In Amerika verdubbel ’n gemiddelde boerdery sowat elke tien jaar in grootte, blyk uit statistieke. Dit word aangespoor deur die skaalekonomie en pryse wat met verloop van tyd in reële waarde laer neig. Heelwat navorsing word gedoen oor die noodsaak om jou boerdery deurlopend te laat groei, asook wat die slaggate en rigtingwysers is. Die departement landbou-ekonomie aan die Purdue-universiteit in Indiana is bekend om sy leiding in dié verband aan boere.

In Suid-Afrika word die vraag ook gereeld deur boere gevra, veral omdat grondonteiening sonder vergoeding gereeld ter sprake is. Daarby speel die droogte in baie dele van die land ’n rol. Boere wonder of hulle uitbreiding moet oorweeg of net moet “stilsit”. Daar kan baie redes wees om uitbreiding aan te moedig. Talle boerderye oorweeg uitbreiding as daar gesinslede na die plaas kom, as die bestuur onderbenut en ook as die toerusting onderbenut is.

Navorsing toon dat groter sake-eenhede neig om laer produksiekoste per eenheid te hê. Namate produksie uitbrei, neig koste per eenheid laer. ’n Groter boerdery het ook groter bedingingsmag met die aankoop van insette en bemarking. Natuurlik is daar perke. Koste kan begin styg as alles nie ordentlik bestuur word nie. Dit gebeur as té vinnig of té groot uitgebrei word en die sogenoemde “disekonomie” van skaal intree.

Die grafiek toon die tipiese patroon wat koste verduidelik met ’n uitbreiding in produksie met dieselfde kapitaalbasis. Namate produksie styg, kan eenheidskoste verlaag. Die groot vraag is waar die optimale produksie is voordat koste weer begin toeneem.

Groei-opsies

Voordat oor ’n groeistrategie vir die boerdery of besigheid besluit word, is een van die kernvrae watter benadering gevolg gaan word: ’n Kommoditeitsbenadering met ’n strewe na die laagste koste per produksie-eenheid, of ’n gedifferensieerde produk wat waardetoevoeging insluit en ’n hoër prys (en marge) as ’n kommoditeit realiseer.

Op ’n kommoditeitsmark oorleef die boerdery met die laagste koste per eenheid die langste. Terselfdertyd moet ’n mens in gedagte hou dat uitbreiding nie bloot meer en groter grond is nie. Dit is ook vertikale uitbreiding (meer intensief) en dit kan ook diversifikasie na ’n ander streek of bedryf insluit.

Die benadering om in net een bedryf of kommoditeit te spesialiseer, het ten doel om doeltreffendheid deur goeie bestuur te verhoog, koste per eenheid te verlaag, en om die omset met dieselfde bates te verhoog en dus opbrengs op bates te verbeter.

Die ander opsie is om as jy byvoorbeeld ’n graanboer is, ’n veekomponent by te kry om só meer waarde uit jou graan te ontsluit. Dit is ’n manier om jou risiko te diversifiseer tussen twee bedrywe of streke en hul verskillende prys- en klimaatsiklusse. Sommige boere probeer een boerderyvertakking hê wat binnelands bemark en ’n ander wat op die uitvoermark gerig is. (Wolskape doen toevallig albei.)

Faktore wat ’n rol speel

Voordat oor uitbreiding besluit word, is dit belangrik om te besin oor die dryfvere op die pad vorentoe en om daarbinne aan te pas. Dis ook belangrik om te verstaan wat die vaardigheidsbasis en unieke voordele van die bestaande besigheid is. Die boer moet bepaal of hy met sy bestaande bates en toerusting kan uitbrei en of groot, nuwe beleggings gemaak moet word.

Die risiko met uitbreiding na nuwe bedrywe is altyd dat jy baie skoolgeld kan betaal. ’n Deeglike begroting en kontantvloei- raming is noodsaaklik om te kan bepaal of die bestaande besigheid wel die kapasiteit het om uit te brei.

Die ideaal is om produksie met bestaande bates uit te brei. Die sakegesegde lui dat jou bates moet “sweet”. As bates nie optimaal benut word nie, word gepraat van ’n lui balansstaat. Soms misluk uitbreiding omdat baie meer geld nodig is as wat beskikbaar is, en bestuur nie die diepte gehad het om die uitbreiding te bestuur nie.

BELANGRIKE VRAE

Hoe moet potensieel nuwe uitbreidings beoordeel word?

Suksesvolle boerderye het gewoonlik vele opsies om uit te brei, maar wat pas die beste by die bestaande aktiwiteite?

Wat is die risiko’s en die kapitaal wat benodig word?

Watter bestuursvaardighede gaan van die eienaar vereis word en hou dit darem effens verband met sy bestaande besigheid en bates?

