Een van die helderste herinnerings uit mnr. Herman Janse van Rensburg (39) van Arlington se kinderdae is hoe sy pa, Dirk, hom soggens met hanekraai uit die bed gejaag het. “Hy het my aan my tone getrek en gesê ek moet nou opstaan, die werk wag.”

Dit was nie altyd lekker nie, veral nie op koue wintersoggende wanneer hy moes gaan koeie melk nie. Maar vandag is dié Vrystaatse wenner van Toyota se nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie baie dankbaar vir die grondslag wat destyds gelê is. “Die groot ding wat my pa en ma ons drie kinders geleer het, is om te kan werk. Van kleins af het ons geleer om ons kamers skoon te maak, ons beddens op te maak en te help afdek. Dit is klein dingetjies waarmee ons begin het, maar dit het ons die waarde van werk geleer.”

Lede van Vrystaat Landbou se Jongboerkomitee, waar Janse van Rensburg al sedert 2010 betrokke is, beskryf hom as ’n raakvatter wat alles wat hy doen, met volle oorgawe aanpak. Dít sien jy gou in sy boerdery, wat getuig van fyn beplanning en die optimale benutting van hulpbronne.

Hy boer met mielies en sonneblomme en beskryf homself as ’n “vogboer” wat sy bewerking só beplan dat hy sy hulpbronne bewaar en ten beste benut. Sy boerdery het ’n veevertakking bestaande uit Beefmaster-Bovelder-kruisings, geharde Tuli’s en Simmentalers. Benewens die boerdery het hy ook ’n onderneming, Arlington Staalwerke, wat werktuie vervaardig.

Janse van Rensburg se pa het vier jaar gelede die boerdery tussen hom en sy ouer susters, mee. Marietjie Purchase en Annatjie Bertram, verdeel. Al drie gesinne boer in die distrik en pa Dirk en ma Elma het nou heelwat meer tyd om hulle almal te geniet. Dirk was in 1970 ’n amptenaar van die destydse departement landbou en tegniese dienste toe hy deeltyds op gehuurde grond begin boer en later die plaas Port Arlington gekoop het, waar Janse van Rensburg vandag nog boer. “Ons is só bevoorreg. Min pa’s doen wat my pa gedoen het om die stokkie oor te gee aan ons drie kinders. En dit wat ons gekry het, is die erfenis wat my pa opgebou het, want hy het met niks begin nie.”

Janse van Rensburg en sy vrou, Huibré, is ’n span wat mekaar aanvul. Sy is van die begin af ten volle in sy boerdery betrek. “Sy het ’n baie goeie aanleg vir syfers en het in ’n syferhuis grootgeword. My bankrekening en bankstate is oop vir haar. Sy weet presies wat ek bestee en net so weet ek ook alles van haar besteding. Só werk ons verantwoordelik en versigtig met ons geldsake.”

Hy het op vyfjarige ouderdom al trekker bestuur, ’n oranje Fiat 640. Toe hy skool toe is, kon hy naweke en vakansies nie wag om sy sitvlak op die trekker te kry of met die sweismasjien te werskaf nie. Sy pa het self die sweiswerk gedoen om hul melkstalle in te rig, en hy het sy seun vroeg-vroeg leer sweis.

Toe Janse van Rensburg ná matriek in 1997 dadelik wou kom boer, het sy pa ander planne gehad. “Ek was glad nie ’n akademiese kind nie. Ek het dit gehaat. Ek wou net boer. Maar my pa het vasgeskop en gesê ’n mens voltooi eers die eerste stap een en dan klim jy die tweede trappie. Ek moes eers gaan leer.”

Nadat hy ’n jaar lank op ’n Amerikaanse plaas gewerk en ’n landboudiploma op Potchefstroom verwerf het, kon hy hom by die boerdery aansluit. “Die maklike uitweg sou wees om dadelik plaas toe te kom en te begin boer, pleks van om vas te byt met die studie. Ek moes leer dinge kom nie altyd maklik nie. Dit is ’n lewensles wat elke boer moet leer.”

STAALWERKE

Janse van Rensburg het met sy toetrede tot die boerdery hul staalwerkafdeling in ’n volwaardige onderneming omskep. Hy het begin deur die plaas se werktuie na te gaan, te herstel of op te gradeer. “Namate die boerdery uitgebrei het, het ek gesien ’n mens kan nie oral wees nie. My tyd is meer werd as om in ’n skuur te staan en werktuie reg te maak, terwyl die organisasie van die plaas staan en wag. Só het die staalwerke tot stand gekom.”

