Elke boer wat ernstig is oor ’n toekoms in die landbou in Suid-Afrika, sal egter skouer aan die wiel moet sit en help om die sektor te transformeer, meen mnr. Piet Potgieter van VKB se afdeling vir ontwikkelende landbou. 

In dié verband is VKB besig om ’n struktuur op die been te bring wat boere in distrikte sal saamsnoer sodat alle boere kan saamwerk om die distrik se landbou aan transformasiedoelwitte te laat voldoen. Potgieter het sy visie met boere van Limpopo op ’n VKB-inligtingsdag naby Polokwane bespreek. Hy het vertel dit is ’n beginsel wat hy al sien werk het in KwaZulu-Natal waar hy grootgeword en later self geboer het.

Volgens Potgieter beoog VKB om twee sentrums vir grondhervorming te vestig, een in Limpopo en een in die Vrystaat. Dié sentrums sal dan uit kleiner sentrums op distriksvlak bestaan waar boere in hul eie distrikte in beheer is en hul eie toekoms bepaal. Hy waarsku dat dit van die begin af inklusiewe strukture gaan moet wees – “spierwit gaan nie werk nie”.

REDDING

Potgieter meen sulke kleiner bondgenootskappe gaan Suid-Afrika se landbousektor op grondvlak red. Enersyds meen hy dit gaan boere help om hul plase teen grondgrype te beveilig en andersyds gaan dit die politieke angel uit die staat se transformasiemandaat haal. “Ons het met ons ontwikkelingsprojekte gesien hoe baie punte tel dit by die staat as kommersiële boere hul opkomende eweknieë help om tot die waardeketting toe te tree.”

Ander belanghebbendes sal ook by die sentrums betrek word wat boere aan albei kante van die spektrum kan bystaan met administratiewe kundigheid en finansieringsoplossings. Daar sal ook bedryfskapasiteit in dié sentrums wees.

Omdat opkomende boere en kommersiële boere van die begin af saamwerk en saam besluite neem, meen Potgieter dit sal goeie buurmanskap, goeie samewerking en verhoudinge bewerkstellig. “Transformasie sonder goeie verhoudinge is niks werd nie,” het hy gesê. “Ons kan wel nie keer dat die regering die doelpale met herverdeling en bemagtiging skuif nie, maar ons kan vertroue, samewerking, vennootskappe en samehorigheid in ons distrikte beheer.”