Dit kan enersyds voordele inhou en nuwe markte na China oopmaak. Die teendeel is dat Amerika sy surplusprodukte (wat ’n groot verskeidenheid produkte kan behels) elders gaan stort.

Die eskalerende dreigement tussen mnr. Donald Trump, president van Amerika, en China om invoertariewe van tot 25% op sekere handelsgoedere in te stel, het landboumarkte in die eerste twee weke van April erg ontsenu. Dit volg nadat aandelemarkte (die Standard & Poor’s 500, ’n Amerikaanse aandelemark-indeks) in Amerika sedert 26 Januarie met sowat 10% begin daal het.

Sedert Trump tot president verkies is, het aandelemarkte in Amerika aanvanklik met sowat 22% gestyg. Intussen het die aandelebeurs in Amerika begin daal en baie wisselvallig geraak. Dit was namate markdeelnemers begin bang raak het vir Trump se ekonomiese beleid en veral vir sy skynbaar wispelturige beleidsuitsprake.

Internasionale beleggers begin nou om hul beleggings in Amerika se aandelemarkte te verminder. Die doel is om hul risiko’s te verminder terwyl die dollar die laaste jaar met sowat 9% teen die euro verswak het – ten spyte van stygende rentekoerse in Amerika.

Ons weet die Suid-Afrikaanse ekonomie is ’n baie oop ekonomie en die land is baie afhanklik van internasionale markte (dink aan die ou holrug geryde gesegde: As Amerika nies, kry Suid-Afrika ’n verkoue). Dit is nou weer besig om te gebeur.

Suid-Afrika se landbou sal regstreeks beïnvloed word deur die moontlike ontwrigting van die normale handelsvloei. Dit sal strek van die neut- en vrugtebedryf tot by graan, oliesade en vleis. Handel sal ontwrig word en normale handelspatrone gaan nie meer geldig wees as die tariefoorlog wél toegepas gaan word nie.

Dit gaan Suid-Afrika se landbou-uitvoer versteur, maar ook invoer en pryse wisselvallig maak, soos wel in die eerste tien dae van April gebeur het. Sommige mense het groot bedrae geld uit Suid-Afrika geneem teen sowat R15/$. Intussen het die rand versterk (weens ’n swak dollar en beter regering in Suid-Afrika) en aandeelpryse wat met ’n verdere 10% in Amerika gedaal het.

Oliesaadmarkte as voorbeeld

Die nuutste verwikkeling is China wat nou as teenhandeling kennis gegee het dat hy invoertariewe van tot 25% beoog op Amerikaanse uitvoerprodukte na China. Die dreigement sluit veral sojabone in, maar ook ander landbouprodukte, soos varkvleis, mielies en mieliegluten.

Die volledige detail en omvang daarvan is nog nie bekend nie en die tariewe is nog nie finaal vasgestel nie. Dit het aansienlike wisselvalligheid in Amerika se graanbeurspryse veroorsaak, aangesien Amerikaanse boere sowat 33 miljoen ton sojabone per jaar na China uitvoer.

China voer jaarliks meer as 90 miljoen ton sojabone van lande in Noord- en Suid-Amerika in. Chinese kopers probeer nou alternatiewe bronne vir sojabone soek, maar dit word gekompliseer omdat Argentinië tans ’n kwaai droogte beleef. Dié land se sojaboonoes gaan na raming op 37 miljoen ton byna 20 miljoen ton kleiner wees as normaalweg.

Argentinië kan volgende jaar selfs verander van ’n soja-uitvoerder na ’n invoerder van soja. Met die huidige planttyd wat nou aan die gang is, het Amerikaanse boere intussen aangedui dat hulle bykans 900 000 hektaar minder mielies en sowat ’n halfmiljoen hektaar minder sojabone gaan plant (sien tabel 1).

Dit is weens die wêreldwye rekord-mielie- en sojaboonvoorraad en lae dollarpryse. Die afgelope paar jaar was graan- en oliesaadpryse in dollarterme onder aansienlike druk weens die groot internasionale voorraadvlakke. Dit lyk nou of die siklus van ’n opbouende wêreldvoorraad van graan- en oliesaadprodukte aan die omkeer is.

Tabel 2 toon die invoer van sojabone deur China soos dit geraam is vir verlede jaar en wat vir vanjaar verwag word. China gebruik die sojabone hoofsaaklik as oliekoek vir sy sterk groeiende veevoermark, want die Chinese is toenemend besig om vleiseters te word. Hulle verbou genoeg mielies, maar nie genoeg veevoerproteïene nie.

As die 25%-invoertarief wel op Amerikaanse sojabone en ander landbouprodukte gehef word, gaan die Chinese hul aankope wegkanaliseer na ander wêreldstreke. Dit gaan beteken Amerika se betrokke landbouprodukte (onder meer sojabone) gaan 25% duurder wees in China as in ander lande.

Dit sal dan sojaboonproduksie in Suid-Amerika veral volgende jaar baie stimuleer, terwyl Amerikaanse boere hul pryse teoreties gesproke met 25% sal moet laat daal om markte te behou. Soos deels met hoendervleis gebeur het toe die uitvoer daarvan na Rusland gestaak is, gaan dit beteken Amerikaanse sojabone sal ook ’n ander mark moet vind.

Dit kan gevare inhou vir Suid-Afrika se eie boere as Amerikaanse sojabone heelwat goedkoper hierheen begin kom. Amerikaanse graan- en sojaboonboere wat Trump gesteun het, begin nou benoud raak. Hy het egter belowe dat hy hulle ekstra subsidies sal gee, wat nóg ontwrigting kan veroorsaak.

Amerika het vyfjaar-landboubeleidsbegrotings en -planne waarvolgens subsidies en steun aan dié land se boere aangepas word. (Dié planne word tans vir die volgende vyf jaar geformuleer). Die geskiedenis het ook gewys dat veranderings aan die Amerikaanse beleid via wêreldmarkte ook Suid-Afrika se landbou beïnvloed.

Wat presies in die nuwe Amerikaanse beleidsbenadering tot die landbou gaan wees, is nog onduidelik. Trump het ook heelwat belastingverligting aan besighede gegee, wat beteken die groter tekort op die begroting word nou met bykomende staatskuld gefinansier. Suid-Afrika se sojaboonproduksie is tans in ’n sterk uitbreidingsfase. Die verwagting is dat plaaslike boere vanjaar net so duskant 1,4 miljoen ton sojabone gaan oes.

Die grafiek toon die verloop van hoe Suid-Afrika se sojaboonproduksie uitbrei. Plaaslike verwerkingsvermoë van sojabone het min of meer tred gehou daarmee. Daar is selfs ’n moontlikheid dat Suid-Afrika sojabone na China kan uitvoer mits aan die uitvoervereistes voldoen kan word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.