Intussen het hy ’n groot belangstelling ontwikkel om self werktuie te bou. Gou het boere in die distrik bestellings begin plaas. Janse van Rensburg het die afgelope agt jaar reeds drie keer die SIMA-internasionale landbousakeskou in Parys, Frankryk, besoek. Daar kom hy op die hoogte van die jongste internasionale neigings in die ontwerp van landbouwerktuie. “Ek steel maar ’n bietjie met die oog en dan kom maak ek ’n boereplan wat my tekenaar, TJ Terblanche, in ’n ontwerp omskep wat ons in ons fabriek bou.”

Omdat hy self in akkerbou spesialiseer, is sy werktuie vir daardie mark ontwerp. Só is daar die Flex Master, ’n saadbeddingvoorbereider, die Disc Master, wat ideaal is vir stoppelbewerking, en die Chisel Master, wat vir primêre bewerking aangewend word. Arlington Staalwerke het 18 heeltydse werknemers in diens, maar gee ook jaarliks aan ses vakleerlinge van Qwaqwa die geleentheid om hul praktiese opleiding op die plaas te ondergaan.

Mnr. Herman Janse van Rensburg en sy vrou, Huibré. FOTO: VIDA BOOYSEN
By hierdie melkstal op die plaas Port Arlington het die boerdery in 1970 begin. By mnr. Herman Janse van Rensburg is sy pa, Dirk. FOTO: ROOISTOEL
Arlington Staalwerke se Flex Master word op die onlangse boeredag op Janse van Rensburg se plaas gedemonsteer. Hy gebruik dié werktuig om saadbeddings voor te berei. FOTO: VIDA BOOYSEN

SAAIBOERDERY

Janse van Rensburg se saaiboerdery bestaan uit mielies en sonneblomme wat om die helfte op sowat 4 000 ha saaigrond aangeplant word. Die oeste word elke jaar afgewissel sodat dieselfde gewas nie in die daaropvolgende jaar op dieselfde land geplant word nie. Sy bewerking vir die volgende produksiejaar begin reeds net nadat hy geoes het. “As ons klaar gestroop het, bewerk ons die land met ’n skottelwerktuig. Só sny ons die stoppel fyner en breek die grondkors. Die voordeel hiervan is dat ons onkruid doodmaak. Daarna kan die lande lê, want ek bewaar eintlik baie goeie vog deur so gou moontlik te bewerk ná die stroper deur is.”

Al die primêre bewerkings word dus in winter gedoen. Daarna word die lande net skoongehou. Sodra die skottelbewerking gedoen is, raadpleeg Janse van Rensburg sy landboukundige, mnr. Willem van Zyl van Multigreen op Kroonstad, wat ’n deeglike grondontleding doen. Grondmonsters word elke jaar volgens ’n koördinaatnetwerk geneem wat op twee hektaar-eenhede gebaseer is.

Hierna word enige tekorte reggestel. Kalk word met ’n presisiestrooier toegedien, met die regte hoeveelheid op die spesifieke plek waar dit benodig word. Al die kalk word ook in die winter, voor die volgende planttyd, toegedien. Dit word opgevolg met die gedeelte van die bemesting wat vooraf uitgestrooi word, waarna Janse van Rensburg sy primêre bewerking met sy Chisel Master doen. Net voor planttyd word ’n fyn, ferm onkruidvrye saadbedding met die Flex Master gemaak.

Hy probeer om sy mielies teen 15 Oktober te plant en sonneblomme ideaal gesproke teen middel Desember, na gelang van die reënval. “As dit reën en die grond is by veldwatervermoë, plant ek, maar ek hou by my mikpunt van 15 Oktober en later en probeer altyd om teen einde Desember alles klaar geplant te hê – mielies teen 10 Desember op die heel laatste en sonneblomme teen 30 Desember.”

Hy het ondervind as die sonneblomme ná hierdie tyd geplant word, maak Sclerotinia-kopvrot makliker sy verskyning. “Weens die risiko van siektes en plae konsentreer ek dus streng daarop om my lande so vroeg moontlik te bewerk en so vinnig as wat ek kan ná oestyd. Ek glo die koue winter en ryp maak al die siektes en plae dood.”

Die geelmieliebasters wat aangeplant word, is PAN 4R-776, PAN 6R-680R en DKC 72-76BR. Die sonneblomkultivars is PAN 7160CLP en PAN 7102CLP, wat albei toppresteerders is.

