Fair Cape Dairies in die Wes-Kaap se langlewemelk word nou in omgewingsvriendeliker houers verpak. Die verpakking staan bekend as Combibloc EcoPlus. Die vervaardigers, SIG Combibloc Obeikan (SIG CBOB), sê só ’n 1 liter-houer se koolstofspoor is 28% minder as dié van ’n konvensionele houer. Dit is danksy ’n innoverende en unieke struktuur vir aseptiese houers vir suiwelprodukte.

SIG CBOB is ’n verskaffer van stelsels en oplossings vir aseptiese verpakking en vulmasjiene vir voedsel en drankies. Meer as 80% van Combibloc EcoPlus bestaan uit karton wat gemaak word van biogebaseerde, onverwerkte hout. Die hout word verkry uit woude en ander beheerde bronne wat gesertifiseer is vir volhoubare bestuurspraktyke deur die Forest Stewardship Council.

Volgens mnr. Abdelghany Eladib, bedryfshoof van SIG CBOB, is Fair Cape die eerste onderneming in Afrika en die Midde-Ooste wat Combibloc EcoPlus gebruik. “Fair Cape Dairies neem ’n standpunt in vir die omgewing en neem die leiding in die Afrika-mark as ’n maatskappy wat volhoubaar en verantwoordelik optree,” het Eladib luidens ’n verklaring gesê.

Mnr. Louis Loubser, bemarkingsdirekteur van Fair Cape Dairies, het gesê omgewingswelsyn is belangrik vir die maatskappy. “Ons het ’n geïntegreerde benadering tot koolstofbestuur en streef altyd na ’n groener en omgewingsvriendeliker benadering tot melkproduksie.” Die langlewemelk in die nuwe verpakking is deel van Fair Cape se strewe om die produk volhoubaar te produseer.

Die skroefdoppie waarmee First Choice se vars melk met ’n verlengde raklewe verseël word, is van plant- en biogebaseerde materiaal gemaak. FOTO: WOODLANDS DAIRY

Op sy beurt bied Woodlands Dairy in die Oos-Kaap ook ’n nuwe biogebaseerde verpakking vir sy First Choice vars melk met ’n verlengde raklewe. Dit is ontwikkel met die samewerking van Nampak, Woodlands Dairy se verpakkingsvennoot vir produkte met ’n langer raklewe. Dié verpakking is die eerste in sy soort in Suid-Afrika.

Woodlands gebruik ook biogebaseerde verpakkingsmateriaal vir die meeste van sy ultraverhitte produkte. Die skroefdoppie waarmee die houers toegedraai word, is van plant- en biogebaseerde materiale gemaak. Dit kom alles van hernubare hulpbronne wat volhoubaar geplant en geoes word, soos suikerriet.

Die houers is ook beter vir die omgewing en 80% daarvan word van rou plantmateriaal vervaardig. Dit beteken die hele verpakking is ten volle herwinbaar. “Ons glo daarin om ons omgewingsimpak te verminder. Die doppies en verpakking help ons om dit te kan doen,” sê me. Marisa Maccaferri, bemarkingsbestuurder vir Woodlands Dairy en First Choice.

Sy sê verbruikers word al hoe meer omgewingsbewus. Hulle vereis toenemend dat die handelsmerke wat hulle koop, herwinbaar, volhoubaar en ekovriendelik is. Die nuwe verpakking bevat ook ’n QR-kode waarmee verbruikers kan uitvind waar hul naaste herwinningspunt is. Sodoende kan hulle self ’n bydrae tot die omgewing lewer. Die verpakking word aanvanklik net in die Oos-Kaap bekend gestel, waarna ander provinsies sal volg.