Sowat 600 leerders het die Wes-Kaapse provinsiale regering se loopbaan-uistalling bygewoon om meer te leer oor werk- en groeigeleenthede in die landbou. Die uitstalling is deur die provinsiale landboudepartement en Boschendal aangebied en het twee dae geduur.

Mnr. Alan Winde, die provinsie se minister van ekonomiese geleenthede, het die jongmense toegespreek en die waarde van die landbousektor benadruk. “Die landbou is betrokke in amper alles wat ons doen. Die landbou was betrokke by jou ontbyt vanoggend. Van die klere wat julle aanhet, is verbind aan die landbou,” het hy gesê.

“Daar heers ’n wanindruk dat die enigste werkgeleenthede in die landbou vir boere en plaaswerkers is. Dié werk is uiters belangrik, maar ons ekonomie benodig ook spesialiste op die gebied van landbouverwerking en landbouwetenskappe. Julle is die toekoms van ons ekonomie,” het hy begevoeg.

Vir me. Ciara Engel, tans besig met graad nege by South Peninsula-hoërskool, sê die uitstalling het haar oë oopgemaak vir ’n nuwe kant van die landboubedryf. “Baie mense dink net aan plase wanneer hulle van die landbou hoor. Ek het hierheen gekom om meer van die bedryf te leer,” sê sy.

Die Wes-Kaapse regering belê in die huidige finansiële jaar R100 miljoen in programme vir die ontwikkeling van die jeug se vaardighede. Dit sluit in R10 miljoen rand vir jong Wes-Kapenaars wat werkondervinding benodig en net minder as R6 miljoen vir die Landbouvennootskap vir Landelike Jeugontwikkeling. Die laasgenoemde werk saam met tersiêre instansies en die privaatsektor, grootliks met die kinders van mense wat op plase werksaam is, om beurse en internskappe beskikbaar te stel.