BEMESTINGSPROGRAM

Hy verduidelik stikstof word reeds in die winter saam met kalk toegedien. Daarna word primêre bewerking gedoen. Janse van Rensburg verduidelik dat die bemesting wat reeds in die winter gedoen word, heelwat voordeel inhou. “Ek het baie tyd in die winter om bemesting en kalk toe te dien en ek probeer om met planttyd so min as moontlik kunsmis op die planter sit. As jy vooraf bemes het, is dit ook nie ’n krisis as dit so baie reën dat jy nie in die lande kan kom om die bobemesting te gee nie.”

Met planttyd word 130 kg Multigreen met sink en swael per hektaar toegedien. Vir mielies is die verhouding van NPK (stikstof, fosfaat en kalium) as volg: 75 kg N en 18 kg P en geen K per hektaar, terwyl sonneblomme 60 kg N, 14 kg P en geen K per hektaar kry nie. “Kalium word nie toegedien nie omdat ons ’n oormaat in ons grond het. Boorbespuiting is ook vir my belangrik, want ons grond is arm aan boor. Dit help met bestuiwing en kopvorming.”

Die Disc Master van Arlington Staalwerke word op die boeredag gedemonstreer. Die reeks is ideaal vir stoppelbewerkings van oesreste, die inwerk van kunsmis en onkruid­bestryding.
Hy probeer om sy mielies teen 15 Oktober te plant. FOTO: JÓHANN THORMÄLEN
Janse van Rensburg plant om die helfte sonneblomme en mielies. Die sonneblomkultivars is PAN 7160CLP en PAN 7102CLP, albei toppresterende basters. FOTO: JÓHANN THORMÄLEN

ONKRUIDBESTRYDING

Onkruid word glad nie op die landerye geduld nie, want dit suig vog en bemesting op wat bewaar moet bly totdat die planttyd aanbreek. Janse van Rensburg sê hy is nie rigied oor die wyse waarop onkruidbestryding gedoen word nie, hetsy chemies of met meganiese bewerking, maar wel dat die lande onkruidvry moet wees. By mielies en sonneblomme word die bestryding van breëblaar- en grasonkruide met planttyd gedoen. Vier tot ses weke later word opvolgbespuiting gedoen wat onder meer Roundup, mesotrioon en atrasien vir die mielies bevat en EuroLightning® (reg.nr. L8436, aktiewe bestanddele: imasapir en imasamoks) vir sonneblomme.

BEMARKING

Janse van Rensburg se sonneblomme word vanaf middel Februarie gestroop, indien hy sy mikpunt bereik het om teen 15 Oktober aan te plant. Dié vroeë oestyd help veral om sy kontantvloei te versterk. Sy gemiddelde sonneblomopbrengs vanjaar was 1,9 ton per hektaar, waaroor hy baie dankbaar is. “Dit was ’n moeilike jaar, veral met planttyd en selfs van bestuiwing tot blomtyd toe daar droogtestremming was.”

Mielies word gewoonlik van middel Junie tot begin Augustus geoes. Bemarking word ook fyn beplan nadat insetkoste behoorlik bereken is. “As jy weet wat jou insetkoste is, kan jy jou opbrengs daaraan koppel en sin van die somme maak. Dit help nie jy wag vir die moontlikheid dat die prys R5 000 per ton kan haal, en dan gebeur dit nooit nie.”

Janse van Rensburg bemark ’n derde van sy mielies voor planttyd, dan die volgende derde in die blomstadium en die laaste derde met oestyd. “Dit kan verskil na gelang van die prysbepalings. Dit is maar net ’n goeie maatstaf.”

VEEFAKTOR

Janse van Rensburg se vleisbeesvertakking bestaan uit ’n kommersiële kudde met Bovelder-Beefmaster-kruisings, Tuli-beeste en Simmentalers. Die teelkudde bestaan uit 580 beeste. Hy probeer voortdurend om sy kudde se vrugbaarheid te verhoog en hou volgens streng seleksie sy vervangingsverse terug. Hiervoor word by uitstek Tuli-bulle gebruik.

Die Tuli is ’n geharde inheemse bees met ’n natuurlike poenskopgeen. Dit skakel ekstra arbeid uit om die beeste te onthoring. Nog ’n voordeel is die lae geboortegewig, wat geboortegemak verbeter. Kruisteling word voorts toegepas om basterkrag vir swaarder speenkalwers te benut.

Die Simmentalers hou vir hom groot sentimentele waarde in omdat sy pa meer as 40 jaar gelede sy boerdery met een Simmentalerbul en 15 koeie begin het. “Veeboerdery gee stabiliteit in my boerdery, en ek gebruik dit ook om oesreste matig te benut.” Hy is versigtig om die veld volgens die gebied se drakrag van sowat 4,5 ha/GVE te benut.

