Die aanleg, wat hy saam met sy vennoot, mnr. Vincent Sequeira, bedryf, is die enigste in sy soort in die Suidelike Halfrond. “Ons verskaf reeds meer as 40% van al die geelwortels wat in Suid-Afrika verbruik word en het besef ons kan nie net aanhou om horisontaal uit te brei nie . . . Sowat 30% van die wortels is tweedegraads omdat hulle gekraak, gebuig of gebreek is.

Dis altyd omtrent teen kosprys aan die verwerkingsbedryf of as kos vir perde verkoop. Ons wou meer waarde daaraan toevoeg,” verduidelik Vito oor waarom hulle die aanleg op die been gebring het. Wortelsap is boonop baie gesond en ’n gewilde drankie. ’n Lewensvatbare sapaanleg vir vars wortels benodig sowat 50 ton tweedegraadse wortels elke dag van die jaar – vandaar die gebrek aan aanlegte in die Suidelike Halfrond.

Vito het besluit om nie ’n bestaande internasionale ingenieursmodel te gebruik nie, maar hy wou aan die voorpunt van tegnologie wees. Saam met prof. Gabriele Di Giacomo, ’n Italiaanse kenner van voedselprosessering, het hulle ’n ingenieursmaatskappy begin soek wat bereid was om ’n aanleg te bou met ’n saponttrekkingsproses van vyf aaneenlopende stadiums om soveel moontlik betakaroteen per 100 ml te onttrek.

By die aanleg, wat vyf jaar geduur het om te voltooi, kan 80 ton wortels per dag verwerk word om 40 000 liter sap onder die Rugani-handelsmerk te vervaardig. Die wortels word binne ’n uur nadat dit geoes is, tot 2 °C verkoel vir die beste moontlike rakleeftyd.

Die afvalproduk van die versappingsaanleg is sowat 40 ton wortelmoes per dag, wat na ’n biogasaanleg vervoer word, waar dit metaangas vorm wat vir die aanleg se verhittingstelsel gebruik word. Sowat 1,7 MW krag word daarmee opgewek.