Brood, mieliepap of rys alleen is nie voldoende vir ’n gesonde bevolking nie. Mense se diëte moet uit al die voedselgroepe saamgestel word om te verseker hongersnood word doeltreffend aangepak, sê die internasionale navorsingsinstituut vir voedselbeleid (IFPRI).

Die wêreld is nie op koers om hongersnood teen 2030 uit te wis in ooreenstemming met die Verenigde Nasies (VN) se volhoubaarheidsteikens nie. Trouens, die afgelope vyf jaar het voedselsekerheid en toegang tot genoeg gesonde voedsel vir die wêreldbevolking agteruitgegaan.

Daarbenewens moet die wêreld nou die probleme rondom Covid-19 die hoof bied, sê mnr. Qu Dongyu, direkteur-generaal van die Voedsel-en-landbou-organisasie (VLO). Hy was een van die sprekers tydens ’n wêreldwye webinaar van die IFPRI om die 2020-verslag oor voedselsekerheid en voeding vir die wêreld, bekend as die SOFI-verslag (State of Food Security and Nutrition in the World), bekend te stel.

Die verslag is gesamentlik opgestel deur die VLO, die internasionale stigting vir landbou-ontwikkeling (Ifad), die VN se internasionale kindernoodfonds (Unicef), die Wêreldvoedselprogram (WVP) en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).

VOEDSELNOOD STYG

Luidens die SOFI-verslag is 10 miljoen meer mense in die afgelope jaar chronies honger as die vorige jaar, en oor die afgelope vyf jaar het dié getal met 60 miljoen mense toegeneem.

Luidens dié verslag het 690 miljoen mense in 2019 honger gely. Die meeste van hierdie mense woon in Asië, maar hongersnood in Afrika neem vinniger toe as enige ander plek ter wêreld. Indien dit só aanhou, waarsku die verslag, sal meer as 840 miljoen mense teen 2030 in hongersnood lewe. Afrika sal Asië verbysteek om die vasteland met die meeste honger mense te wees.

Die Covid-19-pandemie kan meer as 100 miljoen ekstra mense by hierdie syfers voeg. Om hongersnood te oorbrug is net een deel van die probleem. Twee miljard mense het nie toegang tot genoeg, veilige en gesonde kos nie, luidens die SOFI-verslag.

In 2019 is 144 miljoen kinders onder die ouderdom van vyf se groei vertraag weens wanvoeding. Aan die ander kant raak vetsug ’n ál groter probleem in lande waar mense genoeg, maar nie gesond eet nie. Nagenoeg 676 miljoen van die wêreld se volwassenes ly aan vetsug.

ONBEKOSTIGBAAR

Die verslag sê meer as 3 miljard mense kan nie ’n gesonde dieet bekostig nie. In Afrika suid van die Sahara en die suidelike deel van Asië kan 57% van die bevolking nie bekostig om gesond te eet nie. Qu waarsku dat die wêreld nie kan bekostig om te laat slaplê in die stryd teen wanvoeding en hongersnood terwyl daar teen die Covid-19-pandemie baklei word nie.

Dieetverwante gesondheidsorg sal die wêreld teen 2030 $1,3 triljoen (R21,51 triljoen) per jaar kos, word in die SOFI-verslag voorspel. Om dié voedingsprobleme teen 2030 uit te wis, moet lande hul voedselstelsels hervorm en toesien dat gesonde kos meer bekostigbaar raak.

Qu sê ’n gesonde dieet kan tot vyf keer meer kos as om ’n mens se daaglikse kilojoulebehoefte met slegs styselagtige kosse te vervul. “Dit is onaanvaarbaar. Ons moet toesien dat gesonde diëte vir almal toeganklik is,” sê hy.

Die verslag gee verskeie faktore soos verstedeliking en die behoefte aan vinnige etes, polities gedrewe staatsubsidies vir graanproduksie eerder as vir groente en vrugte, onvoldoende opbergingskapasiteit vir bederfbare produkte, swak infrastruktuur en ontoeganklikheid van varsproduktemarkte die skuld vir die probleem.

NUWE BELEID NODIG

Luidens die SOFI-verslag lê die oplossing daarin dat regerings beleid en strategieë moet ontwikkel wat die produksie van meer gesonde kosse sal aanmoedig.

Die eerste stap is om weer balans te vind in landboubeleid wat eerder beleggings in voedingswaarde-georiënteerde landbou en voedselproduksie beloon. Hier word spesifiek verwys na vrugte en groente, en proteïenryke plant- en diergebaseerde voedsel soos bone, vis, pluimvee en suiwelprodukte.

In die verslag word aanbeveel dat lande beleid vorm wat die verskaffingsketting van gesonde kos ondersteun en belegging in verpakking, vervoer en infrastruktuur, opbergingsgeriewe en bemarking aanmoedig.

Regerings moet ook mooi dink voor hulle handelsbeperkings en tariewe instel wat die bekostigbaarheid van gesonde kos vir hul burgers kan beïnvloed. Qu het verduidelik die doel is om voedselstelsels te verander om genoeg gesonde kos volhoubaar vir almal te produseer.