Dr. Chris Schmidt van Kynoch-kunsmis sê die gevorderde praktiese navorsing oor plantvoeding verloop tans nie na wense in Suid-Afrika nie.

Schmidt het die uiteenlopende menings oor grond- en plantgesondheid op ’n simposium as deel van die gekombineerde kongres van Gewasse-, Grond-, Tuinbou- en Onkruidwetenskapverenigings van Suid-Afrika by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein as ’n noodkreet om hulp bestempel met verwysing na die belangrikheid van voortgesette navorsing.

“Ons het deurlopend navorsing oor plantvoeding nodig wat nie net oor stikstof, fosfor en kalium (N, P en K) gaan nie, maar wat die holistiese stelsel van al die elemente van die grond- en mikrobiologie in ag neem,” sê hy. “As in ag geneem word dat nuwe mieliekultivars jaarliks ontwikkel word, moet plantnavorsing op meervoudige regressievlakke holisties verbeter word.”

Een van die onderwerpe wat volgens hom toegewyd nagevors moet word, is die opstel van kalibrasievlakke vir ontledingsmetodes van grondmonsters in laboratoriums.

Data

Dr. Johan van Biljon, ook van Kynoch, sê die data van grondontledings uit die laboratorium moet verantwoordelik in die landerye toegepas word om die hoogste winsgewendheid vir die boer te bewerkstellig. In die proses moet die omgewing ook in ag geneem word, asook die gemeenskap se behoeftes en die voedingswaarde vir die menslike dieet.

Van Biljon is skepties oor ’n holistiese benadering in plantvoeding, aangesien baie wisselende faktore in ag geneem moet word. “In die geval van grondontledings moet die afwisseling in die verskillende soorte grond, die ligging van die gebied en die betrokke gewas in ag geneem word,” sê hy. “ ’n Kombinasie van dié inligting kan tot die winsgewendste inligting vir die produsent lei.”

Vir Van Biljon is die huidige brandpunt in plantvoeding die ekonomiese implikasies wat dit inhou. “Die Suid-Afrikaanse boer kry nie subsidies nie en moet sy eie potjie krap om die hoogste inkomste oor tyd te verdien, en nie net in ’n bepaalde seisoen nie. Ons moet die vermoë hê om die wetenskap in te span vir die hoogste winsgewendheid vir die produsent.”

Weiveld

Prof. Klaus Kellner, ’n omgewingskundige van die Noordwes-Universiteit, is bekommerd oor die oorbenutting van die natuurlike weiveld. “Produsente moet hul weidingsbehoefte by die omgewing aanpas met die wete dat Suid-Afrika ’n droë streek is,” sê hy. “Hulle moet weet daar is iets soos klimaatsverandering.”

Volgens Kellner gee oorbeweiding en die onoordeelkundige benutting van die natuurlike hulpbronne aanleiding tot mensgemaakte droogtes.

Versuring

Die versuring van die land se landbougrond neem kommerwekkend toe, sê dr. Pieter Haumann, uitvoerende hoof van die misstofvereniging van Suider-Afrika (Fertasa). Dié versuring kon selfs tot op die vlak van 30% oor die afgelope droogtejare toegeneem het met die ergste vlakke in KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Noordwes.

Haumann het op die simposium gesê die gemiddelde pH-waarde (kalium-chloried of KCl) van die bogrond in die Vrystaat het van 2002 tot 2015 met 0,17 pH-eenhede tot ’n pH-waarde van 4,23 afgeneem, terwyl die gemiddelde suurversadiging met 92% in die bogrond verhoog het. In dié tydperk het die gemiddelde pH-waarde van die gebied se ondergrond van 4,25 tot 4,15 afgeneem. Dié gemiddelde lesing het die daaropvolgende drie jaar (2015 tot 2018) onder die vlak van 4,2 gebly, terwyl die gemiddelde suurversadiging in dié tydperk met ’n bykomende 13% gestyg het.

Haumann het produsente gemaan om die korrekte hoeveelheid kalk toe te dien, met inagneming van die behoefte van grontontledings, grond se buffervermoë, pH-vlakke en die uitruilbare suurheid.

Versuring in die grond veroorsaak ’n tekort aan kalsium en magnesium wat tot toksiese vlakke van aluminium aanleiding gee. “Die totale mikrobiologiese vlakke van die grond word deur versuring omver gegooi,” sê hy. “ ’n Boer kan ’n oesopbrengsverlies van tot 40% ly as die pH-waarde van 5-5,5 tot 4,5 afneem.”