Hoe lyk die mededingers?

Watter vaardighede is nodig vir die uitbreiding?

Jy en jou span of familie moet vasstel wat jul vaardighede en sterk punte is. Kan jy bekostig om die ontbrekende vaardighede te huur? Wanneer ’n familie of besigheid ’n lys van sy interne vaardighede en sterk punte maak, is dit dikwels baie makliker om ’n nuwe geleentheid vir uitbreiding te bepaal met dit wat reeds tot jul beskikking is.

Hoe word die uitbreiding gefinansier? Baie boerderye en familiebesighede onderskat die kapitaalvereistes vir ’n nuwe projek. Die ander fout is om te dink jy gaan dit uit lopende kontantvloei finansier. Dit plaas dan baie groot druk op die bestaande besigheid. Daar is verskillende finansieringsopsies beskikbaar om bykomende bates te bekom en om die terugbetalings volgens die verwagte kontantvloei te organiseer. Dit is ’n kernbeginsel om die terugbetaling aan te pas by die leeftyd en kontantvloei wat die uitbreiding genereer. Wanneer boerderye na langertermyngewasse uitbrei, probeer hulle dikwels die nuwe aanplanting uit bestaande kontantvloei finansier, maar hou nie rekening daarmee dat dit ’n hele aantal jare kan duur voordat daar surpluskontant is nie. Die gevolg is dat die bestaande besigheid onder geldelike druk kom. Die dilemma is dat wanneer jy kontantvloeiprobleme ondervind en ’n finansier nader, hy dalk nie te gretig sal wees om te help nie. Daarom moet jy seker maak dat voldoende finansiering beskikbaar is.

Watter sakemodel gaan gebruik word? In Suid-Afrika word uitbreidings gewoonlik binne die bestaande besigheid gedoen. In Amerika en ander lande neem die neiging toe om beleggers of entrepreneurs van buite te betrek. Jonger boere is meer bereid om suksesvolle persone en besighede as vennote te betrek.

Baie boerderye verkies om nuwe uitbreidings as ’n losstaande entiteit staan te maak, veral as dit ’n ander vertakking is. Van die oorwegings hiervoor is kapitaalwinsbelasting en boedelbelasting, want Suid-Afrikaanse ondernemings dra van die hoogste belastingkoerse ter wêreld. Dit is belangrik vir die voortbestaan van veral ’n familiebesigheid dat die struktuur belastingvriendelik teenoor die eienaars is.

Hoe gaan uitbreiding my bestaande besigheid beïnvloed? Daar moet deeglik verreken word hoe die uitbreiding jou balansstaat en kontantvloei gaan beïnvloed. As die koste van die nuwe uitbreiding onderskat word, sal jy met verswakte finansiële state om ekstra finansiering moet gaan aansoek doen.

Het jou onderneming die bestuurskapasiteit om genoeg aandag aan die bykomende verantwoordelikhede te gee, sonder om die bestaande besigheid te verwaarloos? Baie boerderye het al in die slaggat getrap dat die nuwe uitbreiding soveel aandag verg dat die bestaande besigheid in die moeilikheid raak.

SLIM UITBREIDING

Daar is baie goeie redenasies en sakebeginsels vir die uitbreiding van ’n boerdery: spesialisasie, diversifikasie en die keuse van horisontale teenoor vertikale uitbreiding. Uitbreiding beteken in baie gevalle nie dat meer grond gekoop moet word nie. Dit kan wees om dit wat reeds gedoen word, vertikaal uit te brei en in ’n kommoditeit of produk te spesialiseer en sodoende die eenheidskoste te verlaag.

Onthou, die doel is om koste per eenheid te verlaag, kontantvloei te verbeter en risiko beter te bestuur. Dit is een van die redes waarom dit makliker vir ’n bestaande boerdery is om byvoorbeeld ekstra saaigrond te koop wat hy kan bewerk, sonder om ekstra werktuie aan te skaf. Die belegging in werktuie is wesenlik en as die koste suksesvol oor meer hektare versprei kan word, werk die som.

Dit geld ook om die getal melkkoeie op ’n plaas te vermeerder en dieselfde infrastruktuur te benut. Die afgelope tyd het ’n model ontstaan waar ’n buitebelegger die ekstra koeie aankoop en dan aan die bestaande boer “verhuur”. Die boer hoef nie ekstra kapitaal in die aankoop van koeie te belê nie, en sodoende verlaag sy eenheidskoste en risiko.

Die uitbreiding kan ook na ’n nuwe produk of meer gespesialiseerde produkte wees, veral in ’n ander streek as waarin die bestaande boerdery is, soos buite die grense van Suid-Afrika.