Die wêreldwye landbou- en kosproduksiestelsel ervaar ’n ongekende samevloeiing van druk. Só het dr. Caterina Batello, vooraanstaande kundige van ekostelsels, gesê met die opening van die eerste Agro-ekologiekonferensie in Kaapstad.

Voedselproduksiestelsels is onder druk om in die huidige en toekomstige behoefte aan voedselsekerheid te voldoen. As slegs die kosteknyptang as ’n aanwyser gebruik word en die neiging geëkstrapoleer word in die toekoms in, is dit duidelik dat die huidige stelsel op pad is na selfvernietiging. “Dit is duidelik dat die huidige stelsel, wat geskoei is op die intensiewe gebruik van insette (kunsmatig en biologies) vir die toename in produktiwiteit nie langer die antwoord kan wees nie.

“Ons moet oorskakel van ’n inset-intensiewe stelsel na ’n kennis-intensiewe stelsel,” het Batello gesê. Sy meen die antwoord lê opgesluit in agro-ekologie. Agro-ekologie pas ekologiese beginsels en konsepte toe om die wisselwerking tussen mens, plant, dier en die omgewing te optimaliseer, terwyl al die sosiale aspekte vir ’n veilige, volhoubare en regverdige voedselstelsel steeds in ag geneem word.

dr. Caterina Batello
Dr. Caterina Batello. Foto: Johan van der Merwe

Agro-ekologie steun eerder op plaaslik aangepaste biodiversiteit as eksterne insette soos misstowwe, siekte- en plaagdoders, en ingevoerde teelmateriaal. Dit steun ook op die dienste van ekostelsels, in én op die grond. Agro-ekologie is gemoeid met die gesondheid van mense en gemeenskappe, asook die diversiteit van voedingstowwe in die voedingstelsel, om te verseker mense se diëte hou hulle gesond. “Die stelsel bevorder plaaslike markte en ’n verhoogde wisselwerking tussen die verbruiker en produsent om waardetoevoeging tot op plaasvlak te bring en meer diverse diëte moontlik te maak,” het Batello gesê.

R2 miljoen/ha

Sy meen om van hierdie stelsel ’n sukses te maak, moet regerings, munisipaliteite, burgerlike organisasies en die private sektor dit aangryp. ’n Gevallestudie oor hoe so ’n stelsel kan werk, is in Santa Cruz in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië gedoen waar bykans 6 000 ha aarbeie omgeskakel is na organiese boerdery. Die tweekopmyt, ’n plaag wat aarbeiboere groot skade kan berokken, word nou baie doeltreffend met natuurlike predatore beheer in ’n ekostelsel-gefokusde stelsel. Dekgewasse word gebruik om onkruid, grondgedraagde plae, soos aalwurms, en selfs siektes te beheer. In 2016 is bykans $1 miljard se aarbeie op hierdie 6 000 ha geproduseer en bemark, wat gelykstaande is aan ’n inkomste van meer as R2 miljoen/ha.

’n Sertifiseringstelsel wat sosiale regverdigheid en werkers se regte bevorder, is op die been gebring. In hierdie gemeenskap is daar nou reeds meer as 30 jaar se boerdery- en boere-ondersteunde navorsingsresultate beskikbaar, wat die stelsel baie veerkragtigheid gee. Kultivars wat by die plaaslike klimaat aangepas is, is ontwikkel en die hele gemeenskap is deel van die sukses. Derhalwe is daar kapasiteit en momentum gevestig wat volhoubaarheid verseker.

“Gemeenskappe, kosprodusente, die jeug, wetenskap en volhoubaarheidsinisiatiewe in die private sektor bou strategiese vennootskappe en gebruik innoverende alternatiewe om die tradisionele stelsel op sy kop te keer en te transformeer tot ’n meer volhoubare voedselstelsel. Hierdie alternatiewe pak ekonomiese, omgewings- en sosiale kwessies doeltreffend aan en is geskoei op inklusiewe, skeppende beginsels wat aangedryf word deur bemagtigende kennis. Hierin lê kosprodusente se toekoms.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.