Die gemiddelde sonneblomopbrengs vanjaar was 1,8 ton tot 1,9 ton per hektaar. Sonneblomme word van middel Februarie tot Mei gestroop. FOTO: LIEZEL DE VILLIERS
Die kommersiële veekudde bestaan uit Bovelder-Beefmaster-kruisings, Tuli-beeste en Simmentalers. FOTO: JÓHANN THORMÄLEN

Bly optimisties

Janse van Rensburg glo onwrikbaar in die toekoms van kommersiële boerdery in Suid-Afrika. “As jy twyfel het in die toekoms van die landbou, dan moet jy vandag ophou. Daar kom dalk ’n geleentheid, maar jy is so pessimisties en bekommerd dat jy dit misloop.” Hy sien die rol van jong boere as vernuwers. “Daar moet nuwe ouens met nuwe idees en nuwe tegnologie inkom, anders kan ons nie voedselsekerheid waarborg nie.”

Hy geniet dit om jaarliks saam met ander belanghebbendes ’n boeredag op Arlington te hou waar boere juis die kans kry om te sien hoe die nuwe tegnologie op die lande ingespan word. “Vroeër jare was daar demonstrasies van nuwe werktuie op Nampo, maar dit is nou nie meer moontlik nie. Hier is ons baie trots om aan mense te kan demonstreer hoe die trekkers en werktuie op die lande loop.”

Janse van Rensburg is van plan om sy pa se voorbeeld na te volg wanneer die tyd kom om sy eie boerdery aan sy dogters oor te dra. “Ek koester hulle met die plaaslewe soos my pa met my gedoen het. Dít is waar my sukses vandaan kom. Dit speel by my nie ’n rol dat hulle dogters is nie. Dit is vir my ’n groot voorreg om hul pa te wees. Dalk word hulle net sulke slim ekonome soos hul ma. Dalk kry hulle mans wat boer en kan hulle ook die boeke oopslaan en sê: ‘Hoor hier, jy bestee tot hier toe en nie verder nie.’ Dit sal ’n goeie wens wees.”

LBW vra . . .

Mnr. Herman Janse van Rensburg

Watter tegnologie is onmisbaar?

Aan die akkerboukant is dit die toevoeging van die GPS, waar grondmonsters met groot presisie geneem word en waar jy regstellings kan doen presies daar waar grond dit die nodigste het. Dan is die selfoon ook onmisbaar omdat dit soveel inligting bied wat jy sommer in jou sak kan kry.

Beste raad wat jy ooit gekry het?

Deur die foute wat jy in die verlede gemaak het, leer jy. Moenie skaam wees om raad te vra by mense wat kundig is nie.

Wie is jou mentor in boerdery?

My pa, Dirk, was een van my grootste mentors. Dan het ek ook ’n paar vertrouelinge wat ek as vriende en sielsgenote beskou – landboukundiges en landbou-ekonome wie se oordeel ek vertrou.

Wat sou jy graag anders wou aanpak?

Ek is geneig om dinge oorhaastig aan te pak. As ’n mens nie oordeelkundig oor ’n ding dink nie, gee jy te veel geld uit. Dié twee dinge loop hand aan hand.

Watter soort grondregstellings doen jy?

Ons gooi kalk na gelang van die behoefte, kyk na die grond se kalsium- en magnesiumverhoudings en gebruik kalsiet- en dolomietbronne om sodoende die mikro-elemente ook in balans te kry. Ons probeer om suurversadiging op nul te kry. Dit help nie ’n mens kyk net na die pH nie. Dit kan lyk asof die verhouding reg is, maar dit is nie te sê jou mikro-elemente is beskikbaar vir die plante nie.

Watter van die werktuie wat jy bou, trek die meeste aandag?

Die Flexmaster – danksy sy veelsydigheid op ’n akkerbouplaas. Dit is ’n baie ekonomiese werktuig ten opsigte van werkwydte en die oppervlakte wat jy kan bewerk. Dit het nie soveel trekkerkrag per tand nodig soos ander werktuie nie. Dit bewaar stoppels en is regtig ’n baie doeltreffende werktuig vir minimum bewerking en vogbewaring. Daarby is die werktuig uitstekend vir onkruidbestryding.

Wat laat jou wakker lê?

Die geleenthede wat môre op my wag. Dit help nie ons bekommer ons oor droogtes of politiek nie. As ek ’n ding wil doen en dit kom nader aan die tyd, begin ek wakker lê oor presies hoe ek dit gaan doen.

Navrae: Mnr. Herman Janse van Rensburg, e-pos: hvherman99@gmail.com; 082 788 3324.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.