twee jaar gelede weens die droogte, onsekerheid oor grondhervorming, beperkte uitvoergeleenthede na Asië en die swak Europese ekonomie, wat ons boere se vermoë om uit te voer kniehalter. Ons vrugtesektor is beslis besig om die herstelknoppie te druk, maar produsente wag eerder as om te hardloop.”

Plastiekprodukte

Oor Kaap Agri se verkryging van Tego Plastics, sê Walsh hulle het gereageer op produsente se behoeftes.

“Produsente het ons aanhoudend gevra vir ’n alternatief, want ons het agtergekom daar is net een verskaffer in die mark. Ons het ’n geleentheid gesien om terugwaarts te belê in die ketting en self vrugtekratte te produseer (hoofsaaklik vir die sitrus- en appelbedryf) wat ons deur ons kanale kan bemark en finansiële dienste aan boere bied. Ons glo ons het ’n produk wat groter waarde gaan bied.”

Verwagtinge vir 2020

Mnr. Graeme Sim, finansiële direkteur van Kaap Agri, sê in die jaar tot einde September het die maatskappy sowat R230 miljoen bestee aan kapitaaluitbreidings, onder meer deposito’s vir sewe brandstofpersele, wat nog nie ’n inkomste ingebring het nie.

“Die kapitaal het dus in 2019 gevloei, maar ons sal eers in 2020 resultate sien. Daar is ’n gesonde pyplyn met nuwe brandstofpersele en winkels wat op pad is.”

Hy verwag dat Wesgraan, wat graanhantering en opberging doen, ’n stadiger jaar gaan hê as die vorige een. “Die koringteikens is af omdat ons teen die einde van die seisoen nie reën gehad het nie en warm weer ervaar het.”

Hy is egter versigtig optimisties oor die jaar wat voorlê. “Kleinhandel sal onder druk bly, maar ons het ’n goeie, diverse blootstelling aan produkte en geografiese liggings. Die landbou het ook gebiede wat goed presteer en ander wat onder druk bly.”