Die produk word die WeedWiper genoem.

Mnr. Colin Scott, eienaar van QuadMaster, sê windrisiko is nie die enigste probleem nie. “Danksy die WeedWiper is daar geen gifdampe wat ronddryf nie. Jou grond word ook beskerm omdat jy nie gif hoef te spuit nie.”

Die WeedWiper kan pasgemaak word met breedtes van een tot ses meter wyd, maar word as standaard vervaardig met ’n wydte van 2,75 m. Die loophoogte kan ook verstel word van 0-500 mm bo die grond. Die WeedWiper is toegerus met ’n opgaartenk van 130 liter.

Die rollers, wat van ’n absorberende, sintetiese materiaal gemaak is, word deur gravitasie uit die opgaartenktenk met die gifstof benat.

“Die rollers rol dan oor die onkruid. Sodoende word die gif net oorgedra aan die plante wat jy wil doodmaak. Daar is geen vermorsing nie en die bedekking is goed omdat die rollers in ’n chevron-formaat gemonteer is om ’n dubbele veeslag op alle onkruide te verseker.

“Na gelang van die onkruidlading kan die veër teen dieselfde spoed en selfs vinniger as normale onkruidtoedienings sy werk verrig. Aangesien so min gif vermors word, kan die enkele tenk van 130 liter baie hektare behandel,” sê Scott.

Die rollers kan maklik afgehaal en nat gebêre word vir langlewendheid. Die vloei van die gifstof kan met twee verstelbare kleppe beheer word. Die WeedWiper se raam is ten volle gegalvaniseer en toegerus met ’n bal-koppelkop van 50 mm.

“Die toestel is ideaal vir boere wat met dekgewasse boer en dit wil doodmaak voor hulle ’n nuwe gewas vestig. Dit werk ook goed vir boere wat onkruid of dekgewasse wil doodmaak om jong grasse of ander gewasse op die grond ’n kans te gee om te groei.

“Dit kan egter vir enige onkruid in enige toestande aangewend word, veral in boorde en wingerde waar onkruidbespuiting in die groeityd dikwels nie moontlik is nie as gevolg van wind.”

PRYS: R13 800 vir die 2,75 m-grootte (posgeld uitgesluit).

NAVRAE: E-pos: info@quadmaster.co.za; webwerf: www.quadmaster.co.za; tel. 033 330 6247.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.